2.2 Ford Ranger XLT tem Vleesbaai Johann van Tonder

2.2 Ford Ranger XLT tem Vleesbaai Johann van Tonder

Dis nie Amerika die nie. Groter is nie noodwendig beter nie. Dit het die 2.2 Ford Ranger XLT 4×4 lag-lag bewys. Die bakkie mark, of eerder die manne wat die bakkies ry, is ‘n snaakse spul. Enjin grootte, kraglewering en elke ander aspek van elke bakkie word vergelyk, bespreek en oor gespog. Heeltemal te veel is net genoeg, of so glo party manne. As jy ‘n Ranger wil ry, veral ‘n 4×4, dan móét dit die 3,2 wees. Reg? Verkeerd.


Ford het na hul opknapping van die Ranger bakkie reeks laat in 2015 die modelreeks uitgebrei. Nie net is daar ‘n paar nuwe modelle nie, maar ook ‘n mooier aansig (wat in ‘n mate nogal na die Mustang kan trek), ‘n beter toegerusde kajuit en ‘n keuse van twee diesels en een petrol enjin. En dis nou net hier waar die knoop lê, want terwyl die 3,2 liter diesel enjin ‘n indrukwekkende 147kW lewer was verrigting syfers van om en by 120kW baie onlangs nog gereken as heeltemal genoeg. Om die teorie te bewys het ons die 2,2 liter Ranger (wat 118kW lewer) na die Suid Kaap se gunsteling speelplek, die Vleesbaai Duineroete, geneem vir ‘n dag se pret en plesier.
Hierdie was nie net ‘n pretrit nie, ons het werklik die Ranger getoets. Elke hindernis is aangepak en herhaal, stadiger, dan sonder laestrek, net om te kyk hoe goed die vermoë van die 2,2 Ranger werklik is. Enige 4×4 entoesias wat sy sout werd is weet dat dit hier oor baie meer as net die verrigting syfer gaan. Ratverhoudings, ratkeuses, banddruk, spoed, greep en die verskeie stelsels speel elk sy rol en dis juis die kombinasie hiervan waarmee die 2,2 Ranger so presteer. Die hele roete is gery, in die “Hardebaard”-seksie is behoorlik gespeel en eindelik was die groot toets – daai laaste duin. Menige viertrek voertuie het al op die klim hul moses teegekom. Sommige voertuie met heelwat groter enjins as die 2,2 Ranger. Dit het ek nou al self gesien. Die duin was mooi skoon met ons eerste poging, geen spore om ons vordering te belemmer nie. Dit was egter in die middel van die dag en die sand lekker warm en los. Met die eerste poging, met spoed, het die Ranger moeiteloos tot bo gery. Ons is weer terug, en vir die tweede probeerslag is ‘n laer rat met minder spoed gekies. Weer was ons moeiteloos bo. Dis amper te maklik. Alles is probeer. Stop halfpad die duin uit en trek weer weg, weer is ons moeiteloos bo. Dis na ons byna alles probeer het dat die idee ons tref: Het iemand die duin al in trurat uitgery? Ons moes probeer. En as ek nie self bestuur het nie, sou ek dit seker nooit geglo het nie. Die 2,2 Ford Ranger XLT draf daai duin sommer in trurat uit.
Dis ‘n vry land en elke man se geld is sy eie. As jy daai 3,2 met sy tamaai 147kW wil ry, dan kan jy. Maar as finansies bietjie knyp en die 2,2 is meer in jou prysklas, moenie huiwer nie. Daai 2,2 Ranger gaan nie sommer in die veld terug staan vir die groter manne nie. Die prysverskil kan selfs ‘n lekker trip Afrika in finansier. Dis mos nou die slim keuse.
Die Ranger 2.2 TDCi XLS 4×4 6MT Dubbel Kajuit verkoop vanaf R485,900-00.

fordranger