Honda MSX 125 Grom Johann van Tonder

Honda MSX 125 Grom Johann van Tonder

Honda MSX 125 Grom
Johann van Tonder

Elke familie behoort een te hê! Die klein Honda Grom, ‘n 125cc motorfiets wat herhinder aan die Honda Ape en Monkey motorfietse van vroeër jare, is net soveel pret en so veelsydig dat elke lid van die familie rede sal soek om hom te ry.

Moenie dink dat, net omdat ‘n motorfiets 125cc is, hy slegs gemik is op jong mense nie. Terwyl die Grom ryers van enige ouderdom weer soos ‘n sestienjarige sal laat voel, is hierdie ernstige aanbieding van Honda. Die Honda MSX 125 in ‘n moderne, tegnologies gevorderde motorfiets met ‘n digitale instrumente paneel kompleet met ritrekenaar, moderne ligte insluitend dagry ligte en LED lig agter, elektriese aansitter, onderstebo vurke, skyfremme en alliminium komponente wat die motorfietsie so lig soos ‘n veer laat voel. Onder die tenk is ‘n lugverkoelde tweeklep 125cc enjin met petrol inspuiting wat 7,2kW en 10,9Nm lewer teen 7000 en 5500 revolusies onderskeidelik. Op papier lyk dit nie na aardskuddende krag nie, maar in die klein motorfiets wat slegs 101,7kg weeg (met ‘n vol tenk) is dit meer as genoeg om die pret faktor hoog te hou.

Honda_Grom

Die Grom is klein, maar so ontwerp dat selfs langer ryers gemaklik op hom kan ry. Die sitplek hoogte is 765mm, die handvatsels gemaklik voor jou en die voetpedale nie te naby aan die sitplek nie. Die asafstand is klein, slegs 1200mm en tesame met die klein 12-duim wiele draai die motorfietsie op ‘n spreekwoordelike tiekie. In die verkeer gaan min indien enige iets die motorfietsie vang en ek kon nie help om te dink hoe handig die motorfiets veral op vakansie in ‘n plek soos Hermanus, Hartenbos of Knysna sou wees nie. Jy sal met ‘n lied in jou hart tussen die duisende vaalpens nommerplate deur vleg om gou jou koeldrank en braaivleis te gaan koop. Met lewendige verrigting en gladde koppeling tussen die viergang ratkas en koppelaar sal min motors by die Grom kan kersvashou as die lig groen slaan. Hy sal deur die kleinste gaatjies kan woerts en parkering sal ook nie ‘n probleem wees nie. Die MSX 125 Grom is uit en uit ‘n stadsfiets gemik op voorstedelike gebruik, maar sal ook sy ding doen oor kort ritte op die oop pad. Tydens ons toetsrit het ons paar keer meer as 100km/h behaal.

Alhoewel aanvanklik skepties, het die Honda MSX 125 Grom ons total verbaas. Die motorfiets is ‘n koel alternatief, amper ‘n anti-skoeter. In die voorstedelike motorhuis sal die Grom gou die koerant gaan koop, vir boetman skool toe vat, vir ousus by die universiteit besorg en vakansietyd is hy klein genoeg om saam te gaan vakansie hou. Al wat jy moet besluit is of jy ‘n rooi, blou, swart of wit Grom wil hê.

Die Honda MSX 125 Grom verkoop vir R35 490-00