BMW 2-reeks Cabriolet deur Johann van Tonder

BMW 2-reeks Cabriolet deur Johann van Tonder

BMW 2-reeks Cabriolet
Johann van Tonder

‘n Voertuig met meer kopspasie as die, kry jy nie. Ons praat nou natuurlik van enige afdak voertuig, maar verwys spesifiek na die nuwe toevoeging tot die BMW 2-Reeks.


Die nuwe 2-Reeks Cabriolet het uiteindelik sy plaaslike opwagting gemaak, ‘n jaar nadat die 2-Reeks Coupe op ons Suid Afrikaanse paaie losgelaat is. BMW se gelyke nommer reekse is die meer sportiewe, meestal twee-deur weergawes van die ongelyke reekse. Die 2-Reeks is dus die meer sportiewe weergawe van die 1-Reeks en die nuwe 2-Reeks Cabriolet is ‘n direkte vervanging vir die 1-Reeks Cabriolet wat hom vooraf gegaan het.
Daar is drie modelle in die Cabriolet-weergawe beskikbaar. Aan die intree kant is daar die 220i, toegerus met ‘n tweeliter viersilinder wat 135kW en 270Nm lewer. Hierdie model versnel van 0-100km/h in 7,5 sekondes en spog met ‘n top snelheid van 231km/h, terwyl die gemiddelde verbruik slegs 6,5L/100km is. Die middel-model is die 228i, ook toegerus met ‘n tweeliter viersilinder, maar die enjin lewer ‘n baie lewendiger 180kW en 350Nm wat beteken dat ‘n lopie van 0-100km/h in slegs 6,1 sekondes afgele kan word. Die 228i se top snelheid word beperk tot 250km/h en die gemiddelde verbruik kom op 6,8L/100km te staan.
Die vlagskip van die reeks en ook die model wat ons onder hande gehad het, is die 235i. Hierdie klein motortjie is toegerus met ‘n monsteragtige drieliter ses-silinder wat 240kW en 450Nm lewer. Dit beteken dat die 235i blitsvinnig van 0-100km/h kan versnel in slegs 5,2 sekondes. Ook hier word die top snelheid beperk tot 250km/h en die verbruik syfer van die groter enjin is ‘n effens dorser 8,5L/100km.
Die nuwe 2-Reeks Cabriolet troef sy 1-Reeks voorganger met die nuutste tegnologie, asook met meer pakspasie. Die bagasieruim bied nou dertig liter meer as die dak toe is, en twintig liter meer as die dak oop is. Terloops, die dakkie neem slegs twintig sekondes om oop of toe te vou en die meganisme werk tot op 50km/h.
Daar is ‘n wye verskeindenheid opsies, binne en buite, om jou motor te verpersoonlik en die 2-Reeks is reeds toegerus met BMW se Connected Drive stelsel, waarvan die funksionaliteit toenemend in Suid Afrika uitgerol sal word gedurende 2015.
Pryse is as volg:
BMW 220i Cabriolet: R489 783
BMW 228i Cabriolet: R529 001
BMW M235i Cabriolet: R651 605