Mercedes SL / SLC Artikel en Fotos: Johann van Tonder

Mercedes SL / SLC Artikel en Fotos: Johann van Tonder

Die wêreld mag dalk besig wees om te herstel van ‘n resessie, maar as jy produkte het wat die hart vinniger laat klop sukkel jy lyk my nie met verkope nie. Dis juis hier waar die Mercedes “Dream Cars” die hartsnare tokkel, veral as AMG die modelle verder omtower het! Gepraat van AMG, die afdeling wat verantwoordelik is vir die warm weergawes van die Duitse motors stoom voort en gaan waarskynlik hierdie jaar, in hul vyftigste bestaansjaar, vir die eerste keer 100 000 eenhede aflewer. Twee massiewe mylpale in een jaar.

 

Mercedes-AMG doen iets reg. Wat is hul resep? Wel, deel van hierdie sukses is ikoniese en grensverskuiwende modelle wat die lig gesien het, asook die feit dat AMG weergawes ook in goedkoper modelle uit die Mercedes stal beskikbaar is. Maar vir eers hou ons by die sportmotors. Die SLS en sy opvolger die GT is eksklusief deur AMG ontwerp en gebou, terwyl Mercedes voort bou op die ikoniese SL-modelreeks, asook die die nuwer SLK-reeks wat ondertussen ‘n nomenklatuur verandering ondergaan het en nou die SLC heet. En dis juis die laasgenoemde twee wat Ultimate Drive onlangs onder hande gehad het.

 

Vergeet van stereotipering en veralgemenings. Vergeet van die aanname dat die Mercedes SL vir Pa en die SLC vir Ma is. Vergeet al die dinge, want elk van die modelreekse het ‘n opsie vir Pa én Ma. Aan die intree kant bied die SLC-modelreeks toetrede tot Mercedes sportmotor eienaarskap vanaf so min as R714 600. Daar is drie modelle om van te kies. Beide die SLC200 en SLC300 (wat ons bestuur het) word aangedryf deur ‘n 2-liter turbo petrolenjin, maar met verskillende kraguitsette van 135kW en 180kW onderskeidelik. Die 200 is toegerus met ‘n 6-spoed handratkas, terwyl die 300 spog met Mercedes se 9G-TRONIC outokas. Die vlagskip van die reeks is die SLC43 AMG aangedryf deur ‘n 3.0-liter Bi-Turbo V6 wat ‘n tamaai 270kW en 520Nm ook deur die 9G-TRONIC outokas uitsit.

 

Visueel het die SLC-reeks het nou ‘n groter, aggressiewer voorkoms met ‘n sterk neus en die diamant-sierrooster wat ons vir die eerste keer destyds in die A250 Sport gesien het. Die motor het meer teenwoordigheid, kompleet asof die Mercedes-Benz se baba-sportmotor nou groot geword het. Die kajuit is luuks en gemaklik, met verbasend min wind geraas selfs al is die dak af. Teen 120km/h is ‘n foon oproep met die Bluetooth-koppeling geen probleem nie. Die SLC is nie meer net vir mamma nie. Die kombinasie van sport, spoed, styl en luuksheid sal selfs die Macho’ste man twee keer laat kyk. Die SLC43 AMG verkoop vir R 1 037 400.

 

Die SL-modelreeks aan die ander kant verpersoonlik die ikoniese Mercedes Sportmotor. As dit enigsins binne jou vermoë is, is dit die model wat jy wil hê. Anders as die SLK wat in 1996 bekend gestel is het die SL-reeks ‘n roemryke geskiedenis. Die SL nomenklatuur was vir die eerste keer in 1954 gebruik by die 300 SL “Gullwing” wat uit staanspoor met sy meeudeure ikoniese status gehad het. Om weg te spring met ‘n model soos die 300 SL en dan daardie momentum te behou kan nie maklik wees nie, maar oor die jare het die SL ‘n gesogde model gebly. Selfs Bobby Ewing van Dallas het een gery!

 

Die nuutste SL motors is in 2016 plaaslik bekend gestel en die reeks bestaan uit 4 modelle. Die reeks begin by die SL400 met 270kW and 500Nm uit ‘n 3.0-liter V6 gekoppel aan die 9G-Tronic outokas. Die intree model sal jou R 1 478 200 uit die sak jaag. Die SL500 is toegerus met ‘n 335kW en 700Nm 4.7-liter V8. Die meneer sal jou versnel van 0-100kpu in 4,3 sekondes en as dit steeds nie vinnig genoeg is nie, is daar nog die twee verrigting modelle: Die SL63 AMG (wat ons bestuur het) en die SL65 AMG.

 

Die SL63 AMG is toegerus met ‘n 5.5-litre Bi-Turbo V8 (430kW en 900Nm) en die AMG SpeedShift MCT 7-speed ratkas, terwyl die SL65 AMG met ‘n aardskuddende 6-litre Bi-Turbo V12 (463kW en 1000Nm) en die AMG SpeedShift 7G-Tronic ratkas. Die modelle versnel tot 100kpu in 4.1 en 4 sekondes onderskeidelik en word beperk tot 250kpu, behalwe as jy die opsionele “Driver’s Pack” neem, wat die top snelheid dan opskuif na 300kpu.

 

Die kantprofiel van die SL, veral met die dak weggevou is klassiek proporsioneel en tipies “roadster”.  Agter vou die groot geronde ligte om die hoeke met die SL se breë heupe wat styf span oor 19” vyf-speekwiele met die AMG-tipe lugsnoer wat die sportiwiteit van die twee groot uitlaatpype weerskante beklemtoon.

 

Die voorkant kry inspirasie by die legendariese 300SL Panamericana renmotor met die regop sierrooster wat ook Mercedes se diamant ontwerp dra. Die enjinkap is met aggressiewe stilering sportief met kosmetiese luginlate weerskante agter die voorwiele om verdere sportiwiteit aan die voorkoms te gee.

 

Om hierdie Mercedes sportmotors te bestuur was ‘n ongelooflike bestuurservaring. Die driepuntster se spogmodelle is meer as net motors. Dit bied ‘n byna boheemse gevoel van status en roem, daai gevoel wat jy van gedroom het toe jy as klein seuntjie sulke motors se plakkate teen jou muur geplak het. Hoe sit mens ‘n prys op ‘n droom?