Mazda CX-5 Deur Gerrie Smit, Foto: Johann van Tonder

Mazda CX-5 Deur Gerrie Smit, Foto: Johann van Tonder

Die Mazda CX-5 is ‘n middelklas sportnutsvoertuig (SNV), wat alreeds in 2012 geloods is. Dit het destyds slegs met ‘n 2 liter petrolenjin uitgekom.

Mazda het egter aan die einde van 2014 hierdie voertuig weer in Suid-Afrika (met ‘n aansienlike string verbeterings asook met ‘n 4×4-weergawe en twee bygevoegde nuwe kragbronne: ‘n 2,5 liter petrol-enjin en ‘n 2,2 liter diesel-enjin) hervrygestel met die oog om met die nuwe voorkoms en waarde-toevoegings ‘n groter deel van Suid-Afrika se groeiende SNV-mark te bekom. Die nuwe reeks CX-5 was van vooraf van kop tot toon herontwerp om ekonomies, veilig, stylvol en kragtiger as die 2012-voorganger te wees.

In 2015 is weereens kosmetiese verbeterings aangebring in ‘n voortdurende proses deur Mazda om hierdie voertuig heeltyd nuut en modern te laat lyk.

Die Mazda CX-5 is nou beskikbaar met die 2 liter petrol-enjin, ‘n 2,5 liter petrol-enjin en ‘n 2,2 liter dieselenjin. Die wat weet sal saamstem dat Mazda al die afgelope 30 jaar die koning is met hulle 2 liter petrol-enjins. Die huidige enjin stel ook weereens nie teleur nie. Dit het ‘n kraglewering van 121 kw en ‘n wringkrag van 210 Nm. Die 2,5 liter  enjin het ‘n kraglewering van 141 kW en ‘n wringkrag van 256 Nm.

Daar is twee weergawes van die 2,2 liter dubbel-turbo ondersteunde dieselenjin beskikbaar. Een vir die voorwiel-aangedrewe model en vir die 4×4 is die kragtiger weergawe ingespan. In die voorwiel-aangedrewe model, die CX-5 2,2DE Active, is die meer ekonomiese 2,2 liter diesel, wat ‘n kraglewering van 110 Kw en ‘n wringkrag van 380 Nm bied, ingespan. Die gemiddelde brandstofverbruik is 5.7 liter per 100 km in hierdie model.

Die CX-5 DE Akera met sy permanente vierwielaandrewing het egter meer krag nodig en daarom is sy 2,2 diesel-enjin gestel om ‘n kraglewering van 129 Kw te bied en ‘n maksimum wringkrag van 420 Nm teen slegs 2000 omwentelinge te lewer. Koppel hierdie kragtige enjin aan ‘n besonderse ligte maar sterk bakwerk, dan het jy voertuig wat uiters gewillig is om selfs geharde vier-by-vier omgewing baas te raak.

Die CX-5 is die eindproduk van Mazda se weldeurdagte ontwikkeling. Die ontwerp is nie net aantreklik en lugdinamies nie, maar aandag is veral gegee aan die uitsigpotensiaal wat die bestuurder het in die ontwerp van die bakwerk. Die kantspieëls is byvoorbeeld ‘n paar sentimeter geskuif om die bestuurder se gesigsveld te vergroot. Dis verfrissend om vir ‘n slag in ‘n voertuig te sit wat slim beplan is om die bestuurs- en ry-ervaring ‘n werklike genotvolle gebeurtenis te maak.

Die CX-5 wielbasis is 2,7 m lank. Dit tel onder die langstes in die middelklas SNV-segment. Dit verseker ‘n ruim gemaksone binne die kajuit. Die beenspasie vir die agterste passasiers is die beste in sy klas. Die agterste sitplekke kan in drie plekke afslaan om die agterste pakruimte vergroof. Deur bv die middelste gedeelte van die agtersitplek af te slaan, kan ‘n fiets vervoer word terwyl daar steeds sitplek vir twee agterste passasiers is.

Die CX-5 is ruim, gemaklik en al die kragbronne is kragtig genoeg vir dit op die oop pad te laat geld. Die CX-5 het al die veiligheidstoerusting en padbeheerstelstels, wat ‘n mens van ‘n kwaliteit SNV verwag.

Die CX-5 modelle het almal ‘n 3-jaar fabriekswaarborg, wat ‘n 3-jaar diensplan en 3-jaar nooddiens insluit.

1