Toyota Hilux Dakar

Toyota Hilux Dakar

Teen die tyd wat jy hier lees, is jy dalk al te laat!

Nee, ernstig. Sake staan so: Toyota as handelsmerk staan so sterk in SA dat, as die eerste van ‘n maand op ‘n Maandag val, dan het Toyota teen middagete van daai Maandag al reeds meer karre verkoop as wat sommige fabrikate in daai maand van die hand gaan sit. En die kroon prins van modelle, sover dit Toyota aangaan, is die Hilux. Dis nie net die bes verkopende bakkie in Suid Afrika nie, dis die bes verkopende voertuig algeheel.

Nou waarvoor is jy dalk te laat? Wel, om jou hande op die nuwe Hilux Dakar te kry. Hierdie model word beperk tot 6000 eenhede. 5000 dubbelkajuit, 1000 Ekstrakajuit. En as jy nou in ag neem dat Toyota meer as 3000 Hilux bakkies per maand verkoop gaan hierdie Dakar Hilux op die verkoopsvloer verskyn en binne twee maande weer verdwyn. As jy dus per ongeluk jou kopie van Ultimate Drive laat in die maand opgetel het, wel, dan het jy straks reeds jou kans gemis.

Nou waaroor die bohaai? Die beperkte Dakar-model pronk met ’n splinternuwe gesig met ’n duideliker sierrooster en meer ‘hoekige’ ontwerp (hoe die Hilux na my mening van die begin af moes lyk!). Die middelste fokupunt is die groot sierrooster wat uit twee horisontale dele bestaan en die voertuig frisser laat lyk. Die binneste deel van die sierrooster het ’n metaalgrys omhulsel met ’n driedimensionele voorkoms wat by die ligdiode-kopligte invloei. ’n Bypassende blinkswart strook op die enjinkap en Dakar-kentekens wat aan die rooster geheg is, asook ’n metaalgrys skermplaat rond die fris, nuwe voorkant af. Daarbenewens pronk die buitekant met ’n aantal kenmerkende eienskappe soos blinkswart afwerking vir die deurhandvatsels en elektries wegvoubare deurspieëls. Die agterbuffer is in grys afgewerk om by die voorkantontwerp te pas.

In ’n wêreld deurspek van kontraste en oksimorone pronk die Hilux Dakar-weergawe met ’n binneruim wat teen die geharde buitekant afsteek. Die binneruim het ’n pikswart kleurskema met ’n swart plafon (teenoor liggrys in die gewone Raider), metaalswart beslagpanele (silwer in die Raider) en swart leerbekleedsel met liggrys stikwerk (doekstof in die Raider), wat alles saam ’n sportiewe, deftige ruimte vir die insittendes skep.

Die vermaakstelsel is opgegradeer en suit nou satellietnavigasie in terwyl die gewone Bluetooth en USB- en CD/DVD-sokke behoue gebly het. De raakskerm sluit die ritrekenaar en wissselbare hoofskerm in. Die Dakar-modelle kry unieke instrumente en het wit meters met oranje naalde en doelontwerpte grafika wat soos die tande van ’n ringrat lyk om die Dakar-weergawe van sy stalmaats te onderskei. Die vloeikristal-vertoonskerm pronk met doelontwerpte aanskakelgrafika wat die Dakar-model se buite-aansig vertoon.

Alle Dakar-modelle is op die Raider gegrond en behou dus die beproefde GD-6-V6-kragbron van 2,8ℓ (net die dubbelkajuit). Die viersilinder-turbodiesel van 2,8ℓ bied 130 kW en 420 Nm in handratgewaad. Die modelle met outomatiese transmissie se wringkrag is tot 450 Nm verhoog. Die V6 lewer ’n stewige 175 kW en 376 Nm.

Die Dakar-weergawe word tot vier rompkleure beperk en sluit die splinternuwe metaalvlokkiekleur Inferno Orange in. Kopers kan kies tussen gletserwit, chroomsilwer, potloodgrysmetaalvlokkie of die nuwe vlamoranjemetaalvlokkie. Die wit, silwer en oranje modelle het swart Dakar-kentekens op die voordeure en stertdeur, terwyl die grys weergawe kontrasterende silwer kentekens kry.

Toyota het die diensplanperiode van die 2.8 GD-6-modelle as ’n verbintenis tot uitstekende klantediens van 5 jaar / 90 000 kilometer tot 9 dienste / 90 000 kilometer verhoog, terwyl die 4,0 V6-model ’n styging tot 6 dienste / 90 000 kilometer (voorheen 5 jaar) het.

Die waarborgtydperk is 3 jaar/100 000 kilometer en geld die hele Hilux-reeks.

Die Dakar-agtervoegsel is gereserveer vir die toppunt van Hilux-variante en dié model is juis daarom ’n unieke produk wat aan dié geërde modelnaam voldoen.

Pryse is as volg:
Xtra Cab Prys
Hilux XC 2.8GD6 Raised Body Dakar MT R 470 300
Hilux XC 2.8GD6 Raised Body Dakar AT R 488 300
Hilux XC 2.8GD6 4X4 Dakar MT R 535 600
Hilux XC 2.8GD6 4X4 Dakar AT R 553 800
Dubbelkajuit
Hilux DC 2.8GD6 Raised Body Dakar MT R 535 000
Hilux DC 2.8GD6 Raised Body Dakar AT R 553 400
Hilux DC 2.8GD6 4X4 Dakar MT R 601 100
Hilux DC 2.8GD6 4X4 Dakar AT R 621 000
Hilux DC 4.0 V6 4X4 Dakar AT R 662 700