20ste George Oumotorskou ‘n reuse sukses Fotos: Francois Germishuys

20ste George Oumotorskou ‘n reuse sukses Fotos: Francois Germishuys

‘n Rekord aantal besoekers, altesaam 12 150, het vanjaar se George Oumotorskou bygewoon. “Dit is ‘n rekord getal toeskouers vergeleke met verlede jaar se 10 750,” sê Mike Alexander, koördineerder van die Suid-Kaap Oumotorklub se skou komitee wat die 20ste George Oumotorskou gereël het.


“Hierdie skou het gegroei in getalle, statuur, bydrae en waardetoevoeging,” het Onderburgemeester Daniel Maritz tydens die amptelike opening van die skou in die hoofarena op die PW Botha Kollege se sportterein in York straat gesê.
“Vennootskappe vorm die basis van verbeterde dienslewering, die fondasie vir ekonomiese groei, die stuurkrag vir die ontsluiting van geleenthede en die basis vir sosiale verbintenisse.”
Maritz het Oakhurst Versekering, vanjaar se hoofborg, asook Protea Hotel, wat reeds jare lank die skou ondersteun, bedank vir hul ondersteuning van die George Oumotorskou.
Maritz het ook die eienaars van die veteraanmotors wat ‘n week vantevore ‘n toer deur voorheen agtergeblewe voorstede van George gedoen het bedank vir hul bydrae. “Wees verseker, u het baie nuwe vriende en belangstellende ondersteuners bygekry.”
Sowat 1 050 voertuie, insluitend ou motors, trekkers, motorfietse en statiese enjins, is geregistreer vir die uitstalling, asook sowat 80 nuwe motors en motorfietse.
Motors wat in Amerika vervaardig is het vanjaar die ereplek beklee. “Hiermee begin ons ‘n nuwe tradisie, naamlik om elke jaar die voertuie wat in verskillende lande vervaardig is die ereplek te gee,” sê Alexander.
Voertuie wat in elke smaak val het deel gevorm van die groot verskeidenheid besienswaardighede: veteraanmotors wat uit die vroeë 1900’s dateer, klassieke motors wat voor 1975 vervaardig is, gewilde versamel-items soos MG’s, Mini’s, Volkswagen Kombi’s en vele meer. Veteraantrekkers, ‘n klompie Vespas en ‘n klein uitstalling van veteraan-oorlogsvoertuie het ook deel uitgemaak van die ryke verskeidenheid.
Sowat 30 veteraanmotors, wat sonder voorremme vervaardig is, het aan vanjaar se Veteraantoer (Vettoer) deelgeneem vanaf Albertinia na George.
Hierdie veteraanmotors het, soos gewoonlik, groot belangstelling ontlok, en het die aanskoulike verbyrit van veteraanmotors afgeskop terwyl elke eienaar die geleentheid gekry het om te vertel hoe hy sy voertuig bekom het.
Elkeen van die besoekers, van die hooftent , teen die hellings onder koeltebome en selfs diegene in die SAB-biertuin, wat vanjaar nog meer sitplek onder sambrele gebied het, kon deel in die glorie van die verbygaande voertuie.
Brett Gage van Kaapstad het vanjaar sy 1990 Bentley Continental Convertible, een van die voertuie in sy uitgebreide versameling van tot 50 voertuie oor die wêreld heen, uitgestal. “Mans is klein seuntjies wat nooit grootword nie – hul speelgoed raak net duurder,” sê hy.
Volgens Gage lê die waarde van die George Oumotorskou daarin dat enigiemand ‘n voertuig kan uitstal. “Elkeen van ons waardeer en geniet ons kosbare voertuie, miskien omdat dit ‘n mens sekere voertuie uit jou jeug laat onthou.”
Nog ‘n hoogtepunt van die skou was die veiling van versamelaarsitems deur die House of Classic & Sports Cars van Knysna. Altesaam 15 voertuie is aangebied en “ ‘n 1948 Packard Super 8 het die hoogste prys van R258 000 behaal,” het Jimmy Keever, eienaar van die afslaershuis, gesê.
Letterlik kamers vol modelvoertuie is uitgestal en te koop aangebied, sowel as die van Colin Urquhart van Port Elizabeth wat ‘n verskeidenheid versamelings tot hierdie besonderse uitstalling gevoeg het.
“Ek versamel Dinky, Matchbox en Corgi-modelle en met die verloop van die jare het ek tussen 800 en 1 000 items versamel,” vertel hy. “Omdat ek self ‘n versamelaar is, kom ek graag na die George Oumotorskou om te sien wat uitgestal en te koop aangebied word.”
Meer as 100 stalletjies het ‘n groot verskeidenheid lekkernye en drinkgoed, kuns en kunsvlyt asook motorverwante artikels te koop aangebied.
“Ons is baie tevrede met vanjaar se skou en kan net voortbou op ons sukses,” sê Alexander.

oumotor1 oumotor2 oumotor3 oumotor4