2018 Toyota Hilux 2.8 GD-6 Dubbelkajuit 4×4 Raider

2018 Toyota Hilux 2.8 GD-6 Dubbelkajuit 4×4 Raider

Stylvolle vars voorkoms gaan bydra tot selfs groter gewildheid

Toyota SA het gedurende Julie 2018 die Suid-Afrikaanse mark bederf met ‘n nuwe Hilux Dakar Edition reeks bakkies en ‘n maand later sy 2018 Hilux bakkie reeks bekendgestel met ‘n vars en stylvolle voorkoms soorgelyk aan die van die Dakar-modelle. In die proses het Toyota sommer ‘n paar verstellings en verfynings aangebring ten einde sy tradisionele kopers se smake te pas.

 

Die topmodelle in die reeks soos die 2.4GD-6 SRX en 2.8 GD-6 Raider (enkel, dubbel en Xtra cab-weergawes vir elkeen) het nou ook die “Dakar”-voorkoms met ‘n groter en dieper en sierrooster en buffer met die SRX-modelle wat in swart afgewerk is en die Raider se rooster wat met ‘n blink chroom rand spog.

 

Die nuwe top modelle vertoon veel meer modern as die uitgaande modelle waar veral die nuwe sierrooster en hoofligte met LED dagryriggies geintegreer, visueel tref. Swart aksentuering is deesdae baie gewild en Toyota het dit buite asook binne die kajuit gebruik met ons blou toetsmodel vlagskip 2.8 GD-6 Raider 4×4 dubbelkajuit waarvan die blink omboorde swart sierrooster treffend beklemtoon is.

Die breë swart luginlaat met ‘n heuningkoek-roosterontwerp onder die buffer het ook die oog getref. Die misligte aan weerskante onder in die buffer is in swart  gemonteer en smaakvol met chroom omrand terwyl  blink deurhandvatsels, kantspieëls, agterklapknip en rolstaaf die prentjie afrond.

 

Binne is die kajuit merendeels in swart afgewerk soortgelyk aan die Dakar-modelle met ook die dakvoering in swart afgewerk en blinkswart afwerkings in die voorpaneel en deurpanele. Die raakskerm info-paneel bied nou satelietnavigasie as standaard en kan ook DVD’s speel. Verder is Bluetooth en USB aanpasbaarheid nou standaard met skakelaars op die stuurwiel vir klank-, telefoon- en spoedbeheer-funksies. Ons vlagskip Raider model is standaard toegerus met  18” allooiwiele en 265/60R18, ‘n lugverkoelde paneelkissie, outomatiese klimaatbeheer, leerafwerking op die stuurwiel en rathefboom, spoedkontrole en 7 lugsakke ingesluit gordyn-tipe kantsakke asook by die knieë. Daar is ook 12V en 220V sokke en ‘n armleuning met bekerhouers vir die agterste sitplek.

 

Terwyl die veranderings ooglopend slegs kosmeties is, was daar vir ons tog merkbare verandering in die ritgehalte en stuurgevoel van die nuwe bakkie. Die kajuit was verbasend stil met min pad- en windgeraas selfs teen platvoetspoed. Die nuweling het padvas en stuurgetrou gevoel met ‘n algehele verbetering in die paddinamika op die teerpad. Aandrywing by die opgedateerde “nuweling” is steeds deur Toyota se jongste 2,8 liter turboaangejaagde dieselenjin wat 130kW lewer. Hierdie krag word deur ‘n 6-gang handratkas (420Nm) of 6-gang outokas (450Nm) pad toe gestuur. Ons toetsmodel was die handratweergawe.

 

Ek het die sleutels vir ons 4×4 ghoeroe Andre de Clerck gegee om die 2018 Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 handrat onder meer in die tawwe Weskus sand en veld te gaan toets en hier volg sy indrukke :

 

“Die eerste en mees opmerklike verskil tussen die nuwe  weergawe en die vorige Raider is die nuwe vooraansig van die bakkie. Dit laat mens dink aan die groter Tundra weergawe wat in die VSA verkoop word. Die nuwe neus skep die indruk dat die voorste oorhang by die uitgaande model nou korter vertoon. Die volgende verskil is die LED hoofligte – wat alreeds in ander lande van die begin af beskikbaar was. Die ligte gee die bakkie so bietjie meer “flair”. Volgens my is die grootste en mees praktiese verskil egter die swart  bekleedsel wat ook  in die Dakar model dien, asook die swart afwerking van die dakvoering en panele in die kajuit. Ek kon nie spesifiek bepaal wat verander is aan die veerstelsel nie, maar kon tog agterkom dat die nuweling beter hanteer op die teer sowel as grondpad. Ek dink ek moet net noem dat die nuwe Raider model in 4×4 formaat met die volgende as standaard toerusting beskikbaar is:

 

Voertuig stabiliteit beheer(VSC)

Aktiewe Traksie beheer (A-Track)

Elektroniese  Remkrag verspreiding (EBD)

Remhulp beheer (BAS)

Anti-sluit remme (ABS)

Heuwel aanskakel hulp (HAC)

Heuwel-af hulp  (DAC)

Treiler swaaibeheer (TSC)

Ewenaarslot –slegs agter

 

Die Hilux se veldryvermoë maak dit steeds ‘n relatief “maklike” bakkie om van die pad af moeiteloos te ry. Veldry, sandry, moeilike terrein ingesluit, het die nuweling alles gedoen wat vereis is en elke uitdaging is sonder enige probleme suksesvol oorkom. Hierdie “gemaklike” veldryvermoë dra verseker ook by tot die Hilux se gewildheid en status as topverkoper in sy segment.”