En SA se gunsteling SUV is…

En SA se gunsteling SUV is…

Artikel: Charlen Raymond

 

Stel jou voor: elke maand word meer as 1000 eenhede verkoop van ‘n voertuig wat tussen R450 000 en R670 000 prys. En elke maand is daar kopers wat op ‘n waglys geplaas word omdat daar nie genoeg voorraad is nie. En dis die lekker predikament wat Toyota mee sit wanneer daar van sy Fortuner gepraat word. Dis reg, die Fortuner is Suid-Afrika se gunsteling SUV!

Toe die tweede-generasie Fortuner in 2016 sy buiging gemaak het, het Toyota ‘n doel voor oë gehad om elke maand, gemiddeld, 1100 eenhede te verkoop. En wat seker nie as ‘n skok moet kom nie is dat die vervaardiger dit reggekry het. Die sukses van die Fortuner kom nou al eintlik ‘n dekade aan, toe die eerste generasie sy buiging gemaak het. So dit was half vanselfsprekend dat die tweede-generasie die sukses sou voorsit. Gedurende die verloop van 2017 – tussen Januarie en September – het die Fortuner skoonskip onder al die SUVs in  SA gemaak en homself as een van die bes-verkopende voertuie kom vestig.

Oor die eerste nege maande van 2017 het Toyota ‘n allemintige 10 171 Fortuners van die hand gesit; 6 237 eenhede méér as die Ford Everest op 3934 eenhede. Die Chevrolet Trailblazer, die Fortuner se ander kompetisie, kwyn weg op 573 eenhede wat vir die jaar verkoop was. Interesant genoeg, Toyota verkoop gemiddeld elke maand 1130 Fortuners. Wow!

In April hierdie jaar het die Fortuner sy swakste verkoopssyfer aangeteken toe slegs 985 eenhede verkoop was. Toegegee, April was een van die jaar se swakste maande met baie vakansiedae. Maar daardie syfer was steeds hoër as die 577 wat die Everest net ‘n maand vantevore aangeteken het. Bygesê, dit was die Everest se beste maand tot dusver. Maart was ook die Fortuner se beste maand met 1312 eenhede wat nuwe eienaars gevind het.

Die Fortuner is toegerus met beide twee- en vielwiel-dryf en is beskikbaar in petrol en diesel variante. Die 2.7-liter petrol model bied 122kW en 245Nm, en die 4.0-liter V6 175kW en 376Nm. Die V6 is slegs beskikbaar met die ses-spoed outomatiese ratkas. Die 2.4-liter diesel enjin skop 110kW/400Nm uit en die 2.8-liter diesel 130kW en 420Nm.

Die SUV bied sitplek vir sewe passasiers en staan 279mm van die grond af. Daar is drie ritmodusse (Standard, Sport, Eco) om van te kies wat elk die Fortuner se verrigting beïnvloed. Drie kragskokke word in die binneruim gevind en die sitplekke is met leer oorgetrek. ‘n Aanboord-rekenaar dui die nodige inligting op ‘n skerm voor die bestuurder aan en die vensters word elektronies op en af gerol.

Toyota is wel bewus van hoe gewild sy Fortuner is en is daar geen manier dat die produk uit Suid-Afrika onttrek sal word nie. Inteendeel, Toyota skerp elke jaar die produk op om dit varser te maak en relevant te hou vir elke fase van die Fortuner se leeftyd. En gemeet aan die verkoopsukses wat die SUV geniet, is dit moeilik om te stry teen die feit dat die Fortuner SA se nommer een SUV is.