2017 SUZUKI JIMMY EN TEAM TANE

2017 SUZUKI JIMMY EN TEAM TANE

7 000 km, vyf berge, twee avonturiers en een tawwe Jimny

 

Diep in die hartjie van Afrika, in die skadu van die Maangebergtes tussen die Demokratiese Republiek van die Kongo en Uganda, staan ’n tawwe klein Suzuki Jimny en wag op sy eienaars.

Die 2011 Jimny heet “Badger” en hy is die spanvoertuig vir Team Tane op hul Africa Sky High Adventure deur 10 lande in Afrika. Met hierdie avontuur beplan Team Tane om die vyf hoogste bergpieke in Afrika te klim en op die koop toe met Afrika te spog aan hul mede-landsburgers en aan die res van die wêreld.

 

Team Tane bestaan uit die avonturiers Tarryn en Shane Quinnell, wat reeds verskeie avonture in Afrika en elders ter wêreld onderneem het. Die egpaar het op 29 April uit Suid-Afrika vertrek en het reeds deur Botswana, Zambië, Tanzanië en Rwanda gereis op pad na die eerste drie groot berge in die Maanberg-reeks.

 

“Daar was al soveel hoogtepunte in die eerste twee maande van ons reis,” sê Tarryn. “Die dierelewe en ruig plantegroei, die verafgeleë dele van Botswana en die besonder vriendelike mense in Zambië en Rwanda staan veral uit.

 

“Vir my was die helder water van die Tanganjika-meer iets besonders en om saam met die plaaslike mense van Kigoma in Tanzania te stap na die mango-boom waar die avonturiers Stanley en Livingstone mekaar ontmoet het.”

 

Met twee maande agter die blad het Team Tane al heelwat avonture beleef. In Botswana moes hul deur die sopnat Makgadigadi-panne ry en ná die tyd hul rem-dromme skoonmaak van die dik modder. Hul moes ook al een van die kant-stange op ’n voorwiel regmaak nadat hulle ’n diep gat in die pad getref het.

 

“Die Jimny beïndruk ons elke dag net meer. Die voertuig is sonder fout, ten spyte van die harde kilometers sinkplaat-stofpad en veldryery. Ewe indrukwekkend is die feit dat die Jimny slegs 9.9 liter / 100 km gebruik, terwyl hy met 400 kg bagasie gelaai is,” sê Shane.

 

Volg gerus Team Tane se #SuzukiAfricaSkyHigh Afrika-avontuur op hul webruimte by www.teamtane.com, by https://twitter.com/TeamTane2 op Twitter, https://www.instagram.com/teamtane/ op Instagram en https://www.facebook.com/teamtane/