ISUZU BREI GEWILDE KB -MODELREEKS VERDER UIT Deur DIRK GALLOWITZ

ISUZU BREI GEWILDE KB -MODELREEKS VERDER UIT  Deur DIRK GALLOWITZ

Die Isuzu KB bakkie is al so eie Suid Afrikaans soos biltong, braaivleis en rugby. Die KB is tans beskikbaar in 100 lande en is onder andere gereeld die topverkoper bakkie in Thailand wat tans die wêreld se grootste 1-ton bakkiemark is.

Die 6de generasie van die gewilde bakkie reeks is al ‘n tydjie met ons, maar General Motors SA, wie Isuzu in Suid Afrika versprei, het teen die einde van die derde kwartaal vanjaar drie goed beplande modelle tot die reeks bygevoeg om die totaal tot 18 verskillende bakkies in die modelreeks te vergroot.
Terselfdertyd is verskeie opgraderings en verbeteringe aangebring om die werkesel nog meer oemf en aantrekkingskrag te gee. Ons het onlangs twee van die nuwe toevoegings vir ‘n week bestuur en was aangenaam verras met die verbeteringe.

Die nuwe topmodel in die reeks is nou die KB300D-Teq LX 4×4 dubbelkajuit outomaties. Die topmodel word aangedryf deur Isuzu se beproefde en ekonomiese 3,0liter 4- silinder turbodiesel enjin en dryf deur ‘n nuwe 5-spoed outomatiese ratkas na al vier wiele. Die KB300 bakkies is tans die segmentleiers met sleep- en vragvermoë en ek het gemaklik 2,5 ton teen uitdagende steiltes met ons toetsmodel gesleep.

Buitelangs is daar nuwe LED dagryligte asook LED liggies in die remligte agter. Sleutelose toegang en aan/afskakeling is ook standaard op die nuwe topmodel. Die binneruim vertoon aansienlik meer modern met die raakskerm voor middel bo in die voorpaneel. Die stelsel huisves al die klank-, voertuig- en ritinligting, asook die Bluetooth telefoonskakeling. Verder is daar ‘n gebruikersvriendelike satelietnavigasie stelsel, ‘n DVD speler en die beelde vir die tru-kamera word ook op die skerm vertoon. Sitplekbekleedsel is in leer. Ek is nie ‘n groot voorstander van ‘n outomatiese ratkas op ‘n bakkie nie, maar moet toegee dat die 5-gang outokas se ratskakeling was heerlik glad wat bygedra het tot gemaklike verrigting. Die paddinamika van die nuwe KB300LX dubbelkajuit 4×4 outomaties het my beïndruk met die groot voertuig wat gerieflik gery en ook gemaklik in stadsverkeer hanteer het.

Ons tweede toetsmodel was ‘n pragtige kobaltblou KB300LX DTeq 4×4 Extended Cab handrat.
Die sitplekke is met ‘n duursame materiaal beklee. Ek verkies die lapbekleedsel bo die leer, maar dit is maar my persoonlike smaak. Dieselfde 2999cc viersilinder dieselturbo enjin as in die topmodel word ook in die Extended Cab ingespan. Die enjin lewer nou 130kW @3600rpm en 380Nm wringkrag tussen 1800-2800rpm. Aandrywing deur die vier wiele is via ‘n 5-gang handratkas. Vir beide modelle is daar ‘n ronde selekteer knop agter die ratkierie tussen die sitplekke waarmee 4-trek in hoë- en laestrek gekies kan word. Die stelsel werk uitstekend.

Isuzu sê die amptelike brandstofverbruik vir beide hierdie 4-trek modelle is 7,9l/100km in ‘n gemengde siklus van dorp en ooppad ry. Beide die voertuie kan 3500kg sleep met die dubbelkajuit wat 1021kg se vrag kan dra en die Extended cab ‘n rapsie meer op 1083kg.

Standaardveiligheidstoerusting op beide modelle sluit onder meer in ABS remme met EBD, elektroniese stabiliteitsbeheer, lugsakke vir bestuurder en voorste passasier en parkeerhulp.

Pryse soos getoets

KB 300 D-TEQ LX 4×4 R 451 800
KB 300 D-TEQ LX 4×4 Outo R 529 700

Alle Isuzu KB modelle word verkoop met ‘n omvattende 5-jaar/ 120 000 km waarborg en padbystanddiensprogram asook ‘n 5-jaar/ onbeperkte kilometer anti-roes waarborg asook ‘n ‘n 5-jaar/ 90 000 km diensplan. Diensintervalle is elke 15000km/12 maande vir al die onderskeie modelle in die reeks.

kb300-lx-double-cab-30