Kawasaki H2 Supersoniese kuns op wiele! Brian Cheyne

Kawasaki H2 Supersoniese kuns op wiele! Brian Cheyne

Ek onthou my eerste kennismaking met ‘n superfiets. So blou monster wat net nie sy voorwiel op die grond kon hou nie. Nukkerige ding. Vandag staan ek voor die nukkerigste een van hulle almal. Kawasaki se H2. Hierdie fiets dra Kawasaki se ‘River mark’, en dit beteken dat die fiets die werk is van die hele Kawasaki span, nie net die motorfiets afdeling nie.

Daar waar hy staan lyk hy al vinnig. Soos by ‘n kwaai Rottweiler, stap ek eers ‘n paar keer om die fiets in die hoop dat hy vir my sy stert sal swaai en aandui dat dit reg is om nader te kom. Niks. Hy staan net daar. My hande sweet en my hart bons amper soos op my eerste fliek-afspraak op laerskool. Ek sit maar my valhelm op en stap nader. Ek gooi ‘n been oor en kry my sit. Dit voel asof ek een of ander Japannese mantra moet prewel voor ek waardig geag word om die aansit knoppie te mag druk. Handskoene aan, ligte wasem op my valhelm, leun ek vorentoe. Die handvatsels is ver en laag. Ek druk die aansit knoppie. Niks. Ek kyk deur die wasem, maar die H2 bly stil. Die knoppie wat ek probeer druk is die rekenaar se modus skakelaar. Ek kry die aansit knoppie, en die Kawa begin lewe hier onder my. Al wat ‘n elektroniese hulpmiddel is, is aan. Hierdie gaan ‘n belewenis wees. Dis verseker!

 

Ek kruie behoorlik weg van Kawasaki af. Teen R399 000 mag ek nie nou droogmaak nie. Die prys alleen moet ‘n aanduiding wees van dat die H2 nie in ‘n massa produksie drukgang gebore is nie. Nee, hier is baie bekwame hande ingespan. Kom ons begin by die hart: ‘n Superaangejaagde 998cc enjin lewer 200 perdekrag teen 11000 toere. Een derde van die H2 se neus is ‘n gat wat lug in die aanjaer in forseer, so hoe vinniger jy ry, hoe hoër styg daardie syfer. Al daardie krag in ‘n fiets wat net 238kg weeg. Versneller respons is onmiddelik. Ek sukkel deur die ratte, te bang ek kry iets verkeerd, maar die Kawa het slim

ratskakeling wat jy kry in MotoGP fietse. Gou het ek ‘n hele stuk teerpad agter my. Dis weer tyd om te stop en die Brembo knypers bring die gevaarte tot stilstand.

 

My hart het bedaar en nou kan ek net na hom staan en kyk. Elke gevormde stukkie kuns ineen geweef in ‘n ongelooflike mooi fiets. Die raam is een van ‘n reeks eerstes op ‘n Kawasaki. ‘n Spesiale traliewerk raam is ontwerp om die kragbron. Nog ‘n eerste is die agterste swaaiarm. Dit is ‘n eensydige ontwerp wat die die aandrywing en agterste Brembo skyf bevat. Die elegante allooi wiele word tentoongestel agter ‘n koperkleurige uitlaatpyp. Selfs die uitlaatpype het detail wat my aan ‘n straler laat dink. Die verfwerk is uniek. Silwer word aangewend en behandel en die resultaat is iets wat soos ‘n spieël lyk in die son, maar in die skadu vertoon dit swart. Ek staar nog. Die puntneus omvou ‘n kleinerige hooflig. Selfs die truspieëls lyk soos iets wat tuishoort op ‘n vegvliegtuig. Die sitplek is gemaak vir een. Selfsugtig miskien, maar dis die H2. ‘n Masjien wat gemaak is vir spoed. En as jy vir mense sê hoe vinnig jy gery het, sal niemand twyfel nie. Jy hoef nie ‘n passasier saam te neem om jou stelling te staaf nie.

 

Ek sirkel hom nog so paar keer en neem die detail in. My hande sweet nie meer nie en die H2 kan dit aanvoel. Hy weet ek is nie meer bang nie. Ek klim weer terug, lê vorentoe en nou voel alles sommer reg. Kawasaki kan met reg trots wees op hulle skepping. Ek moet sê, as dit myne was so hy nou hier reg langs my rekenaar in my studeerkamer gestaan het. Die H2 is net so goed!

briancheyne-kawasakih2-2 briancheyne-kawasakih2-6 briancheyne-kawasakih2-8 briancheyne-kawasakih2-12 briancheyne-kawasakih2-19