2017 AUDI SQ5 Min veranderinge aan ‘n wenresep

2017 AUDI SQ5 Min veranderinge aan ‘n wenresep

As Audi se Q5 ‘n gereg of dis was, sou dit verseker opgeneem wees as ‘n wenresep in een of meer glanskookboeke. In 2008 toe sportnutse, anders as deesdae, nog in die skadu van sedanmotors moes ry, het Audi die eerste Q5 bekendgestel, maar soos ‘n goeie melktert op ‘n kerkbasaar was dit nie lank nie toe wil almal een koop. Audi het die Q5 gemik op jonger gesinne en daarmee goud raakgeboor, want vir etlike jare daarna was die Q5 Audi se topverkoper wêreldwyd.

 

Die tweede generasie Q5 is uiteindelik bekendgestel en het ook vroeg in die derde kwartaal sy verskyning in Suid Afrika gemaak met drie modelle, naamlik die 2.0TFSI, die 2.0TDI en ‘n warm SQ5 weergawe toegerus met ‘n 3.0 liter turboaangejaagde petrolenjin. Ons het beide eersgenoemde en laasgenoemde onlangs vir ‘n week onder hande gehad.

 

Die nuwe Q5 word gebou op die Volkswagengroep se MLB Evo-platform wat ondermeer ook ingespan word vir die  jongste generasie A4 en Q7 modelle. Die gevolg is dat die nuwe Q5 modelle langer en breër is maar tog 90kg in gewig verloor het. Die stilering is verfraai en varser gemaak, sonder dat daar drastiese veranderinge gemaak is. Die algemene voorkoms van die nuwe model, veral van voor betrag, lyk egter geheel anders as as die vorige model met duidelike ooreenkomste van die groter Q7 wat sterk deurslaan.

 

Die sterk familieooreenkomste laat die nuweling nou veel beter lyk in metaal. Die hoekerigheid en sterk aksentlyne langs die kant asook die skerp gedefinieerde lyne oor die neus bring ‘n sportiwiteit na die nuwe Q5  en dra by dat die voorkoms nou platter, breë en meer sportief daaruit sien. Die silwerkleurige sierrooster van ons toetsmodel en die groot luginlate onder in die hoeke van die voorste buffer dra ook ‘n sterk boodskap van aggressie.

 

Binne is die kajuit nou ook veel meer modern. Ek bly ‘n groot aanhanger van Audi kajuite se voorkoms, ergonomie, skakelaars en instrumentasie uitleg.  Die materiale en afwerking is tekenend van hoogstaande gehalte en vakmanskap en ons SQ5 se ontwerptema is sportief onderstreep met strategies geplaaste insignia en verskeie gepoleerde dowwe aluminium invoegsels. Die groter kajuit bied gemaklike sitplek vir vyf volwassenes met die agterste sitplekke se rugleunings  wat kan platvou om die groot laairuim verder te vergroot.

Die jongste Audi modelle is tegnologies aan die voorpunt met die nuwe Q5 geen uitsondering en is die nuwe reeks modelle beskikbaar met ‘n lang lys van Audi se nuutste digitale elektronika en bykomstighede. Ons toetsmodel was onder meer toegerus, as ‘n opsionele ekstra, met Audi se innoverende “Virtual Cockpit”- stelsel met ‘n groot digitale skerm agter die stuur. Die stelsel laat die bestuurder toe om ‘n reeks fassinerende opsies in hoë definisie beelde, met ‘n keuse van onder meer anoloog of digitale instrumente, satnav, rit/motor inligting, radio/klank te gebruik en alles met behulp van skakelaars op die stuurwiel te beheer.

 

Audi het die 2017 Q5 reeks plaaslik met drie enjin weergawes beskikbaar gestel. Kopers kan egter hul basismodel verder optooi met ‘n Sport-Line pakket. Al die modelle in die reeks kom toegerus met Audi se befaamde Quattro vierwielaandrywing wat nou opgegradeer is en bekendstaan as “Quattro Ultra” of wat Audi ook noem “Quattro-on-Demand”. Die stelsel trek meestal deur die voorwiele maar sodra die blikbrein agterkom die agterwiele moet nou saamwerk, word die krag ook na die agterwiele gestuur maar later weer “onttrek” as normale bestuursomstandighede dit toelaat.  Beide die diesel en petrolmodel kom met ‘n 7-gang outomatiese ratkas wat sewe ritmodusse bied waarvan “Lift/Offroad” en “Allroad” nuwe toevoegings is.

 

Die  2,0 liter TFSI word aangedryf met ‘n turbo aangejaagde viersilinder petrolenjin van 1984cc wat 185kW se piekverrigting lewer met maksimum wringkrag van 370Nm. Die 0-100kpu lopie neem 6,3 sekondes en  Audi se amptelike verbruiksyfer word aangegee as 6,8l/100km. Die intreeprys op die 2.0TFSI is R747,500-00. Die 2,0TDI kom met ‘n 1968cc viersilinder dieselturbo kragbron wat 140kW en 400Nm se pieksyfers lewer. Die 0-100kpu lopie neem 7,9 sekondes met ‘n amptelike brandstofverbruik van 4,9l/100km. Intreeprys vir die 2.0TDI begin by R698,000-00.

 

Die warm SQ5 is toegerus met ‘n V6 turboaangejaagde petrolenjin van 2995cc. Hierdie lewendige enjin bied 260kW en 500Nm se maksimum verrigting en neem slegs 5,4 sekondes om die 0-100kpu lopie af te blits. Aandrywing is Audi se heerlik gladde en blitsvinnige 8-gang outomatiese S-tronic ratkas wat ook met spane agter die stuur beheer kan word. Amptelike brandstofvebruik vir die SQ5 word aangegee as 8,3l/100km.

 

Op die pad was die SQ5 ‘n fees om te bestuur. Jaag jy die toere in die rooi met die ratkasmodus op Sport gestel, is verrigting verstommend met die V6 turbo wat ‘n indrukwekkende kakofonie van roggelende gromme na ‘n skor brul laat oorgaan om uiteindelik teen maksimum toere ‘n hoë sensoriese geskree deur die uitlaatstelsel te jaag as jy die regtervoet geplant hou! Die Quattro viertrekstelsel bied ongelooflike vlakke van greep deur die draaie met die onderstel en veerstelsel wat min bakrol toelaat. Op die grondpad is hantering uitsonderlik, maar die ratkasmodus moet liefs in die “Comfort” verstelling wees vir ‘n gemaklike en selfs sagte rit.

 

Die SQ5 bied ‘n welkome toevoeging tot die bestaande opsies van die verrigting sportnutse tans beskikbaar. Met hoë vlakke van toerusting en weelderige afwerking is die pryskaartjie van

R1,044,000-00 seker te verstane.

 

Die 2017Audi Q5 reeks is ‘n finalis van die 2018 Wesbank SAGMJ Motor van die Jaar kompetisie.

Die skrywer is een van die Jurielede wat die finalist moet evalueer om vroeg Maart 2018 die wenner te kan aanwys.