Mercedes GLC Coupe 250d Artikel: Dirk Gallowitz Fotos: Rosalyn van Zyl

Mercedes GLC Coupe 250d Artikel: Dirk Gallowitz  Fotos: Rosalyn van Zyl

Die wedywering in die kompakte leefstylvoertuig segmente is steeds witwarm. Tog word daar steeds met nuwe nisvoertuie vorendag gekom om die ewigsoekende honger na markaandeel te probeer stil. BMW het met hul X6 sportaktiwiteitnuts ‘n paar jaar gelede ‘n nuwe segment geskep wat meeste voorspellings verkeerd bewys het en steeds wêreldwyd stewige verkope behaal.

In die gespartel na markaandeel probeer die Duitse trio van Audi, BMW en Mercedes mekaar ook gedurig troef om in die strewe na die topposisie in wêreldwye verkope, die septer te swaai. Deel van die strategie is om voortdurend met nuwe konsepte en modelle kopers van mekaar te probeer rokkel, want met die groeiende gewildheid na aktiwiteitsvoertuie probeer vervaardigers al hoe meer verskillende modelle aan kopers  bied. BMW het begin met die X5 en toe die kleiner X3 om later ‘n nog kleiner X1 die lig te laat sien. Audi en Mercedes het gevolg met die aanvanklike ML reeks (nou bekende as die GLE) as die X5 se teenvoeter. Audi se groot Q7 het in sy eie nis gebaai tot Merc hul fris GL bekendgestel het. Vandag het hierdie drie vervaardigers elkeen ‘n model as teenvoeter vir wat die ander aan die mark bied en is daar by elkeen omtrent ‘n model vir elke moontlike nismark.

 

Ons toetskar, ‘n Mercedes GLC Koepee, is in wese op Merc se C-klas geskoei en ding direk mee met BMW se X3 en Audi se Q5. Toe BMW die X4 bekendstel, wat eintlik die koepee van die X3 is, was Merc gou om die GLC Koepee as sy teenvoeter in die mark te stoot. Behalwe vir ‘n meer sportiewe voorkoms as die GLC sportnuts, is die koepee eintlik maar net ‘n GLC  met ‘n koepee-agtige dakontwerp – kajuit ontwerp en toerustingvlakke is dieselfde.  Die GLC Koepee se meer as billike grondvryhoogte en vierwielaandrywing met komplimente van Mercedes se 4Matic sisteem, maak die buks egter heel gemaklik op die grond, veral ons toetsmotor wat met die opsionele lugveringstelsel toegerus was, wat die motor verder bo die grond kan oplig.

 

Ons toetsmodel was die GLC 250d Koepee, toegerus met ‘n 2.1liter turbodiesel enjin en gekoppel aan Mercedes se nuwe generasie 9G outomatiese ratkas. 

 

Die GLC Koepee vertoon aggressief, maar die dak wat laag na agter swiep beklemtoon die Koepee se sportiewe voorkoms. Voor domineer die groot Mercedes kenteken die sierrooster met die vervaardiger se unieke diamantontwerp afwerking. Groot luginlate onder laag voor in die neus dra by tot die forse vertoon, terwyl die bak wyd oor die groot 19” sierwiele met fris rubber (235/55) span om die sportiwiteit van die GLC verder te beklemtoon. Ons toetsmodel was afgewerk in Mercedes se bekende silwer kleur en was ook toegerus met ‘n donker panoramiese glasdak wat mooi by die buiteafwerking  vertoon het.

 

Binnekant is die kajuit tipies Mercedes en soortgelyk aan die gewone GLC. Ons toetsmotor se bekleedsel was swart leer met bruin houtafwerkings wat pragtig, luuks en smaakvol vertoon het. Kies jy egter die AMG-Line afwerkingpakket, kry jy ‘n kajuit wat baie meer sportief vertoon. Daar is gemaklik sitplek vir vyf volwassenes met genoeg ruimte vir bene en skouers, maar die koepee dak maak kopruimte agter ‘n probleem vir die langeriges onder ons. Die laairuimte kan 500 liter se baggasie sluk en die agterste sitplekke kan platvou om dit te kan akkommodeer, maar inlaai met die skuinsdak en agterklapontwerp is nie so maklik en prakties soos met die gewone GLC nie. Dan weer, jy koop die GLC Koepee omdat dit mooi en stylvol is en daarom betaal jy die bykans R100,000-00 premie bo die normale GLC. As jy prakties soek, koop die gewone GLC.

 

Die GLC Koepee kom met ‘n goedtoegeruste kajuit en baie van Mercedes se innoverende en slim tegnotruuks. Enigiets wat jy in die C-Klas sedan kan kry is beskikbaar uit ‘n baie lang lys van opsionele ekstras om jou GLC Koepee na smaak toe te rus. Mercedes se hoë definisie kleur infoskerm middel bo in die voorpaneel bied meeste, indien nie alle, funksies vir motor- en ritinfo, navigasie, klank, musiek, telefoon en ook ‘n reeks innoverende kommunikasiefunksies afhangend van watter opsies jy in jou GLC Koepee spesifiseer. Die parkeerkamera en 360˚ beelde word ook op die skerm vertoon wanneer jy die motor in tru-rat skakel.

 

Ons toetsmodel was ook toegerus met Mercedes se “semi-autonomous” bestuurstelsel wat jou toelaat om jou hande van die stuur te haal vir so 30 sekondes en die motor daartydens self “bestuur” en die pad volg. Die stelsel sal jou waarsku as jy die bane in die pad “verlaat”, terwyl die stelsel ook die blindekolle in jou sig monitor en jou waarsku as daar voertuie inbeweeg.

 

Enjin piekverrigting word aangegee as 150kW met ‘n fris 500Nm se maksimum wringkrag. Die resultaat is heerlike en gladde verrigting veral in stadsverkeer en met die 9-gang outakas is die enjin omtrent altyd in sy ideale wringkragkurwe. Verbysteekversnelling teen ooppadspoed  is moeiteloos met die 9-gang ratkas se oorskakelings so glad en soomloos, dit is slegs merkbaar as die toereteller se naald af en op beweeg. Van toereteller gepraat, teen 120kpu snelwegry, luier die dieselenjin in toprat teen 1700rpm!

Gevolglik is brandstofverbruik van tussen 6 en 7liter/100km haalbaar in ’n normale gemengde siklus wat uitstekend is vir ‘n SUV met permanente vierwieltrek.

 

Op die pad het die GLC koepee beindruk met ritgehalte, hantering en paddinamika, ten spyte van die paprywiele wat soms ritgehalte negatief kan beinvloed. Ons toetsmotor was toegerus met Mercedes se opsionele aanpasbare veerstelsel wat verstellings aan die ritmodusse en veerstelsel van binne die kajuit toelaat. Die stelsel laat die bestuurder toe om te kies tussen “Comfort”, “Sport” en “Sport Plus” wat die veerstelsel, enjin en versneller reaksies aanpas asook die ratkas se oorskakelings stadiger of vinniger maak. In “Comfort” is die rit sag en gemaklik met die ratskakelings en ander dinamiese verstellings normaal, terwyl in “Sport Plus” die opsie is vir wanneer jy  soos ‘n wafferse tydrenjaer oor die padoppervlakte wil skuif!

 

In geheel is die GLC Koepee ‘n heerlik gemaklike voertuig om te bestuur.  Die voertuig hanteer en voel meer soos ‘n sedanmotor as ‘n SUV en is boonop mooi daarby.