FORD RANGER Super Cab 3,2D XLT Outo 4×4 Luukse bakkie vir speel en werk Deur Dirk Gallowitz

FORD RANGER Super Cab 3,2D XLT Outo 4×4 Luukse bakkie vir speel en werk Deur Dirk Gallowitz

Ford kan homself maar gerus op die skouer klop. Die afgelope jaar of twee is die Blou Ovaal se modelle deel van die voorpunt van die verkopeketting. Die Ranger bakkie is gereeld die topverkoper in sy segment en handelaars sukkel om genoeg voorraad te kry om in die vraag na die opgeknapte modelle te hanteer.

Dalk behoort die nuwe Hilux so ‘n effense demper daarop te plaas, maar Ford se ander modelle verkoop ewe fluks. Die EcoSport lei die klein SUV segment met die Fiesta wat ewe gewild is. So pas het die Fusion tweede geëindig in die gesaghebbende Wesbank SAGMJ se Motor van die Jaar kompetisie vir 2015. Vir die wat nog nie ‘n Fusion van nader bekyk het nie gaan doen jouself ‘n guns en loop loer – dis ‘n blerrie lekker kar en uitstekende waarde vir geld.

 

Ek het uiteindelik my hande kon lê op die nuwe Ford bakkie met ‘n vergrote kajuit – Ford noem dit die Super Cab. Ons toetsmodel was uitgerus in luukse XLT gewaad met die fris 3,2 liter-dieselenjin en die 6-spoed outomatiese ratkas. Die pragtige Ford-blou, met ‘n klomp ekstra blink bykomstighede het egter my oog gestreel. Alhoewel ek ’n handrat man is, was ek na ‘n week se ry, werk en speel heel ingenome met die outokas en het die ou bloue met ‘n swaar hart teruggevat.

 

Teen hierdie tyd weet omtrent almal al hoe lyk die nuwe model, so ek gaan liefs fokus op die dinamika en ritervaring van die Super Cab. Ek is glad nie ‘n dubbelkajuit aanhanger nie en enkelkajuite is weer effe te knap na my sin. Die vergrote kajuit van die Super Cab is egter ideaal en as knapsakboer en kleinsakeman het ek die ekstra ruimte agter die sitplekke nuttig gevind.

 

Die XLT is die Ranger se heel luukse afwerkingspesifikasie en die moderne kajuit is netjies afgewerk, ergonomies goed uitgelê en omvattend toegerus. Ons toetsmodel se afwerking binne was swart met dof gepoleerde aluminium invoegsels. Die groot leersitplekke was gemaklik en het goeie steun gebied. Die digitale skerm agter die stuur het die instrumentasie en inligting duidelik leesbaar aangebied met die groot raakskerm middel bo op die voorpaneel wat alle funksies vir voertuiginligting, kommunikasie en klankvermaak intuitief en maklik in die bereik van die bestuurder plaas. Die kajuit is ruim, voel luuks en bied ‘n lekker hoë posisie van agter die stuurwiel.

 

Die 3,2l vyf silinder turbodiesel in die 2016 model is net so oorgedra vanuit die vorige generasie, maar nou met nuwe silinders en uitlaatstelsel om die enjin se geraasvlakke te verlaag. Die enjin lewer 147kW se piekkrag met 470Nm wringkrag. Die kragtige enjin is ‘n plesier om mee te sleep en 4×4 roetes mee te takel. Grondvryhoogte is 237mm, naderhoek 25˚ en vertrekhoek 21˚ terwyl jy gemaklik deur 800mm water kan ry. Ek het 350kg agter op die bak gelaai en ‘n sleepwa met 2ton se vrag agteraan gehak en toe die heuwels gaan opsoek. Die Ranger het speel-speel daarmee gedeel en soms moes ek in die tru-spieël kyk om seker te maak die sleepwa is steeds agter gehak!

Ons toetsbakkie was omvattend toegerus met ondermeer sleepwahulp, stabiliteitsbeheer, sluitweerremme, heuwel-af-hulp, aanpasbare spoedbeheer, baanverlaatgonsers, ‘n naderwaarskuwingstelsel wat teen die vooruit voor die bestuurder flikker sou daar te naby aan die voertuig voor jou gery word, asook parkeergonsers en ‘n trukamera.

 

Met die fris enjin se baie wringkrag en veral in die outomatiese weergawe was stadsry lekker gemaklik en op die ooppad het die langbene van die 6-spoed outokas gesorg vir ‘n baie goeie brandstofverbruik.

Ek verkies steeds die 6-spoed handratkas (die handrat model is ook effens goedkoper), maar die outomaties is ‘n heerlike bederf vir gemaklik ry.

1 2 3 4