Hyundai se Tucson is terug Beter mooier en tawwer Deur Dirk Gallowitz

Hyundai se Tucson is terug Beter mooier en tawwer  Deur Dirk Gallowitz

Hyundai in Suid Afrika het maar ‘n opdraande pad gery om te kom waar dit vandag as een van Suid Afrika se mees suksesvolle motorvervaardigers gereken word. Hier rondom die jaar 2000 was Hyundai se vorige verspreiders in SA bankrot, handelaars moes hul deure sluit en eienaars was gestrand sonder dienspunte en onderdele.

Toe die Imperial groep ingryp om die Koreaanse handelsnaam weer in SA te laat herleef, was verkope die figuurlike druppels in ‘n emmer met Hyundai se reputasie aan skerwe en nuwe kliente kopsku. ‘n Hyundai produk in SA was daardie tyd omtrent so gewild soos ‘n Gupta vandag by ‘n EFF vergadering.
Toe kom die klein Getz. Goed toegerus met ‘n moderne voorkoms en ‘n markleidende 5jaar of 150,000km waarborg, was die klein buksiemotor die spreekwoordelike Moses om Hyundai uit die SA motorwoestyn te lei.
Nie lank daarna in 2005 het Hyundai SA die Tucson (toe in sy tweede generasie) in Suid Afrika gedebuteer. Die mediumgrootte sportnuts se gewildheid het selfs vir Hyundai SA onkant betrap en as die klein Getz die Moses was wat die handelsnaam uit die droë woestyn uitgelei het, kan die Tucson met die Bybelse Josua vergelyk word wat Hyundai op die pad na melk en heuning geplaas het. Sedert sy bekendstelling in 2005 totdat die model in 2010 uitgefaseer is, het 22716 Tucsons in Suid Afrika verkoop wat die model loshande die segmentleier van sy tyd gemaak het.
Die ringkoppe in Korea het egter besluit om die Tucson naam te bêre en in 2009 is die nuwe Hyundai iX35 in SA geloods. Die “Fluidic Sculpture” ontwerp het geblyk net so gewild te wees en het voortgebou op die gewildheid van die handelsnaam in Suid Afrika.

So pas het Hyundai die volgende generasie Tucson teen die hange van ou Tafelberg bekendgestel en ons was daar. Met ‘n moderne voorkoms en ‘n turboaangejaagde petrolenjin wat by die Hyundai Veloster geleen is, wil Hyundai SA die volgende hoofstuk van sy suksesverhaal in Afrika se suidpunt skryf.

Die 2016 Tucson deel ‘n platform met die Kia Sportage wat die wielbasis 30mm gerek het om die bak 65mm langer en 30mm breër as die iX35 te maak. Van buite lyk die nuwe model na ‘n kleiner Santa Fé en is die Tucson ‘n visuele kragtoer. Die Tucson hurk oor groot wiele wat die voertuig hoog laat staan, terwyl die groot wielboë onder uitgeboude flanke wat saam met die lang kant- en daklyn wat na agter swiep, aggressie en sportiwiteit tot die voorkoms voeg. Die neus is prominent en dra nou, anders as die iX35, die Santa Fé se groot heksagonale sierrooster en LED ligte. Agter sorg nuwe ligte, twee uitlaatpype en die heuplyn bokant die buffer vir ‘n treffende voorkoms.

Voorkoms, uitleg, afwerking en materiale in die kajuit het beïndruk. Die binneruim voel en vertoon duursaam en luuks met harde plastiekafwerking grootliks afwesig. Tydens bekendstelling het ons die AWD model bestuur in luukse Elite afwerking. ‘n Groot glasdak en die R15,000-00 opsionele ekstra vertoon- en raakskerm met die nuwe generasie navigasie het bygedra tot die ervaring van luuksheid in die Tucson. Die voorpaneel, instrumentehuls asook die sentrale konsole is intuïtief uitgelê met die skakelaars en beheerknoppe wat ergonomies goed geplaas is. Afwerking in swart en dowwe aluminium het duursaam vertoon en gevoel. Digitale klank/radio stelsel met ses luidsprekers is standaard.
Die 2016 Tucson ‘n 5-stêr Euro NCAP veiligheidsgradering behaal en kom standaard met ses lugsakke en ‘n nuwe bakstruktuur wat uit 51% gevorderde hoë-sterkte staal vervaardig is asook veiligheidsfunksies soos ondermeer blindekol sensors en ‘n stelsel wat die voertuig stabiliseer wanneer van bane verwissel word.

Die viersilinder 1,6 liter turbo petrolenjin lewer 130kW/265Nm en maak sy toetrede plaaslik in ‘n Hyundai SUV met beide voorwielaandrywing en AWD opsies beskikbaar. Standaard is egter voorwielaandrywing deur Hyundai se eie 6-spoed handratkas en wat ‘n heerlike ratkas is dit nie. Glad, soepel met lekker kort skuiwe. Hyundai se 7-spoed dubbelkoppelaar ratkas is opsioneel beskikbaar maar kom standaard in die AWD Elite topmodel. ‘n tweeliter petrolenjin sonder turboaanjaging is ook beskikbaar en lewer 115kW/196Nm, maar is slegs beskikbaar in die ‘Premium’ afwerkingspesifikasie met die keuse van ‘n 6-spoed handratkas of 6-spoed outomaties.

Die 2016 Hyundai Tucson ding mee met ondermeer die Ford Kuga, Kia Sportage, Mazda CX-5, Mitsubishi ASX, Honda CR-V en Toyota RAV en is na my mening tans die mooiste SUV van die lot. Die nuwe Tucson is ‘n pragtig gestileerde, goed toegeruste sportnuts met uitstekende bougehalte wat ‘n heerlik gemaklike rit aan 5 insittendes bied. Is die nuwe Tucson dalk die Dawid wat Hyundai nodig het om die Goliats in die mark mee uit te kikker? Ek dink so.

Hyundai Tucson 2.0 Nu Premium (Handrat) – R359 900
Hyundai Tucson 2.0 Nu Premium (Outomaties) – R379 900
Hyundai Tucson 2.0 Nu Elite (Outomaties) – R439 900
Hyundai Tucson 1.6 TGDi Executive (Handrat) – R419 900
Hyundai Tucson 1.6 TGDi Elite DCT AWD – R499 900

Hyundai se 5jr/150 000 km vervaardigers waarborg asook ‘n markleidende verdere 7jaar/ 200 000 km waarborg op die aandryfstelsel, is standaard, asook ‘n 5jaar/90 000 km diensplan met 15 000km diens siklusse.

Tucson1