Aston Martin Vantage Passie op Wiele

Aston Martin Vantage Passie op Wiele

Artikel en Fotos: Johann van Tonder

 

Dis nie elke dag dat mens die geleentheid kry om in ‘n Aston Martin rond te ry nie. Die geleentheid het ons so toevallig te beurt geval, mens kan amper se dit was bestem om so te wees.

 

Ultimate Drive berig grotendeels oor nuwe motors, maar in die huidige ekonomie is daar ‘n groot skuif na gebruikte motors. In die tweedehandse mark is daar nie net besondere waarde te vinde in laat-model lae-kilometer voertuie nie, maar ook spesiale voertuie teen billike pryse, soos ons met die sportmotor agter gekom het. Toe Ultimate Drive begin rondkyk in die tweedehandse mark en op die Aston Martin afkom, moes ons hom net ry. Vir die wat nog nie die voorreg beskore was nie kan ek berig dat dit alles is wat jy droom dit sal wees.

 

Die Aston Martin motor maatskappy het ‘n kleurvolle geskiedenis sedert sy ontstaan in 1913 toe Lionel Martin besluit het om sy eie renmotor te bou om Aston Hill mee uit te jaag. Sederdien was daar twee wêreld oorloë, resessies en finansiële probleme, met die maatskappy wat meer as een keer onderdeur was en dikwels van eienaars verwissel het. Tog bestaan die maatskappy vandag nog, want daar is een kenmerk wat konstant gebly het deur die geskiedenis van hierdie fabrikaat: hy was altyd gedryf deur  mense met passie vir motors en dan spesifiek, renmotors. Dit is dan ook geen wonder dat hierdie motors soveel passie onder hul eienaars, bewonderaars en ondersteuners verwek nie.

Ons toets motor was die Aston Martin Vantage. Die Vantage is as’t ware ‘n intree-vlak Aston Martin doelgebou om ‘n meer bekostigbare Aston Martin aan die mark beskikbaar te stel. Nie dat die model enigsins afsteek by sy groter boeties as dit by kwaliteit kom nie. Van die oomblik wat jy die deur van hierdie eksotiese motor oopmaak weet jy jy het hier met ‘n prima produk te doen. Geen moeite is gespaar om seker te maak dat die kliënt net die beste kwaliteit ontvang nie. Die leer, die afwerking, die aandag aan detail, nêrens is afgeskeep nie. En al is die ‘n tweedehandse model wat terug dateer na 2008, was die Aston (wat net 18 000km op die klok het) slegs met sintetiese lappies skoongemaak. Die agt jaar oue verf het nie die geringste merkie op nie. Die een eienaar sedert nuut het die Aston liefdevol vertroetel en opgepas soos ‘n baba. As die motor snags op ‘n tapyt geslaap het, sal dit my geensins verbaas nie.

 

Maar as jy die aansitter druk en daardie V8 hoor brul, dan wéét jy hoekom ‘n voertuig soos die soveel passie ontlok. Aan die hart van enige sportmotor is ‘n besonderse enjin en hierdie is geen ‘n uitsondering nie. Die Aston Martin Vantage spog met ‘n 4.3 liter V8 wat maar te gewillig is om sy 280 kW binne ‘n oomblik te lewer. Die Vantage se veelsydige enjin is ontwikkel vir beide werkverrigting en betroubaarheid wat die Vantage nie net ‘n eksotiese motor maak nie, maar ook ‘n motor wat elke dag gebruik. In ag genome dis ‘n sport motor is daar genoeg ruimte, die vering is nie klip hard nie en die stuur nie te direk nie. Dis eintlik ‘n heel gebruikersvriendelik motor, alhoewel mens sukkel om nie kort-kort hard te versnel net om die musiek van daai V8 te hoor nie.

 

Nou wat kos so motor? Vir iemand wat in die mark is vir ‘n verrigting buksie soos ‘n Mercedes  A45 AMG is hierdie Aston Martin dalk nie buite bereik nie. Ons Aston Martin Vantage toets motor is goedgunstiglik beskikbaar gestel deur Carpointe in George en hierdie spesifieke model is beskikbaar vir ‘n skamele R850 000-00. Dis minder as wat jy gedink het, né?