2017 Chevrolet Trailbazer Tem Magoebaskloof!

2017 Chevrolet Trailbazer Tem Magoebaskloof!

Deur Dirk Gallowitz & Johann van Tonder Fotos Johann van Tonder

 

Met Toyota se nuwe Fortuner wat harte op ‘n galop wen, moes Chevrolet iets doen om meer kopers te lok na sy bestaande Trailblazer sportnuts. Nie dat die Trailblazer nou juis terugstaan vir enige ander in die segment nie, maar vandag se koper soek mos die “Nuwer!” “BETER!” model. Met die nuwe mededinger in gedagte is die Chev Trailblazer bietjie opgekikker en ons het hom in Magoebaskloof in Limpopo gaan ry om te kyk of hy darem steeds hardebaard viertrek-werk kan doen.

 

Eers is die langpad aangedurf vanuit die bose ou stad en dis juis hierdie tipe werk wat kopers van ‘n sportnuts gaan verwag. Om passasiers en bagasie oor lang afstande in gemak te vervoer, sonder om viertrek vermoë prys te gee as daar eers by die bestemming aangekom is.

 

Met die eerste fase van die reis het die derde ry sitplekke, wat met ‘n maklike patent sonder sukkel platvou en weer maklik opgeslaan kan word, beïndruk. Op die ooppad het die Chevvie eweneens beindruk met ‘n gerieflike rit in ‘n stil kajuit, grootliks te danke aan verbeterde kajuitklankdigting en stuurvibrasie. 

 

Binne is die kajuit deftiger beklee en is beter toegerus. Met ‘n groter klem op sagter materiale, asook die kontrasterende stiksels op die leerbekleedsel, vertoon die binneruim van die nuwe model meer modern en  luuks. Instrumentasie is opgeknap en ‘n groot raakskerm is sentraal in die voorpaneel geplaas. Daar is, soos met meeste van hierdie SUV’s, byna al die moontlike geriewe wat klank-, kommunikasie- en ander elektroniesebestuurderhulpstelsels insluit. Daar is selfs vyf 12V koppelpunte en agt(!) bekerhouers. Lugversorging is beskikbaar vir al drie rye sitplekke en kan afsonderlik verstel word.

 

Buite is die neus reggetrek vir ‘n varser, meer moderne voorkoms. Die sierrooster kom nou met ‘n prominente dwarsbalk waarop die bekende strikdas-kenteken pryk, om ‘n dubbeldek-voorkoms te gee. Die hoofligte is herontwerp en swiep skerp na agter. Die luukser LTD modelle kry ook ‘n strepie LED dagry liggies in die hoofligte. Kolligte is op die hoeke in die onderste luginlate geplaas.

 

Ons toetsvoertuig was die vlagskip 2,8 LTZ model wat op 18” 265/60 tekkies loop. Die groot en breë wiele help met goeie hantering en padgedrag op die pad en soos ons later uitgevind het, ook op die grondpad. Toegerus met ‘n 2,8l turbodiesel (VGT) enjin wat, danksy ‘n slim turbo (VGT- Variable Geometry Turbo) 144kW en 500Nm bied, is die krag meer as genoeg om deur middel van die 6-gang outokas die krag deur vier wiele op die gond neer te sit.  Voeg by dit ‘n brandstoftenk met ‘n kapasiteit van 76 liter en ‘n sleepvermoë van 2965kg en jy het ‘n toervoertuig by uitstek.

Trailblazer pryse wissel van R 464 000.00 vir die intree 2.5D LT 4×2 handratmodel tot R 623 200.00 vir die topmodel  2.8D LTZ 4×4 outomaties. Al die opgekikkerde modelle kom standaard met ‘n “Chevrolet’s Complete Care” pakket wat ‘n klasleidende 5-jaar/120 000 km waarborg bied. Die pakket sluit ook ‘n 5-jaar/90 000 km diensplan in.

Die opgekikkerde Chev Trailblazer bied hoë vlakke van standaard toerusting wat goed vergelyk met sy kompetisie en is ‘n goeie alternatief in hierdie hoogs kompeterende segment.