BMW R nineT Scrambler Johann van Tonder Kaapstad

BMW R nineT Scrambler Johann van Tonder Kaapstad

BMW, as motorfietsvervaardiger, het nou maar een maal die vermoë om die mark te lees en met produkte vorendag te kom wat kliënte wil hê. In die avontuurmotorfietsmark, wat so lewendig is en wat geteiken word deur haas elke fabrikaat, was BMW die eerste wat die golf gery het. Ander fabrikate moes opvang en vorendag kom met produkte wat kon kompeteer. Die nuutste wending onder motorfiets entoesiaste is die sogenaamde retro-motorfietse waar ‘n eienaar ‘n ou motorfiets sal neem en verpersoonlik  Hierdie motorfietse is gewoonlik minimalisties en baie neem die “Cafe Racer” styl aan. En dis net hier waar BMW die R nineT geposisioneer het. Die BMW R nineT verteenwoordig hierdie verpersoonlikte motorfiets leefstyl by uitstek en was ‘n kitssukses.

 

Die R nineT was die loods model vir BMW se nuwe Erfenismotorfietse. ‘n Hele nuwe segment van motorfietse met die fokus op die suiwer style van die dekades wat verby is. Die segment is later uitgebrei met die R nineT Scrambler en meer onlangs ook die R nineT Racer en R nineT Pure, wat ons hopelik binnekort sal ry.

 

Die BMW R nineT Scrambler gebruik steeds die R nineT as basis, maar met ‘n paar veranderinge is die Scrambler weergawe ast’ware ‘n heel nuwe motorfiets. Die sitplek en handvatsels is hoër. Die vurke voor is aangepas en die voetruste is dieselfde enduro-voetruste wat ook op van BMW se avontuurfietse te sien is. Die voorwiel is nou 19-duim, beter vir rower terrein as die 17-duimer op die R nineT, en die bande is lekker ruwe Karoo 3’s. Ook die uitlate is anders en sit hoër, en die klank wat die pype lewer moet van die beste wees wat mens op ‘n standaard motorfiets kry. Hierdie veranderinge omtower die R nineT en gee ‘n heel ander dinamika aan hoe die fiets lyk, voel en ry.

 

Die stilering is steeds basies, maar met besonderse aandag aan detail. Die petroltenk is aluminium, die voorlig en modderskerm diskreet. Daar is geen panele wat die enjin of raam verberg nie en die enjin is die tradisionele lug en olie verkoelde bokser-enjin, ‘n erkenende kopknik aan die ou bokser enjins wat BMW so bekend gemaak het. Maar terselfdertyd is hierdie ‘n moderne motorfiets. Brembo ABS remme met dubbel remskywe voor maak seker dat jy uit die moeilikheid bly sou iets onverwags in die pad opduik. Die spoed en toereteller is ronde analoog eenhede soos van ouds, maar met ‘n LCD-skerm tussenin wat die belangrikse informasie weergee. Die enjin se 81kw en 116Nm word deur ‘n enkel dryfas na die agterwiel gelewer en die retro styl uitlate is gemaak deur Akrapovič.

 

Die motorfiets voel lig en rats, ten spyte van die 220kg gewig. Die sitposisie is lekker regop en neutraal, wat beteken dat jy ‘n goeie uitsig oor die verkeer het. Tydens ons toetsrit het ons lekker in die draaie van RooiEls gespeel, maar die Scrambler sal ewe tuis op ‘n grondpad wees. Hierdie is ‘n leefstylfiets met die oog op verpersoonliking en die nineT Scrambler leen hom besonder goed vir dit. Die nineT is ast’ware ‘n skoon doek waarop elke eienaar sy eie kreatiewe idees kan verwerklik. Maar selfs in standaard vorm is dit ‘n kunswerk wat ander motorfiets entoesiaste sal bewonder. Die BMW R nineT is gelyke dele nostalgie en tegnologie. ‘n Ou siel in ‘n moderne lyf.

 Die BMW R nineT Scrambler verkoop vir R197 990-00