Nissan NP200 Met Ys ja!

Nissan NP200 Met Ys ja!

Artikel en Fotos: Johann van Tonder

 

Die Nissan NP200 is reeds ‘n ou bekende op ons paaie. Hy is opgegradeer in 2016, maar soos met enige model is dit belangrik om ‘n voertuig vars en nuut te hou. Daarom het Nissan onlangs, net betyds vir die Desember vakansie, ‘n spesiale uitgawe van die NP200 bekend gestel: Die NP200 ICE.

 

Beskikbaar in twee kleure, Silwer of Blou, kan die ICE model gekies word met beide die 1.6 Petrol enjin of Nissan se gewilde 1.5 dCi diesel enjin. Maar die spesiale uitgawe NP200 bied darem meer as net ‘n koel kleur. Die ICE word in beperkte getalle gebou in Rosslyn Pretoria en is die enigste NP200 met fabriek-geïnstalleerde dagryligte. Daarby is daar ook ‘n aluminium afwerking sportstaaf en klein bosbreker. Agter kry die bak (met 16 hegpunte) rubber behandeling asook ‘n seiltjie en boonop is daar trappe om die laaislag te vergemaklik. Getinte ruite en 15-duim allooiwiele rond die prentjie af.

 

Binnelangs is daar ook verbeter. Daar is leerkombinasie sitplekke (kompleet met “ICE” stiksel in die ruglening), rubber matte vir die maklik skoonmaak en die klankstelsel bied handvrye Bluetooth-koppeling en klankstroming, asook ‘n USB-poort. Twee lugsakke en ABS-remme kom as standaard.

 

Die 1.6 petrol weergawe lewer 64kW en 128Nm wringkrag, met ‘n verbruiksyfer van 8.1L/100km. Die 1.5 Turbodiesel lewer 63kW en 200Nm en is heelwat meer ekonomies met ‘n verbruiksyfer van slegs 5.1L/100km. ‘n Vyfspoed handratkas is standaard vir beide modelle.

Die NP200 bly in wese ‘n werksbakkie, maar die ICE weergawe voeg ‘n leefstyl element by. Dink loodgieter in die week, maar surfer oor die naweek. ‘n Voertuig waarmee jy ewe gemaklik sal werk en ontspan.

 

Pryse is as volg en sluit ‘n 6-Jaar / 150 000km waarborg in:

 

Nissan NP200 ICE 1,6-liter Petrol: R191 900
Nissan NP200 ICE 1,5-liter dCi: R236 900