Harley-Davidson Night Rod Special Artikel en Fotos: Johann van Tonder

Harley-Davidson Night Rod Special Artikel en Fotos: Johann van Tonder

In 2001 het Harley-Davidson ‘n opwindende nuwe reeks tot hulle motorfiets modelle bygevoeg, die V-Rods. Hierdie nuwe reeks was radikaal verskillend van Harley-Davidson se bestaande reekse. Met ‘n moderne styl en ‘n hoëverrigtingenjin (wat Harley-Davidson saam met Porsche ontwikkel het) het hierdie fiets net een doel voor oë gehad – versnelling! Terwyl sommige van die Harley-Davidson puriste teen die nuwe wending teëgeskop het, het die V-Rod-reeks dit reg gekry om ‘n heel nuwe groep kliënte na die Harley-Davidson stal te lok.

Die Harley-Davidson Night Rod Special is donker en modern. Met sy lang lae profiel lyk dit soos iets wat in Batman se motorhuis sal staan en glo my, hy trek aandag waar ook al jy gaan. Hierdie is nie jou ordinêre super fiets nie. Hy lyk anders, voel anders, sit anders en ry anders – want sy fokus is anders. Die aggressiewe fiets is lank, breed en laag en anders as op ‘n super fiets waar jy amper plat voor-oor op die fiets lê, sit jy hier met jou voete doer voor, amper soos op ‘n cruiser, terwyl jy ook vooroor leun sodat jou hande by die handvatsels oorkant die tenk kan bykom. Dit klink ongewoon en voel aanvanklik ongewoon, maar snaaks genoeg is dit nie regtig ongemaklik nie.

 

Skakel jy die fiets aan besef jy onmiddellik hierdie is nie jou gewone Harley-Davidson nie. In plaas van die kenmerkende Harley-Davidson geblaf tel die toere op die Night Rod Special vinnig en seepglad op. Stop jy by die robot besef jy skielik jy het ‘n lang oop reguit stuk pad voor jou en die duiweltjie op jou skouer wil maar net nie ophou praat nie, want hierdie fietse is gebou vir versnelling…

 

Gewone super fietse se fokus is op krag (kW) en spoed, maar in teenstelling hiermee fokus Harley-Davidson se V-Rod reeks op wringkrag (Nm) en daarvan is daar emmers vol. Die waterverkoelde 1247cc enjin lewer 111Nm teen 7250 toere. Met ‘n 240mm agterwiel wat die krag op die pad neersit versnel die Night Rod met die krag van ‘n stoomtrein ongeag of daar ‘n opdraand of ekstra gewig op die fiets is. Die gevoel is ongelooflik. Dis brute krag. Dis verslawend en voor jy kan besluit of jy die saal moet vas knyp of uitbundig moet lag rits jy deur die ratte en daar is niks behalwe adrenalien in jou are terwyl jy soos ‘n vuurpyl versnel, versnel en bly versnel nie. Die Night Rod is vet pret om te ry en uiters cool daarby. Maar dis hoe hy jou laat voel as jy jou been oor gooi wat van hom ‘n wenner maak. Dis nie net ‘n fiets vir die jonger geslag nie, dis ‘n fiets wat jou jonk sal hou. En dis wat jy wil hê.

 

Die Night Rod Special verkoop vanaf R 239 000-00.

hd6 hd5 hd4 hd2 hd3 hd1