2016 HONDA CIVIC BETER GROTER LUUKSER Deur Dirk Gallowitz

2016 HONDA CIVIC BETER GROTER LUUKSER  Deur Dirk Gallowitz

Sedert die eerste Civic in 1973 die motorwêreld getref het, het Honda model na model verbeter ten einde kopers tevrede te hou en het sedertdien meer as 23mijoen eenhede van die gewilde motor in 170 lande en streke wêreldwyd verkoop. Honda Suid Afrika het onlangs sy 10de generasie Civic in die pragtige Kaap bekendgestel en ons was daar.

 

Van buite tref die nuwe model met ‘n dinamies sportiewe ontwerp. Teenoor die uitgaande Civic is die nuwe model op ’n geheel nuwe platform gebou en is nou 11cm langer waarvan die asafstand met 3cm gerek het. Die dak van die nuwe Civic is egter 2cm laer wat tot gevolg het dat die kar laer, breër en meer vaartbelyn vertoon. Ontwerp as ‘n vierdeur sedan, vertoon die kantprofiel van die nuweling  na ‘n koepee-agtige luikrug met die daklyn wat  ‘n groot skuins vooruit volg en na agter swiep om kort en regaf te eindig.

 

Die nuwe  model word voorgehou as ‘n middelvlak-gesinsmotor. Tog is dit veel groter as die uitgaande model, maar weer effe kleiner as die vlagskip Accord wat eersdaags uitgefaseer word. Honda hoop juis dat met hierdie middel-van-die-pad  benadering die nuwe Civic kopers uit die C (ou Civic/Corolla mark) en D (Accord/BMW 3-reeks) segmente van die mark gaan lok.

 

Binnelangs is die kajuit tipies Honda, met luukse hoë gehalte materiale en afwerking en ‘n vindingryke ontwerpuitleg van die voorpaneel en middelkonsole. Die instrumentasie is nou alles digitaal, wat die kenmerkende twee-vlak instrumente panel oorbodig gemaak het. Al die nodige instrumentasie vir die bestuurder  word nou  in ‘n slim uitleg op een volkleur LCD skerm agter die stuurwiel vertoon. Die middelkonsole word oorheers deur ‘n 7” kleur raakskerm waar die kommunikasie, klank, SatNav, rit-  en voertuiginfo vertoon word terwyl die verstelbare stuurwiel skakelfunksies bied vir die telefoon, klank, spoedbeheer en ritinligting.

 

Ons het tydens die bekendstelling slegs die “Sport” en “Executive” afwerkings met die 1.5 turbo-enjins gery. Die turbo-enjin is lewendig met piek wringkrag wat tussen 1700-5500rpm beskikbaar is en het nooit gesukkel met versnelling as die regtervoet geplant word nie. Die enjin se verrigting is volgens Honda vergelykbaar met ‘n 2,4liter petrolenjin sonder turbokrag. Beide die 1.5T modelle beskik oor ‘n omvattende lys van standaard toerusting , elektroniese katoeters en bestuurderhulpstelsels wat Honda beskryf as “New human machine interface”. Die innoverende stelsel maak slimfooninteraksie met verskeie applikasies moontlik. Jy kan bevoorbeeld jou padkaarte gerieflik via  “Apple CarPlay” of “Android Auto” na die infoskerm stuur as jou Civic nie met satelietnavigasie toegerus is nie. Honda Motors SA het besluit om slegs die CVT poelie ratkas te gebruik vir al sy modelle in die nuwe Civic-reeks in Suid Afrika. Terwyl ek van nature allergies is vir die tipe ratkaste, is die een wat diens doen in die nuwe Civic verbasend goed en sal meeste bestuurders dit as ‘n gewone outomaties beleef.

 

Tydens ons bekendstellingsrit deur die Boland was dit opvallend hoe stil, selfs teen hoë spoed, die kajuit binne was. Die topmodel Executive bied aanpasbare spoedbeheer wat die volgafstand hou selfs teen lae spoed, “Collision Mitigation Braking System (CMBS)”,  “Lane Departure Warning (LDW)”, “Lane Keeping Assist System (LKAS)”,  “Road Departure Mitigation (RDM)”, “Forward Collision Warning (FCW)”, en “Lane watch with side-sensing cameras”. ( Verskoon die Engelse beskrywings,maar om dit in raakvat Afrikaans te probeer vertaal is soos om droë biltong sonder tanne te probeer kou!) Honda’ se nuwe” Agile Handling Assist” werk saam met die Civic se elektroniese stabiliteitsstelsels ten einde die motor op die pad stabiel te hou en terselfdertyd ‘n aangenamer bestuurservaring te verseker, veral deur draaie.  Die stelsel maak deurlopend klein aanpassings via die versneller en remstelsel terwyl die motor deur die draaie beweeg om stabiliteit en bestuurderbeheer te verseker.

Modelle beskikbaar:

 

                        1.8 Comfort    1.8 Elegance   1.5T Sport       1.5T Executive

 

Enjin                1799cc             1799cc             1498cc             1498cc

                        4 silinder         4 silinder         4 silinder         4 silinder

                        petrol              petrol             petrol turbo   petrol turbo

Krag                104kW             104kW             127kW             127kW            

Wringkrag      174Nm            174Nm            174Nm            174Nm

Ratkas             Outo CVT        Outo CVT        Outo CVT        Outo CVT

0 -100kpu       10,4 sek           10,4 sek           8,2 sek             8,2 sek

Verbruik         6,3l/100km     6,3l/100km     5,9l/100km     5,9l/100km

Prys                 R330,000         R370,000         R430,000         R460,000

Waarborg       Al die modelle kom met 5jaar/200,000km waarborg en 5jaar/90,000km diensplan asook ‘n 3jaar AA Padbystand

01_honda-civic 05_honda-civic 25_honda-civic