Kawasaki Versys 650 Brian Cheyne

Kawasaki Versys 650 Brian Cheyne

As motorfietsryer word my opinie gereeld gevra as mans hulle middeljare bereik en die vryheid van hul prille jeug wil herleef. “Wat is die beste motorfiets om te kry as ek net weer wil terugkom in die ding?” So asof “die ding” hierdie elite klub is waarna almal streef.

Die probleem met so vraag is, die antwoord wat hulle wil hoor. Dit sluit gewoonlik ‘n oorgroot, duur model in wat meer kos om te onderhou as die gemiddelde gesinsmotor.
My standaard antwoord was nog altyd kry iets lig, maklik om te ry en ekonomies. Dit verseker ‘n positiewe ervaring wat nie die bank breek nie. Wel, ek het onlangs ‘n naam gekry om om by die antwoord te voeg. Die Kawasaki Versys 650. Daar is onlangs ‘n nuwe weergawe van die model bekendgestel en dis ‘n heel nuwe fiets. Boonop was ek gelukkig genoeg om die Versys vir ‘n week lank van nader te leer ken.
Die vorige Versys was ‘n baie regop kalant. Sy stillering was ook heel uniek en veral die gestapelde hooflig was iets om aan gewoond te raak. Die nuwe Versys lyk meer modern en die dubbele kopligte is meer in lyn met sy meer sportiewe boeties. Die sitplek is ruim en gemaak vir die langpad en my passasier kan ook getuig dat die agtersitplek nie so slegte plek is om te wees nie. Die windskerm is maklik verstelbaar met tot 6cm, so selfs die langes onder ons behoort ‘n verstelling te kry was pas. Verder het die nuweling heelwat rubbermonterings vir enjin en handvatsels wat die vibrasie van die vorige model uitskakel. Die agterste skokbreker is een van die stillering fokuspunte en is ten volle verstelbaar. Voorlangs is onderstebo Showa vurke wat ook verstelbaar is. Skakel jy die enjin aan, begin die musiek. Daardie kort uitlaatpyp maak die mooiste klank. Vir die eerste keer ooit het ek aspris sonder my oorpluisies gery, net dat ek daardie gegrom kan hoor. Die instrumente paneel is ‘n baie kompakte eenheid. Die boonste halfmaan word opgeneem

deur ‘n analoog toereteller. Onder dit is ‘n digitale eenheid wat spoed, tyd en brandstofvlak aandui. Die ritmeter het verskeie opsies waaruit die ryer kan kies en kan selfs jou huidige brandstofverbruik aandui.

Die Versys is waarlik ‘n lekker fiets. Hy voel kompak genoeg in die stad, maar as jy êrens ‘n stukkie oop pad kry, voel dit asof jy heeldag kan ry. So wanneer is genoeg nou genoeg? Kort die Kawasaki meer krag? Nee. Kort hy ‘n 300km/h topspoed? Nee. Vir my is dit ‘n fiets wat ek ernstig sal oorweeg om self aan te skaf as ek my eie geld moet uithaal. Hy vertoon mooi en het genoeg woema om jouself uit die moeilikheid te kan ry. En net so diep in die moeilikheid ook!

2 1 3