BMW S1000XR Johann van Tonder

BMW S1000XR Johann van Tonder

Toe BMW destyds die eerste X6 bekend gestel het, het mense gewonder waar presies pas die voertuig in? Dis ‘n sportnuts, maar nie een wat jy graag van die teer af sou vat nie. Dis ‘n verrigting motor, maar te groot, hoog en swaar om met die regte sportmotors saam te praat. Die X6 wou alles gelyk wees en as sulks kon hy nie die beste met enige iets wees nie. En tog het dit gewerk. Jy het goeie verrigting, sensuele lyne, ‘n sportnuts beeld en genoeg spasie, alles wat jy in ‘n motor wil he.

 

Nou is daar ‘n X6 met twee wiele – die BMW S1000 XR. Hierdie is ‘n pionier motorfiets uit die BMW stal wat ‘n nis oopmaak waarin die opposisie ook sal wil kompeteer. Daarvan is ek seker. Die S1000 XR het avontuur motorfiets stillering, maar soos die X6 is die XR eerlik oor sy intensies. Dis ‘n pad motorfiets hierdie. In sy pens skuil dieselfde enjin wat jy in die ander S1000 motorfietse kry, alhoewel hierdie nie die 150kW monster enjin van die S1000 RR is nie. Die XR deel die 118kW en 112Nm enjin wat jy in die naakte S1000R kry.

 

Dis ‘n kombinasie wat werk. Jy het ‘n heerlike neutrale sit posisie, regop met jou voete onder jou en jou hande gemaklik voor op die wye handvatsels. Daar is voldoende wind beskerming agter die verstelbare windskerm en die instrumentasie is goed uitgelê met al die inligting tot jou beskikking. Druk jy die aansitter is die superfiets toere wat die hoogte in skiet aanvanklik onverwags, dit voel dan of jy op ‘n avontuurfiets sit, maar as jy die oor draai met 118kW onder jou is daar geen twyfel dat jy jou op ‘n verrigting fiets bevind nie. Die reaksie is onmiddelik en die XR versnel moeiteloos deur die ratte.

 

Daar is vier ritmodusse. In die reën modus word die krag gesny na 109kW en 106Nm en die krag kurwes is meer egalig. In die ander drie modusse, “Road”, “Dynamic” en “Dynamic Pro”, kry jy die volle krag komponent, net in verskillende aanwendings. Pad modus sny die wringkrag sodra die voorwiel begin lig of die agterwiel wil uitskuif. Dynamic laat jou toe om die voorwiel te lig (tot op ‘n punt) of om die agterwiel bietjie te laat uit hang, terwyl Dynamic Pro jou jou eie foute sal laat maak. Hierdie modus moet liefs gebêre word vir renbaan dae.

 

Tydens ons evaluasie het die XR amper 2000km gery. Op die oop pad is die XR ‘n plesier. Met die gemaklike sitposisie en goeie beskerming, spoed beheer en verhitte handvatsels is ‘n 400km ontbytrit ‘n plesier en die ryer nie eers moeg na die tyd nie. In die verkeer is die hoë sitposisie en goeie uitsig ‘n groot plus, terwyl die ratse verrigting korte mette maak van enige rit winkels of werk toe.

 

Soos die X6 sportnuts is die XR ‘n prima produk. Hy maak ‘n nis oop wat ons nie geweet het ons nodig het nie, maar vul dit so goed dat ons nie weet hoe ons so lank sonder die tipe fiets in die motorfiets wêreld klaar gekom het nie. Kom ons noem dit ‘n Avontuur-Sport fiets. GS ryers wat nooit van die teer af gaan nie, of Blackbird en FJ ryers wie se motorfietse bietjie lank in die tand raak kan maar almal met hul volgende aankoop die XR ‘n toetsrit gee.

 

Die BMW S1000 XR verkoop vanaf R226 990-00.

xr1 xr2 xr3