Audi A5 ‘n genotvolle ryding Artikel en Fotos: Charlen Raymond

Audi A5 ‘n genotvolle ryding Artikel en Fotos: Charlen Raymond

Ek gaan nie doekies omdraai nie: híérdie Audi A5 TDI het my bekoor. Nie omdat dit stylvol, mooi en aantreklik is nie, maar omdat ek elke rit agter die stuur geniet het. Maar laat ons by die begin begin. Die kar se vloeiende lyne en lae profiel maak van dit ʼn trekpleister op die pad en die lekker 18-duim bande rond als net mooi af. Dis die een groot voordeel van ʼn koepee-tipe voertuig: die aantreklike stilering. En dis baie keer al rede wat jy kort om een aan te skaf.

Mooi, maar dalk minder prakties?

Vir die bestuurder en voorste passasier is daar nie juis veel om oor te kla wanneer dit by die stylvolle gemak van die A5 kom nie. Van die intrapslag is jy meer as gemaklik. Maar dis ‘n sportiewe model wat beteken die motor is laag, so groter ouens en vrouens gaan makliker inklim as uitklim. Dis nou maar een van die kompromeë van ‘n sportiewe motor, maar as dit jou nie pla nie, gaan dit jou nie pla nie. As gevolg van die koepee vorm en twee deure is sitplek agter heelwat meer knap as in ‘n sedan. Kinders, eerder as rugby voorspelers sal gemaklik wees agter. Maak dus seker met die koopslag wie jy agter-in wil laai.

Lekker op die pad

Onder die enjinkap skuil Audi se 2.0-liter diesel enjin wat 140kW en 400Nm uitskop. Dis lekker syfers en dit maak dat jou regtervoet onwillekeurig begin klop. Met 400Nm (wat al van onder 2000rpm beskikbaar is) weet jy jy gaan vet-pret hê. Daar is ʼn paar ritmodusse om van te kies wat die motor se verrigting beïnvloed, en dis dan hier wat die A5 begin uitblink. Die kar kan in gemak voort ploeter, sonder dat jy voel dat die rit vervelig of langdradig is.

Maar die modus wat die beste uit die kar bring is ongetwyfeld Dynamic. Die kar se suspensie raak ʼn bietjie fermer, die stuuraksie meer direk en die reaksie van die petrolpedaal meer gevoelig. En dit verander die kar in iets wat nie juis met ʼn diesel-gedrewe kar geassosieer word nie. Die A5 klim teen die toere uit, dit tel spoed op met mening en sit om ʼn draai so bes dit kan. Maar die beste aspek van hierdie model: teen 120km/h en in sewende rat kielie die kar 1800 revolusies per minuut en gebruik dit skaars 4.5-liter/100km. Selfs teen 140km/h is ʼn gemiddelde verbruik van 5.0-liter/100km ook op die tafel. Dis regtig ekonomies!

Anders as die A4 waarop die A5 geskoei is, is daar praktiese tekortkominge met ‘n tweedeur-koepee keuse. Maar as jou kinders egter reeds groot is en jy die luukse het om weer vir ‘n slag die sportiewer keuse te maak is die A5 ʼn dinamiese proposisie het dit genoeg skietgoed om jou te laat glimlag. Hierdie kar is genotvol en huts jou aan vir net nog één rondrits. Lekker.