Honda NC750X Brian Cheyne

Honda NC750X Brian Cheyne

Albert Einstein het opgemerk dat almal geniaal is, maar as jy ‘n vis meet aan sy vermoë om boom te klim sal hy sy hele lewe glo dat hy dom is.By die bekendstelling van die Honda NC750X moes ek myself mooi kondisioneer om die fiets te oordeel aan die doel van sy bestaan.

Honda het in 2012 die NC700 bekendgestel as ‘n pendelfiets. Lig op jou sak, lig op brandstof en rats in die verkeer. Dit het nie voorgegee om ‘n vis te wees wat kan boomklim nie. In 2014 groei die enjinkapasiteit met 45cc en die finale aandrywing word aangepas om ‘n hoër topspoed en beter versnelling tot die NC paket by te voeg. Die fiets was onmiddelik ‘n sukses, en in 2015 was dit Honda se topverkoper wereldwyd.

 

Vir 2016 het die Honda manne hulle potlode skerpgemaak en ingelê in die NC se vloeiende lyne, en die stillering meer in lyn gebring met Honda se X-reeks. In Suid Afrika het die Integra model weggeval en ons kry nou net 2 modelle. Die NC750X en Die NC750X DCT. Later die jaar sal die ABS weergawe ook bykom.

 

Die grootste pluspunt van die NC750 was nog altyd die pakplek waar ‘n tradisionele fiets se petrol tenk sit. Dit is groot genoeg om ‘n volgrote pletterpet te kan sluk, en hierdie pakplek is nou selfs groter in die 2016 model. Die deksel is ook herontwerp met ankerpunte aan die binnekant en plastiek afwerking bo. Die skerm is nou groter wat die aanslag van die wind op die ryer verminder. Die nuwe vloeikristal instrumentasie kan mens ure se plesier verskaf met ‘n toereteller wat van kleur verander soos jy deur die ratte gaan. Ander veranderinge sluit in, ‘n nuwe voorremknyper, nuwe skokbrekers voor en ‘n LED agterlig. Selfs die brul van die uitlaatpyp is verander om ‘n dieper grom te verleen aan die nuwe aggresiewe aansig van die fiets.

 

Die DCT outomatiese ratkas is seker een van Honda se grootste verassings. In die wêreldmark word bykans die helfte van alle modelle wat die opsie het so bestel. Die DCT stelsel is ook opgeskerp vir 2016. Die ratkas het drie stellings, MT, D en S. MT verander die ryer self ratte met twee knoppe op die handvatsels. D is vir alledaagse ry en ekonomie, terwyl S die Sport verstelling is. Dit lewer meer verrigting uit die fiets en sal op hoër revolusies oorskakel na ‘n volgende rat. Hierdie betrokke verstelling het 3 sub verstellings, om die ryer se persoonlike voorkeur verder te verfyn.

 

Pryse vir die twee modelle is :

NC750X            R 99 999

NC750X DCT    R 109 999

NC11 nc750x-141