BMW R nineT Artikel en Fotos: Johann van Tonder

BMW R nineT Artikel en Fotos: Johann van Tonder

Minder as ‘n dekade gelede was BMW, as motorfietsvervaardiger, net nog ‘n fabrikaat. Behalwe vir hul gewilde GS avontuurmotorfietse was daar nie juis motorfietse wat uitgestaan het nie. Gemiddelde padfietse, gemiddelde toerfietse, met die fokus definitief op hul weelde motorvoertuie.

 

Sedert daardie dae het BMW as motorfietsfabrikaat behoorlik ‘n omwenteling ondergaan. Die GS reeks is uitgebrei en verbeter, onder die superfietse maak die S1000RR die wêreld behoorlik warm en BMW het selfs die retro-wêreld betree waar verpersoonlikte motorfietse in die vorm van Café Racers en Scramblers die erfenis van die motorfietsleefstyl vier. In kort, BMW bou deesdae motorfietse wat passie ontlok, of jou passie nou avontuur, adrenalien of leefstyl is. 

 

Die BMW R nineT verteenwoordig hierdie verpersoonlikte motorfiets leefstyl by uitstek. Die stillering is basies, maar met besonderse aandag aan detail. Die petroltenk is aluminium, die voorlig en modderskerm diskreet. Daar is geen panele wat die enjin of raam verberg nie en die enjin is die tradisionele lug en olie verkoelde bokser-enjin, ‘n erkenende kopknik aan die ou bokser enjins wat BMW so bekend gemaak het. Selfs die bekende telelever-vering voor is vervang met eenvoudiger onderstebo vurke. Maar terselfdertyd is dit ‘n moderne motorfiets. Brembo ABS remme met dubbel remskywe voor maak seker dat jy uit die moeilikheid bly sou iets onverwags in die pad opduik. Die spoed en toereteller is ronde analoog eenhede soos van ouds, maar met ‘n LCD-skerm tussenin wat die belangrikste informasie weergee. Die enjin se 81kw en 119Nm word deur ‘n enkel dryfas na die agterwiel gelewer en die retro styl uitlate is gemaak deur Akrapovič.

 

Druk jy die aansitter voel jy onmiddelik die wringkrag van die enjin wat die motorfiets so effens laat kantel as jy die toere opstoot. Die versneller se aksie is ongelooflik glad en toere rol letterlik in jou hand. Ook die koppelaar ratkas is verbasend glad, heel anders as die bokser enjins van ouds waar die ratte letterlik in ge-“klap” het. Ratwisseling is sekuur en daar is nie sprake van ‘n vals neutraal te bespeur nie.

 

Die motorfiets voel lig en rats, ten spyte van die 222kg gewig, grootliks te danke aan die lae saal wat maak dat jy gemaklik platvoet oor die motorfiets sit. Die sitposisie is lekker regop en neutraal, wat beteken dat jy ‘n goeie uitsig oor die verkeer het en nie sommer seer raak nie, al sit jy ure in die saal. Begin die wiele rol verdwyn die gewig en voel nineT heel ligvoets ongeag waar jy ry. Daar is hope wringkrag, so kan jy gemaklik teen lae toere in die verkeer ry en maak die pad oop trek die nineT soos ‘n goedere trein as jy die ketels ooptrek. Jy moet jou sit ken, want jy kan sommer voel hoe die voorwiel begin lug soek.

 

Die top snelheid draai anderkant 200km/h, maar ‘n motorfiets vir spoed is dit nie. Hierdie is ‘n stadsfiets met die oog op verpersoonliking en die nineT leen hom uit die staanspoor besonder goed vir dit. Die sub-raam agter is veranderlik en jy kan die agtersitplek en voetpenne verwyder vir ‘n meer basiese voorkoms. Of jy kan ‘n dop, soos die Café Racers van oud oor die agtersitplek plaas en die voorkoms so verander. Die flikkers, handvatsels, spieëls, basies enige iets op die fiets kan verander word om by die eienaar se unieke styl te pas. Die nineT is ast’ware ‘n skoon doek waarop elke eienaar sy eie kreatiewe idees kan verwerklik.

 

Dit is dus moeilik om ‘n motorfiets soos die nineT te beskryf. Vir elke eienaar gaan dit iets anders wees. Maar onder die vel is dit ‘n moderne motorfiets met ‘n besonderse lekker rystyl wat net ‘n plesier sal wees om te besit. Die BMW R nineT is gelyke dele nostalgie en tegnologie. ‘n Ou siel in ‘n moderne lyf.

 

Die BMW R nineT verkoop vir R179 990-00

IMG_3291 IMG_3299 IMG_3306