20ste George Oumotorskou gedryf deur Oakhurst Versekering

20ste George Oumotorskou gedryf deur Oakhurst Versekering

Die Oakhurst versekeringsmaatskappy is vanjaar die trotse borg van die 20ste George Oumotorskou wat op 13 en 14 Februarie deur die Suid-Kaap Oumotorklub aangebied word.

“Ons is verheug daaroor om in vennootskap met die Suid-Kaap Oumotorklub te wees en baie trots daarop om die hoofborg van die George Oumotorskou in 2016 te wees,” sê Peter Grindlay, besturende direkteur van Oakhurst Versekering. “Dit is ’n voorreg om vir die 20ste herdenking van hierdie wonderlike geleentheid aan boord te kom.
“In die lig van ons besigheid en ons belangstelling in motors en as die enigste versekeringsmaatskappy met ’n hoofkantoor in George, was dit die volgende logiese stap om betrokke te raak by hierdie hoogtepunt op die dorp se kalender. Ons sien uit na ’n uitstaande geleentheid en ‘n groot besoekerstal.”

Intussen is voorbereidings vir die skou sterk op dreef. “Alles verloop volgens plan en vanjaar se skou beloof om nog groter en beter te wees danksy ons nuwe borg,” sê Mike Alexander, koördineerder van die Suid-Kaap Oumotorklub wat dié belangrikste geleentheid op George se kalender organiseer.
“Meer as 90 stalletjies het reeds registreer om by vanjaar se skou sake te doen,” sê Krige Bolton, wat die itstallings koördineer. Volgens hom het daar reeds 25 kosstalletjies, 34 vlooimarkstalletjies en 30 motorverwante stalletjies registreer. “Die uitstallers was verlede jaar baie tevrede met die rekordtal besoekers van bykans 11 000.”

Volgens Philip Rosser, wat registrasie van die voertuie wat uitgestal word koördineer, is daar reeds sowat 200 eienaars wat hul voertuie geregistreer het. “Ons doen ‘n beroep op die voorsitters van klubs landwyd om so gou moontlik te registreer.”
Philip Kuschke, wat die Veteraantoer (Vettoer) organiseer, sê daar is reeds 23 voertuie geregistreer wat aan vanjaar se toer vanaf Albertinia op 12 Februarie gaan deelneem. “Die vereiste vir vanjaar se inskrywings is dat die voertuie vervaardig moet wees sonder voorremme vervaardig is.” Onder die deelnemers is eienaars van Harrismith, Durban, Pongola en ‘n hele paar van Kaapstad. “Motors van besondere belang op die toer is ‘n 1913 Benz, ‘n 1911 EMF en ‘n 1916 Maxwell,” sê Kuschke.
Ignatius Anker, wat in beheer is van die modelmotor-uitstalling, sê daar sal vanjaar weer sowat 25 uitstallers wees wat altesaam tussen 4500 en 5000 items sal uitstal. Van die modelle sal ook te koop aangebied word.

Die uitstalling lok jaarliks honderde deelnemers wat hul veteraan en klassieke voertuie (voor 1975 vervaardig) kom uitstal, asook veteraantrekkers, – vragmotors en statiese enjins. Naas hierdie ryke verskeidenheid is daar ook omgeboude motors en ‘n groot verskeidenheid motorfietse, wat ook veteraan-motorfietse insluit.
“As deel van die 20ste herdenking van die skou, sal hoogtepunte uit die afgelope twee dekades weer aangebied word,” sê Alexander.
Vanjaar kry die eienaars van Amerikaanse voertuie geleentheid om die voertuie in die ereplek in die Sirkel van Faam uit te stal. “Voortaan sal voertuie wat in die verskillende lande vervaardig is ‘n beurt kry om hier te staan.”
Volgens Alexander word besondere moeite gedoen om die verbyrit van voertuie in die arena goed te koordineer. “Dit sal so aangebied word dat toeskouers van waar hulle sit en kuier die voertuie kan bewonder.”

Nog ‘n hoogtepunt is die veiling van veteraan- en klassieke motors wat deur House of Classic and Sports Cars van Knysna aangebied word.
Besoekers sal ook aan verskeie kompetisies, wat deur die hoofborg aangebied word, kan deelneem. ‘n Musiekkonsert deur plaaslike kunstenaars word Sondag oor die etensuur aangebied. Meer inligting oor die deelnemers sal later bekend gemaak word.
Die Rotariërs organiseer die biertuin wat verlede jaar aansienlik uitgebrei het om sitplek vir sowat 400 persone te bied.
Die skou word soos gewoonlik op die skoolterrein van die PW Botha Kollege in Yorkstraat aangebied.

Kontaknommers
Algemene navrae: Chris van Staden – 082 491 5254
Registrasie van inskrywings: Philip Rosser – 082 410 5490
Vettoer: Phillip Kuschke – 082 856 5152
Modelmotors: Ignatius Anker – 082 442 9875
Uitstallers: Krige Bolton – 082 475 7855
The House of Classic and Sports Cars: 044 382 1000, 082 566 7897 of info@hocasc.co.za
Besoek die Suid-Kaap Oumotorklub se webwerf vir meer inligting by http://www.scocc.co.za/

DSC_0195