Die Mahindra KUV100, wat onlangs sy plaaslike buiging gemaak het, is ’n kompakte sportnuts wat kopers van gewone klein luikrugmotors in sy visier het, maar die hardebaard-persoonlikheid, hoër rithoogte en algehele veelsydigheid van ’n SNV by die resep voeg.
Die helder, ruim kajuit van die nuwe KUV100 bied sitplek vir tot vyf volwassenes, danksy die SNV se relatief lang asafstand. Die groot ruite en die instrumentepaneel se vloeiende ontwerp dra verder tot die indruk van ruimte by. Die hoë sitposisie bied uitstekende sigbaarheid en ’n onbeperkte uitsig vorentoe. Deure wat groot oopmaak sorg vir maklike toegang tot die kajuit, sonder dat mense onnodig hoef te buig om in en uit te klim.
Spesifikasievlakke verskil afhangend van die model, maar onder die sleutelkenmerke tel ’n agtersitplek wat kan platvou om die bagasieruim van 243 na 473 liter te vergroot. ’n Oulike ondervloerse bêrekassie agter bied bykomende veilige bergruimte. Die KUV100 is ook toegerus met verstelbare nekstutte voor en agter, ’n kantelverstelbare stuurwiel, houers vir eenliterbottels in die deurvakke, en 12V-kragproppe vir passasiers voor en agter. Elektries beheerde ruite, sentrale sluiting en ’n immobiliseerder word ook as standaardtoerusting op alle modelle in die reeks gebied. Daarbenewens bied alle KUV100-weergawes sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, asook dubbele lugsakke voor, ’n frommelbare stuurkolom, en kinderslotte vir die agterdeure.
Die nuwe Mahindra KUV100-reeks bestaan uit vyf modelle, wat deur twee enjinkeuses en drie spesifikasievlakke gekenmerk word. Petrolmodelle word aangedryf deur Mahindra se eie, splinternuwe mFalcon G80-driesilinderenjin wat met meerpunt-brandstofinspuiting en dubbele veranderlike tydklepreëling toegerus is. Die liggewig-eenheid van 1 198 cc word in sy geheel van aluminium vervaardig, en bied ’n maksimum-kraglewering van 61kW en 115Nm. Vir dieselgeesdriftiges kan die KUV100 ook met die nuwe, tussenverkoelde mFalcon D75-turbodieselenjin bestel word. Die driesilinder-eenheid maak gebruik van regstreekse enkelspoor-dieselinspuiting, ’n elektroniese ontlasklep en ’n turboaanjaer met aanpasbare druk. Maksimum-krag beloop 57 kW en ’n indrukwekkende 190 Nm wat vir wakker versnelling en maklike verbysteek sorg. Nes in die geval van die petrolweergawes word die turbodieselenjin aan ’n vyfgang-handratkas gekoppel wat die voorwiele aandryf.
Die turbodiesel-aangedrewe vlagskipmodel behaal die suinigste verbruiksyfer in die klas vir kompakte SNVs, met ’n verbruik van net 4,4 liter/100 km vir die gekombineerde siklus. ’n Selekteerbare Krag/Eko-modus en afskakel/aansit-funksie dra tot hierdie uitsonderlik lae verbruiksyfer by. Die petrolweergawe van die KUV100 behaal ’n gekombineerde siklus-verbruiksyfer van 5,9 liter/100 km.
Die Mahindra KUV100-modelreeks bied ’n keuse van sewe kleure. Die aanbevole kleinhandelrpyse, BTW ingesluit, is soos volg:
KUV100 1.2 K4 Petrol R149 995
KUV100 1.2 K6 Petrol R169 995
KUV100 1.2 K6 TDiesel R187 995
KUV100 1.2 K8 Petrol R179 995
KUV100 1.2 K8 TDiesel R197 995
Die pryse sluit ’n waarborg van drie jaar/100 000 km vir alle weergawes in, terwyl die K6+ en die K8 boonop ’n diensplan van drie jaar/50 00 km bied. Die diensplan is as ’n opsie ook vir die K4+-model beskikbaar.
Comments 0