Lexus IS reeks vir 2017 DEUR DIRK GALLOWITZ, FOTO ROSALYN VAN ZYL

Lexus IS reeks vir 2017  DEUR DIRK GALLOWITZ, FOTO ROSALYN VAN ZYL

Lexus se IS- modelreeks is pas opgeknap en gedurende Desember laasjaar plaaslik bekendgestel.

Met ‘n veel aggressiewer voorkoms en varser binneruim is die nuwe reeks gereed om die C-klas, 3-reeks en A4 uit Duitsland die stryd aan te sê.

Buitekant tref die nuutontwerpte sierrooster en nuwe hoofligontwerp onmiddelik. Groter luggate in die voorste buffer laat die neus ook nou veel meer sportiewer vertoon.  Twee modelle is beskikbaar, met  die IS200T wat uit ‘n keuse van “E”of “ES” afwerkingsvlakke gekies kan word. Die vlagskip IS350 is slegs met die sportiewe F-Sport afwerking te koop. Lexus stel met die opgekikkerde reeks ook nuwe bakverfkleure bekend waar ondermeer Grafiet Swart nou op beide modelle beskikbaar is, asook ‘n pragtige “Deep Blue” wat slegs vir die F-Sport gereserveer word.

 

Met die nuwe hoofligontwerp word LED’s gebruik. Die “E “en “EX” afwerkingsvlakke op die IS200t kry ‘n enkelry LED’s in die hoofligte met domp/skerp funksies terwyl die flikkerligte  egter steeds die konvensionele inskroef gloeilampies gebruik. Die 2017 F-Sport model se hoofligte word egter toegerus met drie lampies wat kan domp asook ‘n aparte ry LED lampies in ‘n L-uitleg onder die hoofligte. Die flikkerligte gebruik ook LED lampies.

 

Binnekant het Lexus die kajuit subtiel verbeter. Dit vertoon en voel luukser, meer verfynd en vriendeliker.

Klein verbeteringe aan sommige skakelaars, die afwerking van sekere areas asook nuwe stiksels in die bekleedsel dra alles by tot ‘n weelderiger ambiaans in die kajuit.

 

Plaaslik het Lexus twee petrolenjins beskikbaar gestel vir die 2017 modelreeks,  met die IS200t wat die relatief nuwe 2,0 liter turbo enjin gebruik in beide die “E” en “ES” modelle. Vir die flagskip IS350 wat in die meer sportiewe F-Sport afgewerk is, word die bekende en kragtige 3,5 liter V6 petrolenjin gebruik.

 

VERKOOPPRYSE

Lexus IS 200t E – R601 900
Lexus IS 200t EX – R659 100
Lexus IS 350 F Sport –  R728 800

‘n 4jaar/100km diensplan is ingesluit by die koopprys