2017 Mercedes GLS 350d 4Matic Deur Dirk Gallowitz

2017 Mercedes GLS 350d 4Matic  Deur Dirk Gallowitz

Mercedes se GLS (voorheen bekend as die GL klas) is ‘n bielie van ‘n wa. Groot ja, soos Pierre Spies en Etsebeth se groot as jy nou die vergelyking met mense wil hê.

 

Die GLS vorm  deel van Mercedes se luukse sportsnuts reeks waarvan die GLE (voorheen die ML-Klas) sy kleinboet is. Waar die GLE byvoorbeeld  as die Mercedes E-Klas sedan motor se plaasjapie boetie gesien word, is die GLS weer die S-klas sedanmotor se avonturier broer. In die plaaslike sportsnuts wêreld is die GLS vergelykbaar  met die grootbak Range Rover en Toyota se Land Cruiser 200. Uber-luuks, uiters bekwaam van die pad af en uiteraard peperduur.

 

Die Mercedes Benz GLS beskik oor permanente vierwielaandrywing en met die spesiale veldry pakket soos op ons toetsmodel 350d, bied dit ook ‘n laestrek ratkas en ewenaarslotte op beide die voor en agterste aste. In fôr-baai-fôr terme is dit net vir hardebaard klipklimmers en duintrappers beskore.

 

Die 2017 model is nou ook toegerus met Mercedes se nuwe 9-gang outomatiese ratkas wat die keuse van ses ritmodusse bied. Benewens die gewone “Gemak”, “Sport” en “Individueel” verstellings, is daar ‘n spesiale veldry-modus. Hierdie ritmodusse word met ‘n draaiknop verstel op die middelkonsole tussen die twee voorste sitplekke.  Skakel oor na “Veldry of Veldry Plus” en jy kan laestrek kies waar die hoogte van die voertuig met 4 verskillende hoogtes verstel kan word. Die lugvering wat standaard op die GLS is lig dan die groot GLS na gelang van die verstelling. Hierdie modus sal slegs ingeskakel bly tot met ‘n maksimum van 20kpu wat dit outomaties kanselleer wanneer die spoed oorskry word. Die reuse 20 duim allooiwiele is geskoei met 275/R20 rubber wat behoorlik kan vastrap waar dit nodig is.

 

Binne is die kajuit bykans oordadig luuks, heel gepas vir die topmodel in Mercedes se luukse SUV reeks. Die heerlik sagte leerbekleedsel  bring ‘n dekadente ervaring van luukse oordadigheid. As topmodel SUV in die Mercedes stal bied die GLS uiteraard ‘n omvangryke toegeruste kajuit as standaard, met klasleidende veiligheids- en geriefsfunksies soortgelyk aan Mercedes se überluukse S-klas sedanmotor .

 

Die GLS is een van die weinig ware 7-sitplekkers waar 7 volwassenes in luukse gemak geakkommodeer kan word. Die tweede ry sitplekke vou elektries na voor plat om maklike toegang na die derde ry sitplekke te bied. Beide die tweede en derde ry sitplekke bied afsonderlik beheerde lugversorging, terwyl TV-skerms agter in die voorste kopstutte vir afsonderlike vermaak sorg vir die tweede ry insittendes.

 

Die GLS350d 4-Matic is die enigste dieselenjin model in die GLS reeks en word aangedryf deur ‘n 2987cc V6 turbodiesel wat ‘n indrukwekkende 190kW enjinkrag en 620Nm trekkrag lewer.

Dit is genoeg om die meer as 2 ton wa van 0-100kpu in slegs 7,8 sekondes te laat versnel. Ry jy egter ligvoets kan die kolos jou beloon met ‘n dieselverbruik van slegs 7,3l/100km.

Vir diegene onder ons wie dit kan bekostig, is die Mercedes GLS 350d se basisprys van R1,283,900-00 nie te sleg nie. Dit bied veel meer as sy mededingers uit Japan en is heelwat goedkoper as daai fênsie Engelse wa waarmee die koningin rondgery word. Dit bly steeds ‘n voertuig wat slegs vir ‘n klein minderheid beskore is. Wat ‘n voorreg sal dit nie wees om so wa te besit.

15c1349_039 dsc_0683 mercedes-benz-gls-2017-1024-9c mercedes-benz-gls-2017-1024-98 mercedes-benz-gls-2017-1024-a3