Mercedes GLA vind baat by lekker opknapping Artikel: Charlen Raymond

Mercedes GLA vind baat by lekker opknapping Artikel: Charlen Raymond

Mercedes-Benz het sy GLA sportnuts ʼn opknapping vir die 2017 modeljaar gegee, en ook ietwat van ʼn nuwe persoonlikheid. Die GLA het in 2013 sy verskyning in Suid-Afrika gemaak en het, saam met die A-Klas en CLA, sommer vinnig aanklank by kopers gevind. Die veranderinge wat hierdie Merc by baatvind is nie net kosmeties nie, maar ook op die enjin en ratkas front. Dis ʼn versameling van klein aanpassings wat in die geheel ʼn lekker groot uitwerking op die voertuig se algehele persona het.

Klein aanpassings

Die GLA se sierrooster is nou meer prominent en in sekere modelle is dit behoorlik imponerend. Die ontwerp daarvan verskil ook van model tot model. Die hoofligte is ook verander wat die voertuig ʼn meer volwasse aansig gee. Agterlangs is die plooie stywer getrek vir ʼn fermer houding.

Die GLA is beskikbaar met drie vering opsies: die standaard Comfort, Off-road en ook Sport. Comfort is die verstekopsie, terwyl Off-road op dieselfde basis gebou is, maar die rithoogte word met 30mm verhoog en die bestuursposisie is ook bietjie hoër. By Sport is rithoogte weer bietjie laer. Met al drie opsies is Adaptive Ride Control beskikbaar, maar dit is ʼn optionele ekstra.

Modelle op die oop pad

Daar is beslis ʼn verbetering in die GLA se padgedrag teenoor die uitgaande model, wat te wagte is in ʼn nuwe voertuig. Modelle wat met die Comfort en Off-road vering toegerus is het ʼn baie gemaklike en absorberende ritgehalte. Met ‘n sagte rit sweef jy behoorlik oor die pad soos mens dit van ʼn Mercedes verwag en die sagte vering raak slaggate baas soos die W123-Mercedes Benz’e van ouds. Hierdie sal die gewildste modelle wees, pasgemaak vir elke-dag ritgenot. Vir diegene wat egter opwinding en verrigting bo ritgehalte prioritiseer is daar die GLA250 en GLA45 AMG.

Die GLA250 is warmer as sy meer praktiese boeties en vervul sy rol onder die AMG baie goed. Bo aan die opgeknapte GLA se voedselketting sit die 45 AMG. Dis ʼn vinnige, geharde stukkie masjienerie wat brand om sy ketels oop te maak wanneer die pad dit toe laat. Dit hop van stilstaan tot 100km/h in 4.4 sekondes en sal teen 250km/h (elektronies beperk) uitasem raak. In Sport+ en Race modusse is die stuuraksie direk en ferm en die uitlaatstelsel se klankbaan ʼn harmonika van oor-emosionele klanke. Wanneer hierdie modusse geaktiveer is is die ritgehalte baie ferm, maar gelukkig kan mens vir alledaagse gebruik dinge bietjie sagter maak met die druk van ʼn knop. In die AMG het die GLA-reeks ʼn properse ou boet wat regstaan om sy spiere te wys en die verfrisde reeks se vakkeldraer te wees.

Pryse is as volg:

GLA 200 R485 400

GLA 250 4MATIC R654 700

Mercedes-AMG GLA 45 4MATIC R856 700

GLA 200 d R513 000

GLA 220 d 4MATIC R592 500