2017 Hyundai Tucson Gewilde Koreanse veldryer kry diesel enjin

2017 Hyundai Tucson  Gewilde Koreanse veldryer kry diesel enjin

Artikel: Dirk Gallowitz Fotos: Johann van Tonder

 

Hyundai het onlangs sy baie gewilde nuwe Tucson modelreeks met twee turbodiesel enjins uitgebrei.

Eers was die nuwe Tucson, ‘n medium grootte sportnuts wat die gewilde IX35 model in Suid Afrika vervang het, met ‘n 1,6l turbo-aangejaagde petrolenjin bekendgestel. Die model het intussen die segmentleier in plaaslike verkope geword, met meer as 600 eenhede wat maandeliks nuwe eienaars kry. Met twee dieselmodelle ook nou beskikbaar, word verwag dat die modelreeks selfs meer kopers gaan lok.

Voorkoms buite het ooreenkomste met die groter en luukser Santa Fé. Onder leiding van Peter Schreyer, Hyundai se hoof ontwerper, is die nuwe Tucson ‘n visuele kragtoer. Die Tucson hurk, soos dit ‘n SUV betaam, oor groot wiele wat die voertuig hoog laat staan, terwyl bultende wielboë  saam met die lang kant- en daklyn wat na agter swiep, aggressie en sportiwiteit tot die voorkoms voeg. Die neus is prominent en dra nou, anders as die iX35, die Santa Fé se groot heksagonale sierrooster en LED ligte. Agter sorg nuwe ligte, twee uitlaatpype  en die heuplyn bokant die buffer vir ‘n treffende voorkoms.

 

Die binneruim voel en vertoon duursaam en luuks met harde plastiekafwerking grootliks afwesig. Afwerking in swart en dowwe aluminium het duursaam vertoon en gevoel.  Digitale klank/radio stelsel met ses luidsprekers is standaard terwyl telefoonkoppeling koordloos via Bluetooth gedoen kan word.

 

Die nuwe Tucson se ritgehalte en padgedrag is soortgelyk soos die petrol modelle, maar die diesel se middelstrek wringkrag maak stadsry meer gemaklik. Op die grondpad en die ooppad het goeie hantering en paddinamika opgeval met relatief min bakrol as jy deur die draaie sool. Tydens die bekendstellingsrit het ons vanaf die lughawe oor Stellenbosch tot in die Paarl waar ons bergop na die Paarlberg Natuurreservaat gery het en toe snelweg langs terug Kaapstad toe. Die stowwerige grondpaadjie bergop en af het die onderstel en veerstelsel behoorlik beproef en die goeie balans tussen sportiwiteit en gemak het opgeval, grootliks te danke aan die McPherson stutte voor en die veelskakelveerstelsel met springe en teenrolstaaf agter. Die stuurgevoel en terugvoer het vertroue ingeboesem selfs deur die draaie op die grondpad, terwyl gasgevulde skokabsorbeerders die sinkplaatgedeeltes heerlik gedemp het ten spyte van die groot  245/45 R19 wiele. Die nuwe 1,7 liter turbodiesel enjin, wat voldoen aan die Euro 6 regulasies vir skoon uitlaatgasse, lewer 85kW by 4000rpm met 280Nm se piek wringkrag wat tussen 1250-2750 rpm beskikbaar is. Aandrywing is na die voorwiele deur ‘n 6-gang handratkas.

 

Die nuwe Hyundai Tucson 1,7 Diesel handrat Executive kos R439,900 en die Tucson 2.0 Elite outo verkoop teen R519 900.  Hyundai se 5jaar/150,000 km waarborg wat ‘n nuwe addisionele 7jaar/200,000 km waarborg vir die aandrywingstelsel insluit is standaard by alle nuwe Hyundai modelle beskikbaar. Ook ingesluit is ‘n padbystanddiens vir 5jaar/150,000 km en ‘n 5jaar/90,000km diensplan. Die 1.7l Diesel word elke 30,000km gediens, terwyl die 2.0diesel se dienste elke 15,000km gedoen moet word.