Honda Africa Twin – ‘n Legende Herleef – Johann van Tonder

Honda Africa Twin – ‘n Legende Herleef – Johann van Tonder

Om ‘n legende te laat herleef is nie maklik nie. Die dag wat Michael Schumacher se seun, Mick, op die wegspring streep in ‘n formula 1 motor sit sal hy nie kan voorgee dat die van op die kant van sy motor niks beteken nie. Die verwagting wat so ‘n legendariese naam dra is hoog. In die motorfiets wêreld is dit die geval met die naam Honda Africa Twin.

In 1984 het Honda besluit om ‘n motorfiets te bou met ‘n enkele doel in gedagte: om te kompeteer in die lang afstand wedren genaamd die Paris-Dakar. Die Honda NXR750 was die gevolg. In 1986 word die NXR750 die eerste waterverkoelde motorfiets wat die wedren wen. Die motorfiets was so vêr voor die kompetisie dat hy die daaropvolgende jare die Paris-Dakar totaal oorheers het. ‘n Produksie motorfiets gebasseer op die kompetiesie motorfiets is in 1986 bekendgestel. Hierdie motorfiets, die Africa Twin, het oor die jare wat gevolg het homself gevestig as een van die beste avontuur motorfietse wat ooit gebou was. Na verskeie modelle is produksie gestaak in 2003, maar die Africa Twin is tot vandag toe ‘n gesogde ikoon.
Nou, 12 jaar later, het Honda die Africa Twin naam laat herleef. Die verwagting wat saam met hierdie motorfiets gekom het was enorm. Die wêreldwye bekendstelling was, heel gepas, net hier in (Suid) Afrika waar die Africa Twin nie net op die teerpaaie moes uithaal en wys nie, maar ook op die tegniese terrein van die pad af. Klippe, sand, water en tweespoor paadjies is waar ‘n motorfiets soos hierdie sy ware kleure moet wys. Die Africa Twin het nie teleur gestel nie. Die opgewonde algemene gevoel onder die verskeie joernaliste teenwoordig was dat die legendariese Africa Twin inderdaad hergebore is in die Honda CRF1000 Africa Twin.
Die konsep “Avontuur motorfiets” is oor die jare ge-erodeer tot op die punt waar swaar padfietse wat ook grondpaaie kan aandurf die norm geword het. Die fokus het verskuif na kraglewering en spoed en die ryers van die fietse wen hul argumente op papier in die naaste koffiewinkel. Die Africa Twin is anders. Hierdie is ‘n grondpad fiets eerste, met uitstekende pad maniere daarby. Aangedryf deur ‘n 1000cc paralelle tweesilinder kompeteer die Africa Twin eerder met motorfietse soos die BMW 800GS en Triumph 800 as met die 1200 dubbeldoel motorfietse. Kraglewering (70kW) is basies dieselfde as die Triumph 800, maar die wringkrag (98Nm) is meer, ideaal vir ‘n motorfiets met bagasie wat lang toere oor die kontinent moet kan onderneem. Elke aspek van die Africa Twin is ontwerp met dit in gedagte. Groot wiele, 21 duim voor en 18 duim agter, goeie grondvryhoogte (250mm) en ‘n reikwydte van 400km. Selfs die raam was ‘n punt van oorweging. Alluminium sou ligter wees, maar wat gebeur as ‘n persoon na ‘n val die fiets moet herstel in ‘n klein dorpie in Afrika? Nee, ‘n staal raam moes dit wees.
Daar is drie modelle: twee handrat (of is dit voetrat?) modelle, een met en een sonder ABS. Die derde vlagskip model kom met ‘n dubbelkoppelaar outomatiese ratkas spesifiek aangepas vir tegniese terrein. Hierdie is tegnologie wat geen ander fabrikaat tans kan bied nie. As dubbeldoel motorfietsryer was ek skepties. ‘n Outomatiese motorfiets oor tegniese terrein? Ek het die voorbehoud gedeel met die ander motorfiets joernaliste op die bekendstelling. In die veld het die dubbelkoppelaar outomatiese ratkas egter nie net verbaas nie, maar ons uit die veld geslaan. Tussen die vastrapbeheer (vier verstellings), ritmodus verstellings (“Drive” en vier sportmodusse), ABS aan of af (wat jou toelaat om die agterwiel te sluit terwyl die voorwiel nog ABS het) en die sogenaamde G-modus, spesifiek vir grondpad, kan die motorfiets in byna tagtig kombinasies opgestel word. Dis egter die absolute gemak waarmee die DCT-model oor die tegniese terrein seil, wat ervaar moet word om waardeer te word. Die goeie vering en groot wiele in kombinasie met die feit dat jy altyd in die regte rat, met al die krag tot jou beskikking is maak sand, klippe, slote of enige ander terrein wat jy mag teekom kinderspeletjies. Gedink mens kan nie talent koop nie? Hierdie motorfiets maak ruwwe terrein so maklik dat jy sal voel soos ‘n wafferse Alfie Cox terwyl die mense om jou sukkel met koppelaar beheer in uitdagende toestande.
Nie net keer die Honda Africa Terug na die basiese van wat ‘n Avontuur motorfiets moet wees nie, hy is inderwaarheid ‘n baanbreker terug in die rigting wat regte Avontuur motorfietse behoort te wees. Betroubaar en prakties ontwerp, gebou vir die ryer wat hom werklik gaan gebruik. Die gemak van gebruik van veral die outomatiese model beteken ook dat meer ryers met selfvertroue die fiets oor tegniese terrein sal gebruik, eerder as om net te paradeer en nooit die grondpaaie aan te durf nie. Daarby bied die Africa Twin ook uitstekende padgedrag, ‘n ware dubbeldoel motorfiets.
Die nuwe Africa Twin is inderdaad ‘n waardige opvolger wat nie net die legandariese status van die Africa Twin naam gaan handhaaf nie, maar gaan uitbou. Die eerste Africa Twin modelle word teen April in Suid Afrika verwag. Pryse sal afhang van die wisselkoers, maar verwag pryse in die omgewing van R160 000 tot R180 000.

 

Hoof Foto