Baie waarde in die Tweedehandse Mark Op soek na ‘n Premium Sportnuts – onder ‘n Miljoen!

Baie waarde in die Tweedehandse Mark  Op soek na ‘n Premium Sportnuts – onder ‘n Miljoen!

‘n Koel miljoen. Dié woorde rol deesdae so maklik oor die tong, veral as daar van premium voertuie gepraat word. En dis gewoonlik net die begin, want agter die miljoen word die ekstra honderde duisende van die prys nog bygelas. Een komma ses miljoen. Een komma drie miljoen. So asof dit niks is nie. Nie dat die voertuie wat die pryse haal sleg is nie, inteendeel, in baie gevalle bied die voertuie die voorpunt van verrigting en tegnologie.

Maar hoe gemaak as jy nie eers heeltemal by die “miljoen” kan uitkom nie, wat nog van die “komma” daarna? Ons het gaan soek vir regte premium voertuie. Nie te oud nie, verkieslik goeie verrigting, iets wat die hartsnare sal roer. Maar belangrik: Onder ‘n Miljoen! Wat ons gekry het, het selfs vir ons verbaas. Alfa, Range Rover, AMG. Glad nie sleg nie! Soepel op die oog en in ag genome wat die eerste eienaars nuut betaal het, waarde vir geld.

Ons het die Alfa vir ‘n spin gevat. Watter petrolkop sou nou nie ‘n Alfa wou bestuur nie. Die nuwe Stelvio is ‘n rasegte Alfa, al is dit Alfa Romeo se eerste poging om ‘n SUV te bou. Ons moet bely dat toe die nuus van die Stelvio internasionaal bekend word, was ons redelik skepties. Die Giulia is ‘n uitstekende kar, maar Alfa en SUV is soos braaibroodjies en krummelpap. Dit hoort net nie saam op een bord nie. Maar die Stelvio het ons verras, nee uitgeboul!
Binnekant vertoon die Stelvio luuks en goed toegerus. Die sportiewe leersitplekke sit lekker en gemaklik terwyl die kajuit verbasend ruim is. Die materiale en vakmanskap spreek van kwaliteit en algeheel is daar ‘n premium gevoel aan die kajuit. As die netjies uitgelegde instrumentepaneel en skakelaars jou aan die Giulia herinner, sit jy in die regte kar, want baie van die skakelaars, die stuurwiel, ronde beheerknoppe in die middelkonsole en selfs die aansitter op die stuurwiel is net so uit die Giulia se onderdelekas geneem. Die inligtingskerm is soos met die Giulia netjies in die voorpaneel ingebou en vertoon deftiger as deesdae se “tabletskerms” wat losstaande vasgebou word by van die Duitse modelle. Dit werk gerieflik en bied satelietnavigasie asook gemaklike koppeling en integrasie via Bluetooth.
Die Stelvio word aangedryf deur ‘n 2,0 liter viersilinder petrol enjin met ‘n “twin-scroll” turbo vir aanjaging. Piekverrigting is 206 kW met ‘n skaflike maksimum wringkrag van 400Nm. Met al die gewig eweredig (50/50) tussen die voor- en agteras versprei word balans, hantering en verrigting op die pad bevoordeel. Voeg daarby ‘n 8-gang outokas wat via Alfa se Q4- vierwielaandrywingstelsel al die krag onder normale omstandighede na die agterwiele te stuur en jy het ‘n resep vir ‘n heerlike bestuurservaring. Sou die agterwiele egter begin greep verloor stuur die slim stelsel tot 50% van die krag na die voorwiele – en glo my dit werk! Die bestuurservaring is die van ‘n agterwielaangedrewe motor wat net aanhou klou en nie wil gly nie! ‘n Keuse van 3-ritmodusse is beskikbaar, naamlik dinamies, normaal of ekonomies.

Tydens ons toetsrit het ons roete ons deur die bergpasse geneem en ons kan eerstehands getuig van die Q4-stelsel se uitsonderlike balans en traksievermoëns op teer en grond. Die 0-100kpu lopie neem slegs 5,7 sekondes en topspoed is 230kpu. Terloops, die pragtige skor uitlaatklanke by hoë toere is musiek in die ore!

Op die pad is die Stelvio se paddinamika en bestuurdersgevoel meer van ‘n blitsbuks as ‘n nutswa.
Baie goeie greep, uitsonderlike onderstelbalans wat ondervang word met ‘n gesofistikeerde dubbelmik veerstelsel, bied uitstekende stuurgevoel en terugvoer in, deur en uit van die mees uitdagende draaie waarmee ek die Stelvio gaan toets het. Dit is soortgelyk en selfs beter as van sommige peperduur verrigtingwaens.

Dit gesê, die Alfa bevind hom in uitgelese geselskap wat ons “Premium Sportnuts vir onder ‘n Miljoen” soektog aanbetref. Baie mense sou dalk direk vir iets Duits gemik het. Ons glo egter in die leuse: “Bestuur eers als en maak dan ‘n ingeligte besluit.” En wat ‘n heerlike verrassing was die Alfa toe nou nie.