37 Jaar Gelände/Straße Artikel: Johann van Tonder

37 Jaar Gelände/Straße Artikel: Johann van Tonder

Dis moeilik om te glo dat dit reeds 37 jaar is sedert BMW hulle eerste “G/S” motorfiets bekend gestel het. “GS” motorfietse is die gewilde reeks van dubbel doel motorfietse wat mens beide op en teer en kan gebruik. 37 Jaar gelede was daar heelwat skeptici oor die nuwe konsep. Mense was óf mal daaroor, óf hulle het glad nie daarvan gehou nie, maar 37 jaar later weet ons dat dit die begin was van ‘n motorfiets reeks wat vandag BMW se beste verkoper is.

 

1980 – ‘n Nuwe Era

 

Daar was groot verbasing toe BMW by die motorfiets skou in Cologne in September 1980 hulle nuwe BMW R80G/S met ‘n boxer masjien onthul. Hier was iets wat lynreg gebots het met die neigings van die tyd. ‘n Groot fiets, wat gemaklik die oop pad kon aandurf, wat genoeg krag en spoed gehad het, maar terselfde tyd ook die bos paadjies, rowwe passe en woestyne kon aandurf en boonop nog genoeg bagasie kon dra. Tot en met hier was mense wat wou toer met bagasie beperk tot pad fietse, maar BMW het bewys dat jy ‘n pad fiets, ‘n toer fiets en ‘n veld fiets alles in een fiets kon hê. Die nuwe konsep was ‘n reuse sukses. Teen die einde van 1981 het BMW reeds ‘n totaal van 6631 eenhede verkoop, meer as dubbel die hoeveelheid eenhede wat beplan was. Skielik was die BMW R80G/S die eerste keuse fiets vir motorfiets ryers wat avontuur gesoek het en wat kontinente wou oorsteek.

 

In 1981 het BMW weer begin deelneem aan die Parys tot Dakar wedren en die potensiaal van die R80G/S, veral met ombouings deur die klein maatskappy HPN, was dadelik sigbaar. Resultate het gevolg en die gewildheid van die R80G/S het wereldwyd die hoogte in geskiet. Waar BMW gesukkel het om kop bo water te hou in die laat 70’s met sterk kompetisie vanaf Japan, het hierdie nuwe konsep motorfiets groot vrugte afgewerp.

 

In laat 1984 stel BMW die “Paris-Dakar” weergawe van die R80G/S bekend. Hierdie model het gespog met ‘n groter 32L petrol tenk, ‘n enkel sitplek, meer pakplek en hy het gou in die volksmond as die “Dakar” bekend gestaan. Groot getalle kliente het die “Dakar” bo die standaard R80G/S verkies en heel gepas wen BMW weer die Parys na Dakar wedren in 1985 en 1986 vir ‘n totaal van 4 wenne in 5 jaar. Na verdere suksesse in die Amerikaanse Baja woestyn ren was die R80G/S reeds ‘n legende in eie tyd. Teen Julie 1987 het BMW reeds 21 864 eenhede van die R80G/S verkoop en die probleme van die laat 70’s was lank reeds iets van die verlede.

 

In 1987 stel BMW die R100GS bekend, ‘n sterker 980cc weergawe van die R80GS. Baie van die verbeteringe was spesifiek gemaak na daar geluister is na die veranderinge wat die BMW motorfietsryers graag sou wou sien. Die nuwe fietse was gemakliker en het gespog met beter remme, nuwe tegnologie en spesifiek ook die gepatenteerde speek wiele wat van binnebandlose bande gebruik kon maak. ‘n Groot sprong vorentoe vir hierdie reeds legendariese fietse. Die nuwe modelle was goed ontvang en die verkope van hierdie modelle het selfs die syfers van die eens gesogde R80G/S oorskadu.

 

Net soos met die R80G/S “Paris – Dakar” het daar met die R100GS ‘n behoefte ontstaan vir ‘n doelgeboude fiets waarmee die uithoeke van die aarde verken kon word. Aanvanklik was daar net ekstra toebehore vir die R100GS beskikbaar om hom vir lang reise aan te pas, maar in Maart 1989 word die eerste volledige R100GS “Paris – Dakar” modelle uit die fabriek gestoot.

 

BMW het reeds in 1986 hul betrokkenheid by die Parys na Dakar wedren begin afskaal, maar privaat renjaers het steeds sukses behaal en met so bewysde bloedlyn was die voortbestaan en sukses van hierdie model verseker. Teen 1996 het BMW reeds meer as 45 000 van die R 80 GS / R 100 GS modelle verkoop.

 

Dertien jaar na die eerste R80G/S se bekendstelling onthul BMW die nuwe R1100GS. Hierdie was die eerste boxer masjiene met 4 kleppe en die vloeiende lyne van die R1100GS, asook die voortbou op die tegnologie van die vorige modelle, het verseker dat ook die R1100GS ‘n onmiddelike sukses was. Hierdie fiets het onder andere gespog met ABS remme wat soos die binnebandlose speekwiele ‘n eerste was op ‘n fiets in die klas. Teen hierdie tyd het die GS fietse al ‘n kultus gevolg gehad en ‘n totaal van 43 628 R1100GS modelle is verkoop. BMW het egter nie ophulle louere gerus nie en in 1998 toets BMW ingeneurs reeds die R1150GS wat in September 1999 bekend gestel word. In 2002 volg die R1150GS Adventure en na die televisie reeks “Long Way Round” waarin akteurs Ewan McGregor en Charley Boorman met R1150GS Adventures om die aarde ry oortref hierdie model alle modelle wat hom vooraf gegaan het met 71 137 eenhede verkoop tussen 1999 en 2004 – een van die suksesvolste motorfiets modelle ooit.

 

In die somer van 2004 lig BMW die sluier vanaf die R1200GS. Die opvolger van die ontsettend gewilde R1150GS was, soos die modelle voor hom, ‘n onmiddelike sukses. Nie net was hierdie fiets groter en kragtiger nie, hy was ook 30kg ligter. ‘n Jaar later was die R1200GS Adventure beskikbaar en met aanhoudende verbetering op die model jaar na jaar het die verkope selfs die van die R1150GS oortref. In 2012 by Intermot kondig BMW aan dat die GS vir die eerste keer waterverkoel sou wees. Hardebaard entoesiaste was eers skepties, maar ook die model het homself sedertdien as gunsteling bewys. Oor 37 jaar het die GS ontwikkel tot ‘n groot toer fiets wat nie terug staan as die pad rof raak nie. Ten spyte van die fiets se grootte is dit ‘n gemaklike fiets wat verbasend goed hanteer, toegerus met al die tegnologiese wonders wat mens verwag in ‘n fiets gebou in die 21ste eeu.

 

Ons het die voorreg gehad om die media bekendstelling van die nuutste 2017 R1200GS by te woon en ons kan al die spesifikasies weergee, ry indrukke oordra en tot ‘n slotsom kom, maar hoekom? Dis ‘n “Gelände/Straße“. Amper vier dekades later spreek die fiets vir homself. Dis nie nodig om by te voeg nie.