Mercedes-AMG GT Uitstekend op die pad – uitsonderlik op die baan Deur Dirk Gallowitz

Mercedes-AMG GT Uitstekend op die pad – uitsonderlik op die baan  Deur Dirk Gallowitz

Mercedes-AMG GT
Uitstekend op die pad – uitsonderlik op die baan

Deur Dirk Gallowitz

Dit is ‘n tipiese hoëveldse wintersdag. Heerlike sonskyn met ‘n matige temperatuur en ‘n ligte briesie. Met die media konferensie agter die rug by MBSA se pragtige nuwe gevorderde bestuurder opleidingsentrum neffens die Zwartkops renbaan, is die afwagting groot om agter die stuur van Merc se über sexy AMG GT in te skuif.

 

Van die kant gesien is die lang sportiewe enjin kap, klein kajuit en kort geronde agterkant onteenseglik GT. Bekyk hom van voor en die plat breë bek wat laag oor die pad hurk spreek van spoed. Na agter swiep die metaal in pragtige kurwes wigvormig na bo om knap oor die kajuit kort na agter styf oor breë 21 duimers te span. Fotos laat eintlik nie reg geskied aan die nuwe AMG GT se voorkoms nie. Die ontwerp in metaal straal spoed, krag en grasie na buite. Van agter is daar trekke na ‘n Porsche 928 van vervloë dae met die plat lang neus wat vir my aan Jaguar se ikoniese E-type herinner.

Ek en my Duitse rymaat kies die treffende geel-goue AMG GT S model. Binne is die kajuit sportief maar ook uiters luuks afgewerk met ‘n smaakvolle mengsel van leer, gepoleerde aluminium, koolstofvesel en ander materiale van baie hoë gehalte. Die sitplekke, stuurwiel en instrumentasie spreek van die sportiewe renkarakter van die GT. Volgens Mercedes vervang die AMG GT nie die SLS supermotor nie, maar is geheel ‘n nuwe GT kar wat deur renjaers by AMG se aanleg in Affalterbach ontwerp is en ‘n nuwe era inlui vir die vervaardiger se luukse sportmotor segment. Mercedes se eerste motor was ‘n renmotor en die AMG GT wil op daardie nalatenskap voortbou.

Met die roete wat deur tipiese middag stedelike verkeer agterom Pretoria-Wes kronkel en daarna ‘n klompie snelweg kilometers op die ooppad in die rigting van Pelindaba, het die AMG GT beïndruk met gemaklike hantering en ‘n gerieflike rit. Die AMG GT S model is toegerus met “AMG RIDE CONTROL”, ‘n elektroniese beheerde veerstelsel waarmee die bestuurder die gemak of sportiwiteit van die vering kan verstel deur bloot ‘n knoppie op die middelkonsole te druk. Drie opsies naamlik “Comfort”, “Sport” of “Sport plus” kan gekies word. Met die “Comfort” verstelling is die ritgehalte in die GT heel gerieflik, die groot lae-profiel bande ten spyt.

By Gerotek se toetsfasiliteit aangekom, het ek die geel-goue GT se neus na die hoëspoed ovaalbaan se ingang gestuur. Hier is ons vertel dat 150kpu is ‘n veilige spoed om die draaie met hoogstens 200kpu haalbaar in die pylvlak. Ek het aanvanklik by die eerste rondte die GT so gevoel en toe stadigaan al harder gelooi – totdat die motor se ren-DNA na vore gekom het. Teen 200kpu om die draaie en ‘n topspoed van 245kpu in die pylvlak was dit duidelik dat die AMG GT ‘n baie spesiale motor is met uitsondelike greep en uitstekende paddinamika danksy ondermeer ook aan die reuse bande 265/35R19 voor en 295/30R20 agter. My Duitse rymaat se pogings om ‘n selfoonvideo van ons rondtes te maak, kon weens die hoë laterale kragte nie in ‘n bruikbare resultaat eindig nie!

Ek sou graag in meer besonderhede oor die AMG GT se ontwerp en ingeneurswese wou gesels, maar dit sal moet wag tot wanneer ons ‘n meer omvattende padtoets gedoen het. Vir nou sal ek volstaan met die volgende: Aandrywing is deur ‘n AMG getoorde liggewig 4.0L V8 enjin met twee turbo-aanjaers wat in die “V” gemonteer is vir ‘n hele paar verrigtingsvoordele. Verder het die enjin ‘n droë oliepan (dry sump) om gewig te bespaar. Die aluminium liggewig bakraam weeg slegs 231kg en met die enjin wat middel voorgemonteer en die 7-spoed DCT ratkas agter voor die agteras geplaas is, is 47/53 persent (voor/agter) gewig verspreiding optimaal. Kombineer dit met ‘n elektroniesbeheerde ewenaarslot agter, sport vering en ‘n 1540kg droëgewig en die resep is ideaal vir uitsonderlike hantering en dinamika om die renbaan.

Die enjin kom met twee verrigtingspesifikasies. Die GT lewer 340kW en die GT S bied 375kW se piek kraglewering. Die GT se 0-100kpu lopie neem 4,0 sekondes terwyl dit die GT S slegs 3,8 sekondes neem om dieselfde lopie af te draf. Topspoed is 310kpu. Die klankbaan van die V8 turbo-oond is verslawend as jy kole gooi! Mercedes sê die AMG GT kan darem ook ekonomies omgaan met die brandstof en dat 9,3l/100km haalbaar is in ‘n gekombineerde siklus. Ons het dit nie probeer nadoen nie, want na Gerotek se ovaalbaan het ons die topspoed beperker op 280kpu getoets en toe is ons terug na Zwartkops waar ons die AMG GT se krag, versnelling en besondere renbaanvermoëns op die proef gestel het. Moet sê die opsionele keramiek remme van ons GT S het baie bygedra tot ons rondtetye. Professionele renjaers wie Zwartkops ken en gereeld daarop jaag sal erken dat ‘n rondtetyd van rondom 1:12 sekondes geen geringe prestasie is nie. Soveel te meer vir ons media petrolkoppe wie nie gereeld daar jaag nie en dit boonop in ‘n sogenaamde padmotor! Dit spreek boekdele vir die Mercedes AMG GT se uitsonderlike vermoëns as pad en renmotor.

Tog is die AMG G took prakties. Die bykans vegvliegtuig-agtige kajuit is heel ruim en gemaklik selfs vir my 1,85m raamwerk met goeie sigbaarheid en kopruimte. Uiteraard sit jy diep en laag soos dit ‘n regte sportmotor betaam. Die bagasieruim van 350 liter kan twee golfsakke hanteer wat jy in die lengte of dwars kan pak. Uiteindelik is die AMG GT ‘n kar wat ontwerp en gebou is vir verrigting, spoed en dinamiese pad/baangedrag. Daarmee slaag Mercedes AMG met vlieënde vaandels.

Kern syfers:
Model Mercedes-AMG GT S Mercedes-AMG GT
Enjin 3982 cc V8 Bi turbo 3982 cc V8 Bi turbo
Verrigting 375 kW  at 6250 r/min
(6000-6500 r/min*) 340 kW
at 6000 r/min
Maksmimum Wringkrag 650 Nm at 1750-4750 r/min
(1750-5000 rpm*) 600 Nm
at 1600-5000 r/min
Verbruik in ‘n gekombineerde siklus 9.4 l/100 km 9.3 ℓ/100 km
CO2 uitlate 219 g/km 219 g/km
Topspoed 310kpu 304kpu
Versnelling
0-100 km/h 3.8 sec 4.0 sec
Prys
BTW ingesl, CO₂ uitgesl R1,981,000 R1,642,000