HONDA CIVIC TYPE R ROOIWARM REG VIR RESIES Deur Dirk Gallowitz

HONDA CIVIC TYPE R ROOIWARM REG VIR RESIES Deur Dirk Gallowitz

Die stryd om die kroon te dra as koning van die blitsbuksbrigade is meedoënloos en gaan oënskynlik langer duur as die Spaanse oorlog van weleer. 2016 gaan etlike warm buksies op ons paaie sien, maar Honda het die eerste salvo geskiet toe die 2016 Honda Civic Type R einde Januarie op Killarney renbaan losgelaat.

Die 4de generasie 5-deur 2016 Civic Type R is ten spyte van sy 5-deure en 5 sitplekke ‘n kliphardegat en vlymskerp buksie wat doelbewus ingestel en voorberei is vir pret op die renbaan. Vir die eerste keer in ‘n Type R model kom die nuwe model toegerus met turboaanjaging vir die 2,0 liter VTEC enjin. Piek verrigting is 228kW met 400Nm se trekkrag wat deur die voorwiele brand en gee daarmee aan die nuwe Civic Type R die trofee as tans die wêreld se kragtigste voorwielaangedrewe luikrugsedan ooit. Voeg daarby ‘n beperkte-gly ewenaar vir beter greep en met, na my mening die beste 6-spoed handratkas in ‘n passassiermotor met die kortste oorgooie in sy klas, en siedaar – jy het ‘n bestuursentoesiasies se droommotor.

Tydens die bekendstelling by Kaapstad se historiese Killarney renbaan, het ons die Civic Type R met entoesiasme na hartelus oor vele rondtes gelooi. Die nuwe model het beïndruk met uitstekende hantering en balans deur vinnige en kort draaie, heerlike versnelling en verstommende goeie remme, veral as jy oopketel teen 200kpu aan die einde van die lang agterste pylvlak skielik moet ankers gooi!

Die 2.0 VTEC turbo kom eintlik tot sy reg by hoë toere en veral wanneer die turbo bo 3000 rpm inskop. Inlyn versnelling is heerlik met die turbokrag wat die G-kragte tot by die rooilyn toets. Die 0-100kpu lopie neem 5,7 sekondes en die enjin raak eers uitasem by 270kpu. Honda se witjasse het ‘n ronde rooi skakelaar prominent op die stuurwiel geplaas om “ + R-mode” te selekteer. Dit is vir wanneer jy lus voel om die vlam in die vlamgat se stert aan te steek. Druk dit en die Type R raak so wakker soos ‘n baldadige Jack Russel wat ‘n bal sien! Die enjin- en versnellerreaksies raak vinniger, die stuurwiel sê -“eks reg vir die draaie” en die slim aanpasbare veerstelsel verstyf met tot 30% om bakrol te verminder – alles om ‘n meer interaktiewe en adrenaliengevulde bestuurservaring te geniet.

Met ‘n totale gewig van 1378kg gee dit die Civic Type R ‘n krag-tot-massa verhouding van 165kW per ton wat grootliks bydra tot die motor se ratse versnelling deur en vanuit ‘n skerp draai. Die Civic Type R hou tans die rekord as die vinnigste voorwielaangedrewe luikrug rondom die 20,8km lange Nürburgring met ‘n rondtetyd van 7min 50,63 sekondes! Selfs rondom Killarney het die nuwe Civic Type R ‘n rondtetyd gedoen van bykans 1 sekonde vinniger as die vorige beste deur Renault se witwarm Mégane RS Trophy.

Die nuwe Civic Type R se ontwerp is geïnspireer deur die Japanese woord “buttigiri” wat as dit vertaal word, beteken “om deur te breek en die ander agter te laat”. Gevolglik het Honda se ingeneurs gepoog om die nuwe model sy kenmerkende rooi “R”-kenteken se reputasie gestand te doen dat “R” “Resies” beteken en juis daarom word die nuwe Civic Type R dan ook beskryf as ‘n resiesmotor vir die pad.
Terloops, die Civic Type R is laasjaar gekroon as kampioen in die hoogs kompeterende British Touring Car Championship!

Van buite is die ontwerp grootliks dieselfde as die vorige model, maar die aggressiewe stilering van die nuweling laat die koppe draai en beklemtoon die model se posisie as Honda se mees ekstreme verrigting Type R nog. Die groot drukvlerk agter en die spesiaal ontwerpte lae lugskorte veroorsaak ‘n suigeffek onder die motor om beter greep en padhouvermoë te ontwikkel wanneer die Type R hard deur draai gelooi word. Verder is daar strategies geplaaste lugopeninge in die voorste modderskerms om lugvloei oor die remme en vanuit die enjin kompartement te bevorder. Die gevolg is dat die Civic Type R se dramatiese stilering meer tuis op die renbaan vertoon as in die stadsverkeer.

Die kajuit is hemel vir ‘n petrolkop – dit skree renbaan! Die groot rooi rensitplekke oorheers die binneruim en onderstreep die Type R se sportiwiteit. Ek was verbaas hoe gemaklik my 1,85m 115kg lyf in die knus rengerigte kajuit gevoel het. Ek het ook gemaklik in- en uitgeklim en tydens ons jaag- en rysessies het die diep sitplekke my bykans toegevou en baie goeie steun gebied. Afwerking is luuks met die tipiese gehalte materiale wat oor die jare kenmerkend geword het van Honda se luukse voertuie. Die instrumentasie is modern, bykans futuristies en goed uitgelê. Ek hou van die meervlakkige uitleg van die instrumentepaneel en die sportiewe stuurwiel se ontwerp is van die mooiste in die bedryf. Die ‘I-MID’ pakket wat ekslusief met die Type R kom, bied ondermeer ‘n infoskerm waarop jy die volgende kan sien: G-kragte met versnelling en remdruk, Turbodruk, water- en olie temperatuur asook oliedruk,
Rondtetye (jy kan tot 99 tye in die geheue stoor), 0-100km/h tyd asook 0-400m tyd.

Die Type R is toegerus op doelgemaakte 19” 235/35 Continental SportContact 6 bande om die verrigtingvereistes te ondersteun. Met die “R”-modus aangeskakel sal die rit dalk effe hard wees vir die leunstoelliefhebbers onder ons, maar vir die petrolkop sal dit perfek voel. Hou in gedagte die Type R is ontwerp en gebou om die koning te wees van die blitsbuks-vlamgat-bende en moet daarom luidrugtig, hardebaardmooi en uitdagendvinnig wees – dit is nie die ideale kar om vir ouma op ‘n Sondagmiddagrit deur die dorp en oor die spoedwalle vir ‘n buurtinspeksie te neem nie.
Die Honda Civic Type R verkoop teen – R586 400-00, grootliks te wyte aan ons swak rand. Geen opsionele ekstras is beskikbaar nie, maar kom standaard met die volgende bykomstighede:
Heuwel aanskakelhulp, parkeer sensors voor en agter asook ‘n tru-kamera. Spoedbeheer, klimaatbeheer, LED hoofligte met ‘n outomatiese aanskakeling asook ruitveërs met reënsensors.
Koop jy ‘n 2016 Honda Civic Type R kry jy ook ingesluit by die prys ‘n 5 jaar/ 90 000km diensplan asook Honda se nuwe 5 jaar/ 200 000km waarborg.

honda