Ford Focus RS mág windgat wees Artikel: Charlen Raymond. Fotos: Johann van Tonder

Ford Focus RS mág windgat wees Artikel: Charlen Raymond. Fotos: Johann van Tonder

Daar is nagte wanneer jy nie jou lê kan kry nie; wanneer Klaas Vakie net nie sy opwagting wil maak nie. Probeer soos jy wil, jy kan nie wag vir die oggend om te kom nie. Die opgewondenheid is tasbaar en jou hart klop met mening in jou keel. Kan die haan nie net kraai nie! Want jy weet dat ná ʼn vinnige stort en ontbyt wag daar vir jou ʼn blou kar van die Blou Ovaal: Ford se vuurwarm Focus RS.

Gooi mielies!

Die Focus RS gebruik dieselfde enjin as die Mustang EcoBoost, maar in die eersgenoemde is kragsyfers opgestoot tot 257kW en 440Nm. Dit lees lekker, maar wat nóg lekkerder is is dat al daardie krag deur al vier wiele na die teer gestoot word. Dis reg, Ford het die derde-generasie Focus RS met ʼn vierwiel gedrewe stelsel toegerus om die krag te hanteer. Wanneer dinge lekker warm raak kan tot soveel as 80% van die krag na die agterwiele gestuur word, maar 100% van al die krag kan na enige van die twee agterwiele gestuur word vir die beste moontlike traksie uit ʼn draai.

Die vering is aan die harde kant – wat mens van ʼn vuurwarm luikrug kan verwag – maar die bestuursmodusse dra elkeen by tot ʼn ander bestuursondervinding. In Normal is die kar mak, maar in Sport, Sport+, Track en Drift modusse verander die Focus handomkeer. Die uitlaatstelsel klap en raas, die stuuraksie raak meer gewigtig en jy glimlag met elke trap van die versneller! In veral Sport+ en Track modusse raak die kar wakker met ʼn presisie wat maak dat jy die kar harder wil ry; méér wil lag met elke rat wat geselekteer word!

Windat houding

Die vet bande, groot lug-inlate, lae profiel en massiewe drukvlerk dra by tot ʼn groot teenwoordigheid op die pad. En om daardie teenwoordigheid te onderstreep hardloop die Focus RS van stilstaan tot 100km/h in slegs 4.7 sekondes en die kar sal aanhou hardloop tot by ʼn topspoed van 266km/h. Maar dis juis hóé Ford sy ding doen wat die meeste beïndruk. In-rat versnelling is oombliklik en ʼn RS liggie dui aan wanneer dit die ideale tyd is om die ses-spoed handrat in die volgende rat te sit. Daar is bykans nooit die gevoel dat die kar genoeg gehad het nie en die bestuurder word ten alle tye betrek. En dít is lekker!

Teen bykans R700 000 is die Ford Focus RS nie goedkoop nie, maar vir hierdie tipe geld kry jy behoorlike verrigting en sakke vol eksklusiwiteit. Dis ʼn verteenwoordiging van alles wat Ford verrigting motors goed maak en sal ongetwyfeld in die geskiedenisboeke opgeteken word as een van Ford se beste produkte.