Harley-Davidson Road King Artikel en Fotos: Johann van Tonder

Harley-Davidson Road King Artikel en Fotos: Johann van Tonder

Die naam is net so indrukwekkend soos die fiets. Dis ‘n Harley-Davidson FLHR Road King. In ‘n glimmer-groen en met baie chroom. Die styl en stilering is ou-skool en onmiskenbaar Amerikaans. Dis asof jy verwag om ‘n vlag vol sterre en strepe op die tenk te sien. En as jy jou been oorgooi, voel jy amper soos Marlon Brando in die fliek The Wild One.

Met ‘n motorfiets soos hierdie gaan dit nie oor versnelling of spoed nie, maar oor wringkrag. As die 103 kubieke duim (dis nou 1690cc vir ons in die metrieke wêreld) V-twee enjin met sy 138Nm onder jou begin brul en die wiele rol hoor jy die klanke van Bob Segar se Roll Me Away in jou ore. Die enjin maak gebruik van twee verkoeling metodes. Die enjinblok is lugverkoel, terwyl daar van vloeistof gebruik gemaak word om die silinder koppe koeler te hou. Dit word gedoen met behulp van twee diskreet versteekte verkoelers en het tot gevolg dat die kraglewering meer egalig is, terwyl die enjin temperature ook laer gehou kan word in verkeer situasies. Dis maar net een van die slim dinge wat Harley-Davidson doen om vir die klient ‘n moderne motorfiets te bied sonder om van die tradisionele waardes wat ‘n Harley ‘n Harley maak, af te sien. So is die remme ‘n gekoppelde ABS-stelsel, die Daymaker-ligte maak gebruik van LED tegnologie. Daar is verstelbare vering, spoedbeheer en selfs ‘n sekuriteit stelsel. Tog, die Harley-Davidson Road King kry dit reg om die karakter en sjarme van ‘n ou skool fiets te behou.

 

Die rit is gemaklik. Die sitplek is gerieflik en die windskerm effektief. Jy sit lekker regop met jou voete onder en jou arms voor, gemaklik. Die groot beheerkontroles kan gemaklik met ‘n handskoen verstel word en die bagasie ruimtes kan met een hand en een beweging oop of toe gemaak word. Klein dingetjies wat oor tyd verbeter is om jou ervaring van die klassieke Harley te verfyn. En as jy eers begin ry, rol die myle verby. Dis waarvoor ‘n Harley soos hierdie gemaak is. Om lang afstande in gemak kaf te draf. Die Road King slaag die toets met vlieënde vaandels.

 

Die Harley-Davidson FLHRC Road King verkoop vanaf R308 000-00.

rk2 rk3 rk4 rk5