2016 AUDI TTS KOEPEE QUATTRO Mooi en lekker Artikel: Dirk Gallowitz Fotos: Johann van Tonder

2016 AUDI TTS KOEPEE QUATTRO Mooi en lekker  Artikel: Dirk Gallowitz Fotos: Johann van Tonder

Die Audi TTS is in 2008 in Suid Afrika bekendgestel saam met die tweede generasie TT modelle. Plaaslik is daar egter net ‘n beperkte aantal van die model verkoop. Laat 2015 het die derde generasie TTS plaaslike vertoonlokale bereik en was ons bevoorreg om onlangs ‘n pragtige heldergeel model deur sy passies te sit.

 

Die 2016 model is onmiskenbaar steeds TT en steeds met die ronde petrolklap agter op die heup, maar daar is visueel nou meer trekke na sy haastiger stalmaat die R8. Die daklyn vloei nou meer soos ‘n koepee na agter vir ‘n kort oorhang en wye wielboë wat styf oor die agterwiele span. Visueel verskil die TTS van sy makker TT boet met ‘n groter sierrooster wat laag oor die pad duik en fris luginlate voor aan weerskante van die voorste buffer. Die hoofligte op die TTS is volledig LED’s en die kantspieëls is normaalweg silwer, maar was in swart afgewerk op ons toetsmodel. Agter is daar vier fris uitlaatpype en ‘n drukvlerk wat outomaties oplig wanneer 120kpu bereik word. Die vooraansig se moderne voorkoms met skerp en hoekige lyne, straal ‘n sportiewe aggressie na buite wat visueel tref.

 

Binnelangs is die kajuit knus, luuks en met uitstekende vakmanskap en materiale afgewerk. Twee sportsitplekke spog met ‘n “S”- kenteken in die rugleuning terwyl dofgepoleerde aluminiumstroke en nog ‘n aantal “S”-insignia die binneruim opkikker. Die voorpaneel is skoon (bykans minimalisties) en is my persoonlike voorkeur van hoe ‘n sportmotor se kajuit moet voel en lyk. Daar is tegnies nog twee sitplekke agter, maar is meer geskik vir baie klein mensies of handsakke.

Die skakelaars vir die klimaatbeheer en lugvloei is vernuftig in die drie ronde luginlate ge-inkorpereer.

Alle ander funksies vir klank, kommunikasie, SatNav, ritinligting, enjinbeheer en bestuurderhulp word op ‘n enkele hoëdefinisie kleurskerm vertoon wat ook as die instrumentpaneel agter die stuurwiel  diens doen. Beheer is via ‘n enkele draaiknop op die middelkonsole voor tussen die sitplekke, asook met skakelaars op die stuurwiel. Die instrumentasie beeld kan gewissel word vir ‘n verskeidenheid van opsies en voorkomste wat verander na gelang van keuse. Kies jy die sport opsie is die toereteller prominent. As jy die navigasiestelsel kies dan vertoon die kaart/roete omtrent die hele skerm vol. Dit bly een van my gunsteling stelsels in hedendaagse motors en is deesdae in al die jongste Audi modelle beskikbaar.

 

Die TTS word aangedryf deur ‘n soortgelyke 2.0 liter turboaangejaagde petrolenjin wat deur Ingolstadt se witjasse getoor is en ook in die jongste Audi S3 gebruik word. Piekkraglewering is 210kW met ‘n fris  380Nm wringkrag wat deur Audi se bekende Quattro-stelsel die krag na al vier die wiele stuur via ‘n 7-spoed “S-tronic” dubbelkoppellaar outomatiese ratkas. Platvoet neem die 0-100 kpu lopie slegs 4,8 sekondes en topspoed word elektronies beperk tot 250kpu.

 

Op die pad het die geel TTS beindruk met goeie dinamika, heerlike hantering en uitstekende verrigting. Met my regtervoet geplant het die enjin, met die hulp van die enjinrekenaar en ‘n spesiale klep in die uitlaatstelsel, ‘n diep (weliswaar kunsmatig) maar tog genotlike gedreun van onder uit sy maag gelewer. Die TTS is ‘n heerlike sportmotor met ‘n voorkoms wat aandag trek! Na ‘n heerlike paar dae van lekker speel was ek maar traag om ons toetsmodel te gaan teruggee.

 

Die 2016 Audi TTS koepee Quattro verkoop vir  R743,000-00.  

TTS1 TTS2 TTS3 TTS4 TTS5