AUDI SE KORDATE VEELDOEL BLITSBUKS OPWINDENDE Q2 ‘N RATSE KLEIN SPORTNUTS DEUR DIRK GALLOWITZ

AUDI SE KORDATE VEELDOEL BLITSBUKS OPWINDENDE Q2 ‘N RATSE KLEIN SPORTNUTS DEUR DIRK GALLOWITZ

Met die steeds groeiende gewildheid onder jonger en moderne kopers van enigiets sportnuts, is ek van opinie dat die profiel van motormodelle in vyf jaar se tyd heel anders gaan lyk as vandag. Ek persoonlik dink die tradisionele middelslag sedan gesinsmotor se dae is getel onder die Afrika son. Dalk sal die top groot luukse waens nog aan die lewe gehou word deur ryk politici en koöperatiewe swartpakdraers, maar dit sal myns insiens maar hoogstens ‘n nismark bly.

 

Dit is dus nie verrassend nie dat omtrent al die motorvervaardigers neig na kleiner kompakte nutsvoertuie wat in die stad en op die grondpad tuis kan wees. Audi se nuwe Q2 wat onlangs plaaslik bekendgestel is, was dus geen verrassing nie, maar wat wel getref het was die oulike ontwerp, praktiese doeltreffendheid, uitmuntende paddinamika en opwindende stilering. Gebou op die VW-groep se MQB-platform kom die Q2 eiesoortig gestileer met ‘n geometriese ontwerp wat  skerp hoeke, sterk lyne en prominente wielboë insluit. Die algehele voorkoms straal ‘n moderne, sportiewe en aggressiewe beeld uit. Die dak duik so effe na agter om vaagweg trekke van ‘n koepee op te roep. Die voorkant weer word gedomineer deur ‘n prominente Audi -hoekige sierrooster en groot luginlate. Agter is die kleurvariasies van die breë C-pilaar ‘n stileringstreffer met die netjiese dakvlerkie en agterste lugsnoer wat die oog vang. In Suid Afrika is 12 bakkleuropsies beskikbaar vir die Q2 met twee nuwe kleure, naamlik “Coral Orange” en “Manhatten Grey” wat eksklusief aan die Q2 model toegewys is.   

 

Binnekant is die kajuit luuks afgewerk en na gelang van die opsionele toerusting en afwerkingsvlak wat jy kies, omvattend toegerus. Die hoekige ontwerp word in die kajuit voortgesit wat sorg vir ‘n moderne voorkoms. Uitleg is tipies Audi, funksioneel en ergonomies uitstekend, met afwerking en materiale van hoë gehalte. Ek is van mening dat die Q2 se kajuit die toon aangee in sy segment. Toerusting is uitstekend, veral in die modelle met die S-Line pakket afgewerk. Audi se opsionele “Virtual Cock Pit” is myns insiens seker die beste instrumentasie tans beskikbaar en is funksioneel briljant met omtrent al die elektroniese katoeters, selfs satelliet navigasie, daarmee geïntegreer! Met Audi Connect kan jy byvoorbeeld via Google Earth en Google Street View enige adres vind en die motor kan ook in ‘n WiFi “Hotspot” verander word om tot 8 verskillende fone/tablette/skootrekenaars gelyktydig te hanteer.

 

Audi SA het die Q2 plaaslik bekendgestel met die keuse van twee petrol- of een dieselenjin.

Die 1.0 liter TFSI petrolenjin bied 85kW en 200Nm se piekverrigting. Die opsie sal eers vanaf Mei plaaslik beskikbaar wees. Tydens bekenstelling het ons met die 1,4TFSI petrolenjin Sport modelle gery. Piekverrigting is 110kW en 250Nm met COD-tegnologie (Cylinder on demand) wat die 2de en 3de silinder uitskakel wanneer die enjin minder as 100Nm benodig en die enjinomwentelinge tussen 2000-3000rpm is. Aandrywing is deur die voorwiele via ‘n 6-gang handratkas of die 6-gang S-tronic outokas. Slegs een dieselenjin model, naamlik die 2.0TDI met 105kW en 350Nm en toegerus met ‘n 6-gang S-tronic outokas sal vanaf Mei 2017 plaaslik beskikbaar wees.

 

Dit was egter die Audi Q2 se paddrag en uitstekende paddinamika wat my hart gesteel het. Tydens ons bekendstellingsrit is ons vanaf Kaapstad Internasionale Lughawe oor Du Toitskloof via Rawsonville en Goudini na Wellington. Die heerlikheid vir my was uiteraard die legendariese Bainskloof Pas waar die stamperige padoppervlak enige “wannabe” sportnuts tot ‘n middelmatige stoftrapper kan afgradeer. Die knobbelbesaaide pad met sy kort draaie, hardnaaldbogge en vinnige links-regs-links swiepe, bly vir my een van die beste “toetsbane” om ‘n voertuig se onderstel en veerstelsel te evalueer. En dis juis hier, met die Q2 1.4 TFSI se S-tronic ratkas in “Sport+”- modus gestel en die stuur op Sport, wat ek behoorlik lat ingelê boontoe, stadig deur die ou tolhek, net om weer oopketel teen die berg te af! En dit was hier dat ek oopbek respek en bewondering vir die Q2 gekry het! Hierdie is een van die beste voertuie in terme van paddinamika wat ek in ‘n lang tyd onderhande gehad het. Maak nie saak hoe hard ek die skerp draaie aangeval het nie, die Q2 het net foutloos gereageer. Balans, remme, stuurpresiesheid, greep en ratverhoudings is bloot uitstaande.

 

Die nuwe Audi Q2 S-Line 1.4T S-Tronic is my gunsteling voertuig sovêr in 2017.