Mercedes takel die SUV segment behoorlik Nuwe GLC, GLE en G-klas stel nuwe standaarde Deur Dirk Gallowitz

Mercedes takel die SUV segment behoorlik Nuwe GLC, GLE en G-klas stel nuwe standaarde Deur Dirk Gallowitz

Mercedes takel die SUV segment behoorlik
Nuwe GLC, GLE en G-klas stel nuwe standaarde

Deur Dirk Gallowitz

In China word jy gebore in ‘n jaar wat blykbaar jou persoonlikheid, gedragmanifistasies en ook sekere karaktereienskappe beïnvloed. Anders as westerlinge wat onder ‘n sterreteken gebore word, is jy ‘n telg van die “Jaar van die Draak, of Hond of Vis, of watter gogga ook al. Dit is ook interessant hoe die geskiedenis sy eie ritme vind in spesifieke jare, waar hoogte- en laagtepunte sekere jaartalle in die geskiedenisgeskrifte verewig.

So dink ons aan ‘’94 as ‘n katarsisjaar vir Suid Afrika, met die droom van ‘n reënboognasie wat in ’95 met die rugbywereldbeker op die kruin geskitter het. Vir Koningin Elizabeth was ’98 ‘n “annus horribilis” met die tragiese ongeluk en afsterwe van die wêreld se lieflingprinses.

2015 is Mercedes se jaar van die “Es-joe-wee” en die motormark moet behoorlik bontstaan soos wat nuwe leefstylmodelle met die driepunt stêr bekendgestel word. So pas het ons saam met Mercedes in die Namibiese woestyn die eerste bekendstelling van die nuwe GLC-klas bygewoon. Die opgekikkerde G-Klas en GLE (vervang die ou M-Klas) is terselfdertyd bekendgestel

Merc_SUVs

Kom ons begin by die nuwe GLC-klas. Die GLC is ‘n nuwe model in die Mercedes SUV modelreeks en vervang in werklikheid die GLK wat nooit in regterstuur formaat vervaardig en na Suidelike Afrika gebring is nie. Die GLC is ‘n medium grootte luukse stoftrapper wat losweg op die C-Klas geskoei is en teiken veral die BMW X3 en Audi Q5. Tans is vier modelle beskikbaar waarvan twee petrol en twee dieselenjin variante. Almal toegerus met Merc se 4Matic viertrekstelsel wat deur ‘n nuwe Mercedes 9G-tronic outomatiese ratkas krag na die grond toe stuur.

Die GLC 220d en GLC 250d modelle gebruik beide Mercedes se beproefde en ekonomiese 2,1liter turbodieselenjin, maar is geprogrammeer vir verskillende kraglewerings. Die petrolmodelle bied die keuse tussen ‘n GLC 250 en ‘n GLC 300.

Van buite tref die ontwerp met ‘n dominante vooraansig wat die tipiese tradisionele Mercedes SUV voorkoms eggo waar sterk lyne en ‘n fors sierrooster die ronde Mercedes kenteken prominent vertoon.
Volgens Mercedes verteenwoordig die GLC ‘n verdere tree vorentoe in die implementering van hul nuwe SUV-filosofie waar ‘n mooi voorkoms en luukse bestuursgenot voorrang geniet bo veldry vermoëns, maar tog uitstekend gekombineer word met indrukwekkende dinamika en verrigting op die pad en veral wanneer daar op grondpaaie en in die veld gery word. Die agterkant van die GLC met die nuwe ligontwerp is tans vir my die mooiste van al die huidige modelle in die Mercedes SUV modelreeks. Goeie grondvryhoogte (met die opsionele veldrypakket en opsionele lugvering staan die GLC se pens 227mm bo die grond) en lekker groot wiele laat die GLC heel tuis in die veld lyk.

Binnekant is daar duidelike trekke na die nuwe C-Klas met ‘n fees van tegnologie en ander luukse toerusting. Die kajuit se uitleg, afwerking, materiale en vakmanskap is soos met alle nuwe generasie Mercedes motors van uitstaande gehalte. Dit is vir my treffend hoe Mercedes die ambiaans van hoë vlakke van luuksheid in sy top passasiersmotors ook in sy laer modelle kan repliseer. Die kajuit van die GLC is verbasend ruim met genoeg been-, kop- en skouerspasie vir vier fris 6-voet plus manne.
Die GLC is in standaardvorm omvattend toegerus met genoegsame katoetertjies om die meeste kopers tevrede te stel. Kopers kan uit die lys van opsionele toerusting hul GLC na hartelus toerus as die bankbestuurder saamstem.

Met Mercedes se “Dynamic Select”-stelsel kan jy kies uit “Eco”, ”Comfort”, “Sport”, “Sport+” of “Individual” om by jou bestuurstyl te pas. Vir die entoesiastiese bestuurder wat graag die GLC se paddinamika en goeie hantering wil ervaar, kies “Sport” of selfs “Sport+” en die ratkas, “AGILITY CONTROL” -veerstelsel (of selfs die opsionele ekstra “AIR BODY CONTROL”- stelsel) en ander veiligheidstelsel sal saamspeel om jou te laat dink jy staan ‘n kans teen Lewis Hamilton om die baan.
Wil jy egter vir maksimum brandstofekonomie ry, kies liefs die “Eco” of “Comfort” modusse.
Meeste van Mercedes se baanbreker veiligheidstelsels wat beskikbaar is in die C-, E- en S-klas motors is ook beskikbaar vir die GLC. “COLLISION PREVENTION ASSIST PLUS, Crosswind Assist, Headlamp Assist” en ook “ATTENTION ASSIST” kom standaard as jy ‘n GLC koop. Die opsionele “Driving Assistance Plus”-pakket kom met “DISTRONIC PLUS” wat weer “Steering Assist” en” Stop&Go Pilot, PRE-SAFE® Brake” (wat voetgangers vroegtydig “raaksien” en dan alarm maak), “Cross-Traffic Assist, Active Blind Spot Assist, Active Lane Keeping Assist” en “PRE-SAFE® PLUS”, om maar net sommige van die stelsels te noem.

Tydens die bekendstelling in Namibië het Mercedes ons na die asemrowendmooi Namib woestyn buite Swakopmund en Walvisbaai geneem om die modelle se sandry vermoë te demostreer. My aanvanklike twyfeling na jare se sandry ervaring (en sukkel!) of die luukse swaar waens dit sal kan doen, het gou plek gemaak vir bewondering. Met die regte banddruk, genoeg momentum en goeie gidse, was die duine toe uiteindelik ‘n heerlike speelplek vir die GLC se 4Matic viertrekstelsel. Ek en my spanmaat het nooit een keer vasgeval nie.

Ons het ook ‘n stofstorm, ‘n donderstorm en ‘n uitdagende roete deur ‘n rotsagtige “Canyon” met ‘n droë rivierbed met die GLC oorwin! My advies aan enigiemand wat graag met sy GLC vir Livingston of Holgate wil gaan nadoen is om die opsionele “Off-road Engineering Package” te kies. Dit bied vyf veldry modusse en laat die GLC se pens 20mm hoër bo die grond staan. Die onderkant van jou GLC word met hierdie pakket ook meer beskerm en die neus en agterkant word aangepas vir die meer uitdagende veldrywerk. Ek glo egter nie eienaars van die luukse waens sal dit juis waag waar ons die motors se vermoëns tot die uiterste gaan beproef het nie.

Mercedes Benz GLC -Klas gaan sterk kompetisie bied vir die BMW X3, Audi Q5 en ook Range Rover se Evoque. Die Evoque is na my mening die enigste teenstander wat die GLC sal klop in die veld, maar dan is die GLC na my mening weer die wenner met ‘n veel beter kajuit en rit as die kompetisie. Die waarde wat Mercedes se drie-punt stêr toevoeg om jong moderne beroepslui, vir wie dit belangrik is om ‘n suksesvolle beeld na buite te straal, gaan heelwat kopers na die GLC-Klas lok.

Die nuwe Mercedes-Benz GLC: prys en enjin spesifikasies:
GLC 220 d 4MATIC 125 kW – 400 Nm – R599 900
GLC 250 d 4MATIC 150 kW – 500 Nm – R619 900
GLC 250 4MATIC 155 kW – 350 Nm – R604 900
GLC 300 4MATIC 180 kW – 370 Nm – R654 900
Die GLC 4MATIC kom standaard met ‘n 6-jaar/100 000 km Premium Drive onderhoudsplan.
(Pryse sluit 14% BTW in maar sluit CO2 taks uit)
Die bekendstelling van die GLC was deel van ‘n groter Mercedes Benz SUV bekendstelling waar die opgekikkerde en formidabele nuwe G-Klas asook die GLE-Klas wat nou die M-Klas vervang, aan die media getoon is. Die uitgaande ML is nou in sy middellewe-kuur en het sommer met die 2016 ‘n nuwe naam gekry en sal vervolgens as die GLE-Klas bekend staan en is beskikbaar met drie petrol enjins en twee diesels. Die GLE 400 4Matic het ‘n 3liter bi-turbo V6 petrolenjin en lewer 245kW en 480Nm se piekkrag. Brandstofverbruik word aangegee as 8,8- 92 l/100km. Die 0-100kpu lopie neem 6,1 sekondes en topspoed is 215kpu.

Die GLE 500 4matic gebruik Merc se bestaande bi-turbo 4,6 liter V8 petroloond en lewer 320kW en 700Nm se pieksyfers. Die 0-100kpu lopie neem slegs 5,3 sekondes en topspoed is 269kpu.
As jy mooi ry behoort jy 11 -11,5liter/100km se brandstof te gebruik.
Beide modelle kom met Mercedes se 7G-Tronic ratkaste.
Tydens die bekendstelling kon ek so 160km se goeie grondpaaie met die GLE 500 kafdraf. Hantering, padhouvermoë en stabiliteit was uitsonderlik vir so ‘n groot en swaar SUV. Die heerlike V8 het gemaklik en padvas op hoë spoed gevoel. Dit is tans my gunsteling enjin in Mercedes se uitgebreide SUV modelle.
Die AMG GLE 63s 4Matic is die topmodel in die GLE modelreeks en kom toegerus met ‘n 5,5 liter bi-turbo V8 wat 430kW en 760Nm lewer. Die 0-100kpu lopie is ‘n verstommende 4,2 sekondes en die topspoed word elektronies by 280kpu beperk. Die AMG GLE 63s kom met ‘n AMG Speedshift 7G-TRONIC ratkas wat ook oor ‘n ”M” modus beskik.

Twee diesel modelle is ook beskikbaar.
Die GLE 250d 4Matic word aangedryf deur ‘n viersilinder diesel turbo enjin wat 150kW en 500Nm se krag lewer. Brandstofverbruik word aangegee as slegs 5,7 -5,9l/100km met 50ppm diesel as jy ligvoet ry.
Die 9G-Tronic outokas van Mercedes laat toe dat die diesel die 0-100kpu lopie in 8,6 sekondes afdraf met ‘n topspoed van 210kpu.
Die GLE 350d 4Matic kom met ‘n 190kW 620Nm 3.0l V6 turbodiesel en is ook toegerus met die 9G-Tronic outomatiese ratkas. Die 0-100kpu lopie neem 7,1 sekomdes en topspoed is 225kpu.
Die GLE-Klas is beskikbaar met ‘n opsionele veldry laestrek rat en ‘n ewenaarslot tussen die aste.

Soos beskikbaar met alle Mercedes-Benz passasiermotors kom die GLE-klas ook standaard met die 6jr/100000km PremiumDrive instandhoudingsplan.

GLE 250 d 4MATIC R863 000
GLE 350 d 4MATIC R964 000
GLE 400 4MATIC R959 000
GLE 500 4MATIC R1 166 000
(Pryse sluit 14% BTW in maar CO2 belasting is uitgesluit)

Die legendaries G-Klas is ook opgeknap vir die 2016 modeljaar, maar bied nou slegs twee modelle.

Die G350d se V6 turbodiesel kom nou met meer krag en lewer 180kW en 600Nm se krag. Brandstofverbruik is volgens Mercedes verbeter vanaf 11,2l/100km na 9,9l/100km. Verder versnel die nuwe G350d die 0-100kpu lopie in slegs 8,8 sekondes teenoor die vorige model se 9,1 sekondes. Prys is R1,418,000-00
Die tomodel in die G-klas is die AMG G63 en brul nou met 420kW se piekkrag teenoor die ou model se 400 kW en 760Nm se wringkrag.
Met die 5,5 V8 Bi-turbo enjin kan die warm “G” die 0-100kpu in ‘n verbysterende 5,4sekondes afblits!
Prys beloop R2,156,000-00.