Suzuki. Sterker en sterker! En nou maar die nuwe Swift sy buiging.

Suzuki. Sterker en sterker! En nou maar die nuwe Swift sy buiging.

As suksesstorie moet Suzuki sekerlik êrens ‘n voortvarende student se tesis onderwerp wees. Wat die fabrikaat oor die laaste paar jaar in ‘n moeilike motormark vermag het is eenvoudig fenomenaal. Die handelsnaam is Suid-Afrika se snels groeiende handelsnaam en nie net het hulle hul produkaanbieding, verkope, handelaarsnetwerk en markaandeel wesenlik vergroot nie, hulle het ook met verskeie pryse weggestap, weggeraap voor die oe van veel groter en meer gevestigde handelsmerke. So is Suzuki die wenner van die Handelsnaam van die Jaar in die 2018 Cars.co.za Verbruikerstoekennings. Hy het dié toekenning – wat slegs die terugvoer van eienaars en motoriste in ag neem – ook in 2017 gewen. As die CAR-tydskrif se “Maatskappy om dop te hou in 2017” het Suzuki ’n nuwe algehele verkoopsrekord opgestel en Suzuki is inderdaad gerat om daai rekord verder uit te brei.

Nou hoekom se ons so? Wel, al hierdie sukses en groei het gekom met nuwe produkte en aanbiedinge, maar sonder dat Suzuki se ou gunstelinge, die Swift en Jimny, se nuwe modelle geloods is. Sowat 30% van alle nuwe Suzuki-verkope in Suid-Afrika was Swift-modelle. Nou is die nuwe Swift hier en met die Jimny wat ook later vanjaar sy verskyning gaan maak, is daar geen einde in sig vir Suzuki se groei momentum nie.

Die nuwe Swift is aan die Kwazulu Natal se kus aan die media bekend gestel en ons het hom gaan toetsbestuur. Die nuwe model land met ’n reeds indrukwekkende CV in Suid-Afrika. Naas sy titel as die RJC Motor van die Jaar in Japan en Skotse Kompakte Voertuig van die Jaar, was die Swift ook onlangs ’n finalis in die stadsmotor-kategorie van die Wêreldmotor van die Jaar-kompetisie.

Die nuwe Swift is 10 mm korter en 40 mm wyer as sy voorganger. Die voorste wielspoor is ook met 40 mm verbreed en die agterste wielspoor met 35 mm, terwyl die wiele 20 mm verder uitgeskuif is. Suzuki se ontwerpers kon, danksy die nuwe onderstel-ontwerp, die binneruim aansienlik vergroot, veral vir die agterste passasiers. Die nuwe Swift se bagasieruim is ook aansienlik groter as dié van sy voorganger. Die nuwe model het nou 268 liter se stoorplek, wat sowat 58 liter méér is as voorheen.

In die binneruim is die nuwe Suzuki Swift net so gefokus op die bestuurder as sy voorganger. Die middelkonsole is effens na die bestuurder gedraai en die spoedmeter en toereteller is in aparte hulsels vir ’n meer sportiewe inslag. Al die Suzuki Swift-modelle is toegerus met lugversorging, voorste en agterste elektriese vensters, kragstuur en afstandbeheerde sentrale sluiting. Alle modelle het ook ’n stuurkolom wat op en af kan verstel, ’n ritrekenaar wat onder meer afstand, brandstofverbruik en reikafstand meet asook ’n alarm met immobiliseerder.

Suzuki se gewilde K12M-enjin sal diens doen in die nuwe Swift. Die enjin was baie gewild in die vorige model, danksy sy suinige brandstofverbruik, duursaamheid en betroubaarheid. Die enjin lewer 61 kW en 113 Nm, meer as voldoende in ‘n motor wat slegs 875 kg weeg. Die nuwe Swift gebruik slegs 4.9 liter brandstof per 100 km in die normale gekombineerde brandstof-siklus wat beteken die Swift het ’n reikafstand van 750 km op sy 37-liter-brandstoftenk.

Die Suzuki Swift is beskikbaar met drie modelkeuses. Die GA-model bied die bekostigbaarste prys en is steeds toegerus met ’n rits veiligheids- en gemaksfunksies, soos ABS-remme met EBD, ISOFIX-sitplekankers en twee lugsakke.

Die GL-model bied onder meer ook kleurgekodeerde kantspieëls, unieke wieldoppe, misligte voor, ’n Suzuki-klankstelsel met beheerknoppies op die stuurwiel en ’n ekstra bagasiebakskerm. Hierdie spesifikasievlak bied kopers ook die keuse tussen ’n handrat- en AMT-outokas.

Die nuwe Swift is beskikbaar in ses unieke kleure, naamlik Premium Arctic White, Metallic Silky Silver, Metallic Magma Grey, Premium Midnight Blue, Solid Fire Red en die immergewilde Metallic Lucent Orange.

Alle modelle word te koop aangebied met Suzuki se 5-jaar / 200 000 km meganiese waarborg en 2-jaar / 100 000 km diensplan.

Pryse is as volg:

Suzuki Swift 1.2 GA handrat
Suzuki Swift 1.2 GL handrat
Suzuki Swift 1.2 GL AMT