2016 MAZDA MX-5 Oopdak pret op wiele Deur Dirk Gallowitz, Fotos: Johann van Tonder

2016 MAZDA MX-5  Oopdak pret op wiele Deur Dirk Gallowitz, Fotos: Johann van Tonder

Die Mazda MX-5 is die wêreld se topverkoper tweesitplek sportmotor. Boonop is die nuutste weergawe van die MX-5 onlangs aangewys as 2016 se Wêreld Motor van die Jaar. Die vierde generasie van die gewilde klein oopdak motortjie het einde laasjaar op plaaslike bodem geland en ons het onlangs een van die opwindende sportmotortjies vir ‘n week lank se ry-pret gehad.

 

Mazda het die pretresep reeds met die eerste model (toe bekend as die Miata) vervolmaak. Klein, ligte sportiewe agterwiel aangedrewe 2-sitplek oopdakker met ‘n eenvoudige, betroubare normaal geaspireerde enjin. Voeg daarby ‘n goeie krag-tot-massa verhouding en uitstekende hantering soos dit ‘n rasegte sportmotor betaam en jy het die resep vir heerlike padrykaskenades. Dit is dus geen wonder dat die MX-5 kultus-status geniet onder miljoene aanhangers en eienaars wêreldwyd. Die nuwe model bou voort op die klassieke resep, maar met ‘n meer moderne en beter afgeronde jas en ekstra woema onder die enjinkap!

 

Voorkoms is treffend met die lang krom neus en fris ronde boudtjies wat breed oor die agterwiele span. Boonop is die nuwe model, in teenstelling met sy voorganger, 100kg ligter en 105mm korter om daardie liggewig sportmotor-gevoel te beklemtoon. Die pens hurk effe laer op die grond en die dak is ook effe platter. Binnekant sit die sitplekke 2cm nader aan die grond wat weer help dat daar meer spasie vir ‘n groot outjie soos ek se bene is om onder die klein stuurwiel in te glip. Met die stuurwiel se kantelhelling effe groter en die pedale effe wyer uitmekaar was die kajuit knus, maar tog heel gemaklik vir my 115kg 1,85 meter lyf. Die bagasie bak is effe dieper en langer en kan nou een inkopiesak ekstra saam met die oornagtassie sluk. Die kajuit is modern en intuitief uitgelê met goeie afwerking en hoë kwaliteit material, soorgelyk aan die nuwe Mazda 2. Die raakskerm middel bo in die voorpaneel bied funksies vir die klank-, GPS-, en kommunikasiestelsels en werk maklik.

Mazda het die versoeking en tendens van kleiner, turbo-aangejaagde enjins weerstaan en die model toegerus met hul betroubare 2-liter normaal ge-aspireerde petrolenjin wat 118 kW en 200 Nm wringkrag lewer. Dit is nie aardskuddende krag nie, maar bied in die klein lyfie opwindende bestuursgenot en ‘n besondere pretbelewenis. Die 6-gang handratkas het heerlik met sulke kort skuifies saamgewerk as die regtervoet hard gewerk het. Die enjin voel lekker lewendig met die 0-100km/h lopie wat slegs 7.3 sekondes neem  en die topsnelheid van 214km/h wat gemaklik behaal is. Uiteraard is die ligter bakgewig bydraend tot beter brandstofekonomie en die MX-5 se amptelike verbruik word aangegee as 6.7L/100km. Na ons week van speel en ook oopketel jaag het ons steeds ‘n gemiddelde verbruik van 9L/100km behaal. Die elektroniese bestuurderhulp en veiligheidstelsels, ESP en ABS met EBD het ons veilig op die pad gehou.

 

Die nuwe MX-5 kom met ‘n lapdak sonder elektriese op- en afslaan. Na my week met die klein Japanees is ek egter oortuig dat alle klein oopdakkers so behoort te werk. Met die ontsluit van ‘n enkele hefboompie bo voor in die vensterraam, trek jy die ligte springbelaaide seildakkie met een beweging  na agter en druk dit gemaklik agter die sitplekke in posisie met een “klik”. Opslaan werk soortgelyk en kan sommer so sit-sit gedoen word. Dit werk eenvoudig, gemaklik en blitsvinnig!

 

Die nuwe Mazda MX-5 bou voort op die klassieke Miata van ‘n kwarteeu gelede.  Dit is ‘n heerlike klein sportmotor wat pret in motorbestuursgenot terugbring. Die kajuitgeraas laat dit voel asof jy veel vinniger ry as wat jy werklik doen, maar die ervaring wat bestuurder, motor en pad tot ‘n simfonie saam  voeg word verslawend. Vir ware motorentoesiaste behoort die MX-5 ‘n ideale speelding te wees.

 

Die 2016 Mazda MX-5 verkoop vir R425 400-00 en kom standaard met Mazda se omvattende MazdaCare waarborg wat ‘n 3jr onbeperkte kilometer fabriekswaarborg, ‘n 3jr padbystanddiens, ‘n 3jr diensplan en ‘n 5jr Roeswaarborg insluit.

1