BMW M2 Koepee Eerste indrukke

BMW M2 Koepee Eerste indrukke

Uiteindelik het BMW se klein vlamgat, die nuwe M2, in Suid Afrika geland en ons was bevoorreg om die model oopketel te jaag rondom die private renbaan by die Franschhoek Motormuseum.

Dit is so dat BMW se witjasse in die M-divisie nie sommer ‘n “M”-kenteken op enige model plaas nie. Die roemryke geskiedenis van M-karre vereis juis dat elke “M”-model spesiaal en besonders moet wees.

Juis vir daardie rede was die M2 se voorganger die 1M genoem en gedagtig aan die middel tagtigers se ikoniese M1, wou die witjasse die 1M nie as ‘n ware M-model in Munchen se boeke verewig nie. Tog was die 1M een van my gunsteling verrigting Beemers. Met ‘n kort en breë onderstel kon die 1M ‘n heerlike handvol wees as jy wil kole gooi. En daardie handratkas was ‘n juweel.

 

Nou dat die 1-reeks koepee deesdae die 2-reeks genoem word, is daar geen beswaar dat die warm topmodel nou ‘n M2 heet nie. Bygesê, die nuwe M2 kom met baie meer woema en is in alle opsigte ‘n ware M-model. Die M2 is geskoei op die M235i, maar in my gesprek met die hoofingeneur agter die ontwikkeling van die M2, het hy genoem dat in sy agterkop was die ikoniese M3 CSL die maatstaf. Hy wou dieselfde stuurgevoel, enjinklank en dinamika in die M2 repliseer as wat die CSL so ‘n besondere baan-model gemaak het.

Die 3.0-liter reguit 6-silinder turboaangejaagde petrolenjin dryf deur die agterwiele via of ‘n 6-spoed handratkas of die 7-spoed M-DCT dubbelkoppelaar ratkas. Die enjin lewer 272kW se piek krag @ 6500rpm en skop 500Nm wringkrag (1400-5500rpm) uit met “Overboost” in werking,. Met die wringkrag reeds beskikbaar vanaf lae toere is die die liniêre versnelling van die M2 verstommend. Die 0-100kpu lopie neem 4,3 sekondes met die DCT kas en sou jy die opsionele “M-Driver’s Package” in jou M2 ge-installeer het, stop die naald eers op 270km/h!

 

Binnekant is die M2 soortgelyk aan die M235i behalwe vir M-stuurwiel, M- insignia en blou stiksels in die leerbekleedsel. Die diep sportsitplekke, Alcantara leer en koolstofvesel afwerking dra by tot ‘n luukse en tog sportiewe kajuit wat uiteraard rondom die bestuurder ontwerp is.

 

Om die baan was dit duidelik dat die M2 ontwikkel is om juis daar te presteer. Die M2 is nie heeltemal so willewragtig soos die 1M nie, daarvoor maak die agterste vering seker dat die agterwiele net te veel greep het.  Die stuur is heerlik gefokus en die balans as jy hard op die brieke klim aan die einde van ‘n lang oopketel-pylvlak om dan skerp deur die draai en so gou moontlik weer die petrolpedaal te plant, is onbeskryflik lekker! Omdat die wringkrag so laag in die toerestrek reeds beskikbaar is, kan jy gemakliker en vinniger in ‘n hoër rat uit die draai klim. Die M2 is egter ook heel gemaklik om teen 7000 toere deur die draai te skree terwyl die vet tekkies op 19 duimers aan die teer klou!

 

Is dit die beste M-kar ooit? Wel, meer tyd agter die stuur sal leer. Daar is ander M-karre wat veel kragtiger en veel vinniger in ‘n reguit lyn kan nael. Deur die draaie en skerp haarnaald bogge was die CSL koning. Die M2 is dalk nie die vinnigste of kragtigste nie, maar dalk, net dalk kan dit die ander troef.

 

Die  M2 Koepee in handrat  verhandel teen R791 000, terwyl die 7-spoed M-DCT model R841 000 kos.

Dit is na my mening uitstekend geprys, en die goeie nuus is dat anders as met die 1M gaan daar nie ‘n beperking wees op die hoeveelheid modelle wat gebou gaan word nie.

1