Mercedes A250 Sport DEUR DIRK GALLOWITZ

Mercedes A250 Sport DEUR DIRK GALLOWITZ

Mercedes het vroeër vanjaar hulle klein A-klas luikrug modelle met ‘n middellewe kuur opgeknap en is vol vertroue die buksie se varser voorkoms en meer ekstras kopers sal bly lok vir die res van sy rakleeftyd. Sedert die huidige A-klas in 2012 plaaslik bekendgestel is, het die baba-Merc heelwat kopers getrek en volgens Mercedes koop twee uit drie kopers van A-klas modelle vir die eerste keer ‘n  Mercedes motor.

Die eerste A-klas  was so ‘n regop stadsmotortjie met ‘n skuins voorkant en ‘n kort neus terwyl die agterkant stomp en regop soos ‘n winkeltrollie was. Die nuwe generasie vanaf 2012 is egter ‘n tipiese luikrug en vertoon heel modern en sportief.

 

Ons toetsmodel was die opgeknapte 2016 A250 Sport met  AMG afwerking en toegerus met ‘n 7-gang DCT outomatiese ratkas. Die voorkoms van die A250 Sport met sy AMG afwerking is treffend en jy moet op die agterklap gaan seker maak dat dit wel die A250 is, want die model kan jou maklik verwar en onder die indruk bring dat dit die veel wilder en warmer A45 AMG is. Die sierrooster en voorste luginlate is dieper, groter en met die rooi strepe in die voorste en agterste lugskorte, vertoon die A250 Sport  meer aggressief. Die hoofligte is toegerus met die opsionele LED ligte. Agter is die remligte herontwerp en is nou platter en breër terwyl die twee uitlaatpype nou netjies in die lugskort geïntegreer is. Die Sport kom ook met groter 19” sierwiele op vet laeproefiel tekkies.

 

Binnekant is daar met afwerking gespeel om ‘n moderne sportiewe gevoel te skep. Die kajuit is nietemin luuks met vakmanskap en gehalte wat tipies Mercedes is. Die groot sportsitplekke domineer die kajuit en het die AMG logo in die kopstuk. Verder is die AMG logo ook op die deurdrumpels en matte aangebring. Die pedale is in aluminium en daar is koolstofveselafwerking op die voorpaneel en deure. Die rooi afwerking om die skakelaars, luginlate en ook die bypassende rooi dubbelstiksels in die bekleedsel en leerafwerking op die deure en voorpaneel, is ingesluit by die AMG afwerking en dra by tot die sportiewe gevoel in die kajuit. Daar is ‘n lang lys opsionele ekstras beskikbaar waarmee jy die binneruim kan individualiseer. Kies jy byvoorbeeld die opsionele ligpakket (lighting package),  kry jy LED-liggies oral in die kajuit met 12 verskillende kleuropsies vir die agtergrondbeligting wat met vyf verskillende vlakke van helderheid gestel kan word.

 

Daar is soos met meeste van die nuwer generasie Mercedes passasiermotors ‘n lang lys van standaard elektroniese hulpstelsels, aktiewe en passiewe veiligheidstelsels asook verskeie tegnologies gevorderde kommunikasie/klank en info katoeters in die A250 AMG beskikbaar. Boonop is daar vele meer opsionele ekstras beskikbaar waaruit kopers met diep sakke kan kies.

 

Die A250 Sport is toegerus deur Mercedes se bekende 2,0 liter viersilinder turbo petrolenjin en lewer  160kW en 350Nm se piekkrag. Aandrywing na die pad is deur die voorwiele met ‘n 7-gang DCT outokas. Die enjin is lekker lewendig en versnel van 0-100kpu in slegs 6,3 sekondes. Die A250 bied vier ritmodusse nl, “Comfort”, “Sport”, “Eco” of “individual” waar laasgenoemde jou die opsie bied om jou eie keuses te kombineer vanuit stuurgevoel, ratskakelspoed en skokbrekersensitiwiteit waar die olie in die skokbrekers elektronies aangepas word vir ‘n sagter of fermer rit. Ek moet sê, in “Sport”-modus was die rit in die A250 Sport nogal ferm en sal jy maar jou valstande moet vasbyt en bra-strêppe stywer trek waar die padoppervlak effe ongelyk raak. Padgedrag en dinamika is sportief met bypassende verrigting. Nie so vuurwarm soos die haastiger A45 AMG nie, maar steeds lewendig en dinamies. Dit is definitief ‘n motor vir die jonger generasie wat verrigting en voorkoms bo gemak en ekonomie verkies.

 

Sleutelsyfers

 

Model:                 A250 Sport

Ratkas:                7gang Dubbelkoppelaar outomaties met rathefbome

Enjin:                   1991cc vier silinder turbo

Krag:                    160kW

Wringkrag:         350Nm

0-100 kpu:          6,3 sekondes

Verbruik:             6,2l/100km

a250-sport-8_1800x1800 a250-sport-13_1800x1800 a250-sport-15_1800x1800 a250-sport-17_1800x1800 a250-sport-23_1800x1800