Gewilde Sandero versterk sy aanslag Artikel en Foto: Johann van Tonder

Gewilde Sandero versterk sy aanslag Artikel en Foto: Johann van Tonder

Toe die Renault Sandero die eerste keer sy verskyning op ons Suid Afrikaanse paaie maak, het hy sommer met die intrapslag ‘n goeie indruk gemaak. Plaaslik het die Sandero meegeding met voertuie soos die Polo Vivo, Toyota Etios en Ford Figo, almal basiese motors met vorige geslag tegnologie, maar teen ‘n mededingende prys.

 

Renault se tweedegeslag-Sandero het egter die speelveld heeltemal verander. Dit was ‘n heel nuwe aanslag wat die ander fabrikate in die segment redelik onkant gevang het. Die resep van goedkoop basiese motor met ou tegnologie is by die deur uitgegooi en die nuwe Sandero was direk van Roemenië ingevoer met opgeknapte stilering en beter toerusting. Nie net was die Sandero goed toegerus nie, maar hy is goed toegerus met moderne tegnologie. Selfs die enjin was die nuutste 900cc 3-silinder-turbo-enjin wat jy ook in die Clio aantref.

 

Die resep was ‘n sukses. Sedert die Sandero se eerste bekendstelling in 2009 is daar reeds meer as 46 000 eenhede van die hand gesit. 17 306 hiervan in die laaste drie jaar sedert die moderner Sandero sy opwagting gemaak het.

 

Nou het Renault na deeglike oorweging en jare se ondervinding in die segment, die Sandero modelreeks nog aantrekliker gemaak. Verkoopsyfers het gewys dat die intree model goed verkoop, maar dat heelwat kopers tog streef daarna om die effe rower Stepway model, wat tot dusver die vlagskip van die reeks was, te koop. Enige iets sportnuts is die in ding deesdae en die Stepway met sy ruwer voorkoms is nou binne die bereik van meer kopers. Daar is net drie modelle. Die intree Sandero Expression bly, maar is verfris en bied nou meer waarde as voorheen. Daar is ‘n nuwe gesig kompleet met dagryligte, kleur gekodeerde spieëls en dakvlerkie, elektriese vensters voor, sentrale sluitstelsel, ECO-modus, Bluetooth / USB / MP3 konnektiwiteit en dit sluit nog nie die veiligheid stelsels in nie. Lugsakke voor, ABS, EBD, EBA (Noodremhulp), vastrapbeheer, ’n elektroniese stabiliteitsprogram (ESP) en ook wegtrekbeheer teen opdraandes kom as standaard oor die hele modelreeks en maak die Sandero van die veiligste in die segment.

 

Die intree Sandero is nou die enigste Sandero in die modelreeks, met die Stepway wat nou ‘n keuse van twee modelle bo die intree Sandero bied: Die Stepway Expression en die Stepway Dinamique. Die Expression bring die Stepway binne bereik van meer kopers en bied dakrakke, glyplate voor en agter, uitgeboude wielboë en 16”wiele. Skuif jy op na die Dinamique model kom luukses soos spoed beheer, elektriese vensters agter, elektries verstelbare spieëls, kant lugsakke, leer stuurwiel en ratkierie, parkeersensors agter asook ‘n 7” skerm met satelliet navigasie by.

 

Tydens ons bekendstellingsrit in die stad het die Sandero eweneens beindruk. Die 900cc lae-inertia-turbo lewer 66kW en 135Nm,  met maksimum wringkrag reeds teen 2 500 r/min tot jou beskikking. Dus het die Sandero ‘n gemaklike karakter in die verkeer gekoppel met ‘n lae verbruiksyfer van minder as 6 liter per 100km, laer as wat die konkurrente se natuurlik geaspireerde enjins kan vermag. In die kajuit kry jy ‘n gevoel van ‘n moderne motor wat goed aanmekaar gesit is. Die Sandero sit gemaklik en daar is kop en skouer spasie in oorvloed. Selfs die agter sitplekke kan met ‘n 60/40 verdeling platgeslaan word.

 

Die nuutste Sanderos bewys dat ‘n intree segment motor nie soos ‘n intree segment motor hoef te voel nie. Geen ou tegnologie, opdraai ruite of besparings op simpel dinge soos spieltjies in die sonskerm nie. Die Renault Sandero bied ‘n moderne motor teen ‘n intree prys. Gaan vergelyk die pryse, verrigting, verbruik, en toerustingvlakke tussen die Polo, Figo, Etios en Sadero maar self en maak ‘n ingeligte besluit!

 

Die Renault Sandero verkoop vanaf R159 900-00 en kom met 5-Jaar, 150 000km Waarborg en 2-Jaar 30 000km diensplan.