Mercedes Sportnutsvoertuie steel die Kroon

Mercedes Sportnutsvoertuie steel die Kroon

Van die klein GLA tot die hardebaard G-klas – Mercedes het ‘n Sportnuts vir jou.

 

Artikel: Dirk Gallowitz & Johann van Tonder. Fotos: Johann van Tonder

 

Toe Dieter Zetsche, Hoof Uitvoerende Beampte van Daimler AG, in 2011 op ‘n verhoog gestaan het  was dit minder goeie tye vir Mercedes-Benz. Duitse konkurrente BMW was reeds markleiers sedert 2005 en selfs Audi se verkope het druk op Mercedes-Benz se syfers begin sit. Zetsche se boodskap en toekomsvisie was eenvoudig: “Die Beste. Of Niks.”

Die toespraak was ‘n keerpunt vir Mercedes-Benz. ‘n Stortvloed van nuwe modelle, veral in die sportnutssegment, het nuwe kopers na die Mercedes-Benz stal gelok. Die ganse reeks is herontwerp om ook jong kopers te lok en die belangrikste van als, die nuwe Mercedes-Benz voertuie het gespog met nuwe, sportiewe stilering. Terwyl die nuwe generasie BMW’s en Audi’s grootliks gehou het by die stilering van die vorige model, het Mercedes gekom met ‘n totaal vars benadering. Zetsche se toekomsvisie het gewerk. In 2016 het Mercedes-Benz vir die eerste keer in meer as ‘n dekade die kroon van top verkoper in die luukse motor segment terug geneem.

Mercedes fokus tans op vyf kern modelreekse in sy sedanmotorstal. Daar is die A, B, C, E en S-Klasse, elk beskikbaar met verskillende enjin opsies. In die SUV reeks word dieselfde gedoen, maar het ter viering van sy legendariese “G”-klas besluit om al die modelle (uitgesonder die “G”) in die SUV stal met die letters “GL” te laat begin, om sodoende ook ‘n verwysing na die sedanreeks te maak. Gevolglik kry ons die GLA wat verwys na die A-klas, GLC wat weer dui op die C-klas, GLE met verwysing na die E-klas en die groot vlagskip “GL” verander na die GLS en uiteraard na die luukse S-klas topmodel in die sedanreeks verwys. Die hardebaard “Geländerwagen” oftewel “G” bly egter onveranderd.

 

Die GLA het reeds in 2013 sy verskyning in Suid-Afrika gemaak en het, saam met die A-Klas en CLA, sommer vinnig aanklank by kopers gevind. Mercedes-Benz het onlangs sy GLA sportnuts ʼn opknapping vir die 2017 modeljaar gegee, en ook ietwat van ʼn nuwe persoonlikheid. Daar is beslis ʼn verbetering in die GLA se padgedrag teenoor die uitgaande model, wat te wagte is in ʼn nuwe voertuig. Modelle wat met die Comfort en Off-road vering toegerus is het ʼn baie gemaklike en absorberende ritgehalte. Met ‘n sagte rit sweef jy behoorlik oor die pad soos mens dit van ʼn Mercedes verwag en die sagte vering raak slaggate baas soos die W123-Mercedes Benz’e van ouds. Hierdie sal die gewildste modelle wees, pasgemaak vir elke-dag ritgenot. Vir diegene wat egter opwinding en verrigting bo ritgehalte prioritiseer is daar die GLA250 en GLA45 AMG.

Die GLC model in die Mercedes SUV modelreeks vervang in werklikheid die GLK wat nooit in regterstuur formaat vervaardig en na Suidelike Afrika gebring is nie. Die Mercedes GLC is in wese op Merc se C-klas geskoei en ding direk mee met BMW se X3, Audi se Q5 en ook Range Rover se Evoque. Toe BMW die X4 bekendstel, wat eintlik die koepee van die X3 is, was Merc gou om die GLC Koepee as sy teenvoeter in die mark te stoot. Behalwe vir ‘n meer sportiewe voorkoms as die GLC sportnuts, is die koepee eintlik maar net ‘n GLC  met ‘n koepee-agtige dakontwerp – kajuit ontwerp en toerustingvlakke is dieselfde.  Die GLC Koepee se meer as billike grondvryhoogte en vierwielaandrywing met komplimente van Mercedes se 4Matic sisteem, maak die buks egter heel gemaklik op die grond, veral die modelle wat met die opsionele lugveringstelsel toegerus is, wat die motor verder bo die grond kan oplig. Die GLC kom met ‘n goed toegeruste kajuit en baie van Mercedes se innoverende en slim tegnotruuks. Enigiets wat jy in die C-Klas sedan kan kry is beskikbaar uit ‘n baie lang lys van opsionele ekstras om jou GLC / GLC Koepee na smaak toe te rus.

 

Die meer bekende ML-modelreeks het tydens sy middellewe-kuur in 2016 sommer ook ‘n nuwe naam gekry en heet tans GLE. Die GLE vervang gevolglik die ou ML en die GLE Coupe is dan net die meer sportiewer weergawe. Die GLE weeg byna 2300kg, tog is ritgehalte egter verbasend goed. Dit is grootliks te danke aan die “Dynamic Select”-stelsel wat in samewerking met die lugvering en viertrekstelsel vier verskillende ry-modusse bied nl: Comfort, Slippery, Sport en Individual. Kies jy “Sport” met die draaiknop op die middelkonsole tussen die voorste sitplekke, dan sak die bakwerk en die veerstelsel raak fermer. Met die “Individual”-opsie kan jy jou eie verstellings ten opsigte van stuur en vering kies. Van die pad af diep in die Knysna-woud op ‘n tweespoor pad wat na ‘n week se lekker reën sopnat was, het die GLE gedy. Hierdie swaar, über-kragtige verrigtingswa het heel gemaklik deur die sopnat woud se modderige slote en dieperige poele geluier sonder om een keer die wiele te tol. Met die lugvering op “Rise” gestel om ‘n 250mm grondvryhoogte te kry het die veerstelsel die slegte oppervlakte heerlik verdoesel vir ‘n aangename ervaring.

 

Mercedes se GLS (voorheen bekend as die GL klas) is ‘n bielie van ‘n wa. Groot ja, soos Pierre Spies en Etsebeth se groot as jy nou die vergelyking met mense wil hê. Die GLS vorm deel van Mercedes se luukse sportsnuts reeks en is die S-klas sedanmotor se avonturier broer. In die plaaslike sportsnuts wêreld is die GLS vergelykbaar met die grootbak Range Rover en Toyota se Land Cruiser 200. Uber-luuks, uiters bekwaam van die pad af en uiteraard peperduur. Die Mercedes Benz GLS beskik oor permanente vierwielaandrywing en met die spesiale veldry pakket soos op ons toetsmodel 350d, bied dit ook ‘n laestrek ratkas en ewenaarslotte op beide die voor en agterste aste. In viertrek terme is dit net vir hardebaard klipklimmers en duintrappers beskore. Die 2017 model is nou ook toegerus met Mercedes se nuwe 9-gang outomatiese ratkas wat die keuse van ses ritmodusse bied. Benewens die gewone “Gemak”, “Sport” en “Individueel” verstellings, is daar ‘n spesiale veldry-modus. Hierdie ritmodusse word met ‘n draaiknop verstel op die middelkonsole tussen die twee voorste sitplekke.  Skakel oor na “Veldry of Veldry Plus” en jy kan laestrek kies waar die hoogte van die voertuig met 4 verskillende hoogtes verstel kan word. Die lugvering wat standaard op die GLS is lig dan die groot GLS na gelang van die verstelling. Binne is die kajuit bykans oordadig luuks, heel gepas vir die topmodel in Mercedes se luukse SUV reeks. Die heerlik sagte leerbekleedsel  bring ‘n dekadente ervaring van luukse oordadigheid. As topmodel SUV in die Mercedes stal bied die GLS uiteraard ‘n omvangryke toegeruste kajuit as standaard, met klasleidende veiligheids- en geriefsfunksies soortgelyk aan Mercedes se überluukse S-klas sedanmotor. Die GLS is een van die weinig ware 7-sitplekkers waar 7 volwassenes in luukse gemak geakkommodeer kan word. Die tweede ry sitplekke vou elektries na voor plat om maklike toegang na die derde ry sitplekke te bied. Beide die tweede en derde ry sitplekke bied afsonderlik beheerde lugversorging, terwyl TV-skerms agter in die voorste kopstutte vir afsonderlike vermaak sorg vir die tweede ry insittendes.

 

Die legendaries G-Klas is ook opgeknap in die 2016 modeljaar en bied twee modelle. Die G350d se V6 turbodiesel lewer 180kW en 600Nm se wringkrag. Die topmodel in die G-klas is die AMG G63 en dié brul met 420kW en 760Nm se wringkrag. Met die 5,5 V8 Bi-turbo enjin kan die warm “G” die 0-100kpu in ‘n verbysterende 5,4sekondes afblits! Beide G-Klas modelle is gerekende veldryers met permanente 4-trek en kom met ‘n lae-strek ratkas en drie ewenaarslotte wat in die ry aan of af geskakel kan word.

 

Met hul uitgebreide sportnuts-stal bied Mercedes nie net ‘n voertuig vir elke toepassing en smaak nie, maar maak ook seker dat die voertuie behoorlik in ‘n leefstyl toepassing bruikbaar is. Met ander woorde, dis nie net mooi gesiggies nie met ‘n premium kenteken nie, dis goed ontwerpte produkte met die eienaar en sy aktiewe leefstyl in gedagte. Met hierdie arsenaal voertuie is dit moeilik om te sien dat Mercedes gou onttroon sal word as top verkoper in die luukse motor segment.