Mercedes C-Coupé

Mercedes C-Coupé

‘n Droom-kar. ‘n Passievolle motor wat jou beweeg, nie net in die letterlike sin van die woord nie, maar ook iets wat visueel jou hartsnare roer. Die tipe voertuig wat ‘n trots is om te besit, of na te aspireer as jy hom nog nie kan bekostig nie. In kort: ‘n Motor waaroor klein seuntjies, mans en vroue sal droom.

 

Dit is wat Mercedes reg gekry het met die nuwe C-Klas Koepee. En ‘n ware koepee is dit, nie net ‘n twee-deur weergawe van die vierdeur sedan nie. ‘n Beeldskone motor, ast’ware ‘n S-Koepee in die kleine.

 

Die C-Koepee deel bakvorm met die C-Klas sedan slegs tot by die A-pilaar. Daarna is die lang, elegante deure met raamlose vensters, die soepel dak met vallende daklyn en die geintegreerde C-pilaar, gekomplimenteer met die sportiewe lyne, pure koepee. Die vering is laat sak met 15mm terwyl die daklyn ‘n hele 40mm laer is as die van die sedan boetie.

 

Daar is aanvanklik drie C-Klas Koepee modelle beskikbaar: Twee petrol modelle en een diesel. Aan die petrol kant doen ‘n tweeliter viersilinder diens met twee kraguitsette. In die C200 lewer die enjin 135kW en 300Nm, terwyl die C300 model ‘n lewendige 180kW en 370Nm uitskop (wat beteken ‘n lopie van 0-100km/h neem slegs 6 sekondes). Die diesel model is ook toegerus met ‘n tweeliter enjin wat ‘n skafilike 125kW en 400Nm lewer. Kraglewering na die wiele geskiet deur ‘n sesspoed-handrat of ‘n sewespoed outokas (standaard op die C300), of Mercedes se negespoed outokas opsioneel beskikbaar op die diesel model.

 

Tydens die bekendstellingsrit oor die Suid kaapse passe was dit opmerklik dat die C-Koepee van die intree C200 model ‘n besonderse motor is. Die karakter van die enjin in samewerking met die 7G-Tronic ratkas verleen hom perfek tot ‘n gran turismo tipe motor, ‘n luukse verrigting motor wat lang afstande met gemak kafdraf. Die vinniger, meer sportiewe modelle kom natuurlik met meer adrenalien verpak, maar die intree model is reeds so goed dat dit nie soos die afskeep model van die reeks voel nie.

 

So, wie koop die motor? Die keuse tussen die koepee en sedan weergawe gaan neerkom op of jy die ekstra deure en

kopspasie benodig. Die sedan is meer prakties as jy ‘n gesin moet karwy, maar met die C-Koepee se skerp en sportiewe stilering sou my hart dalk net my kop kon oorreed… Wie wil nou nie in ‘n sportiewe motor ry nie? Nee, dis die selfsugtige keuse. As jy ‘n gesin moet inlaai is die Wêreld Motor van die Jaar C-Klas Sedan jou motor. Dis eers later as jy verby die stadium van kinders karwy is en die vryheid het om ‘n meer sportiewe keuse te maak, waar die C-Koepee loshande die keuse sal wees. Intussen moet jy maar droom…

 

 

Mercedes-Benz C200 Coupe: R552 924

Mercedes-Benz C220 d Coupe: R592 700

Mercedes-Benz C300 Coupe: R664 518

Pryse sluit in ‘n 6-jaar / 100 000km onderhoudsplan.

 

1 2 3 4